Dit is nou die tyd
1 Toe die apostel Paulus sy tweede brief aan die Korinthiërs geskryf het, het hy hulle daaraan herinner dat hulle hulle voorgeneem het om hulle medegelowiges in Jerusalem materieel te help. Maar ’n jaar het verbygegaan en hulle het steeds nie die werk voltooi waarmee hulle begin het nie. Hy het hulle dus aangespoor: “Gaan voort en voltooi dit: wees net so gretig om die projek te voltooi as wat julle was om dit te begin.”—2 Kor. 8:11, The New English Bible.
2 Ons almal het al die een of ander tyd vir ons doelwitte gestel. Miskien het ons besluit om ons deelname aan die veldbediening te vergroot, ons broers beter te leer ken, ons vir ’n diensvoorreg te bekwaam of die een of ander swakheid te bowe te kom. Hoewel ons goeie bedoelings gehad het, het ons miskien nie ons voorneme deurgevoer om ons doelwit te bereik nie. Voor ons dit besef het, het weke, maande of selfs jare miskien verbygegaan sonder dat ons enige vordering gemaak het. Is dit dalk nodig dat ons self die raad moet volg om ‘voort te gaan en dít te voltooi’ waarmee ons begin het?
3 Hoe om ons doelwitte te bereik: Dit is maklik om jou voor te neem om iets te doen, maar dit is nie so maklik om dit uit te voer nie. ’n Uitstellery kan enige vordering in die wiele ry. Ons moet tot ’n besluit kom en dan vasbeslote wees om dit sonder versuim deur te voer. Persoonlike organisasie is onontbeerlik. Dit is belangrik dat ons tyd inruim om die taak te voltooi en dan seker maak dat die tyd daarvoor gebruik word. Dit is ’n goeie idee om ’n sperdatum te stel en dan selfdissipline toe te pas om seker te maak dat dit nagekom word.
4 Wanneer ons sukkel om ons doelwitte te bereik, is dit maklik om te redeneer: ‘Ek sal dit later doen.’ Maar ons weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie. Spreuke 27:1 sê: “Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.” Die dissipel Jakobus het gewaarsku dat ’n mens nie te gerus oor die toekoms moet wees nie omdat ‘julle nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.’—Jak. 4:13-17.
5 Aangesien daar soveel afleidings is en ander soveel eise aan ons stel, kan ons ons doelwitte maklik uit die oog verloor. Ons moet ’n doelbewuste poging aanwend om ons doelwitte duidelik voor oë te hou. Dit kan help as ons voortdurend daaroor bid. Dit kan ’n verskil maak as ons diegene wat na aan ons is, vra om ons daaraan te herinner en ons aan te moedig. As ons ’n aantekening opons kalender maak, sal dit ons herinner om op ons vordering te let. ’n Mens moet vasbeslote wees om te doen “soos hy hom in sy hart voorneem”.—2 Kor. 9:7.
6 Oktobermaand bied ons ’n goeie geleentheid om ons op ons doelwitte toe te lê. Ons gaan intekeninge op Die Wagtoring en die Ontwaak! aanbied. Kan ons redelike doelwitte stel om te bereik? Kan ons ons tydskrifverspreiding verbeter? Vir baie is dit ’n redelike doelwit om meer herbesoeke te doen of ’n nuwe Bybelstudie te begin.
7 Dit is onverstandig om belangrike sake uit te stel, aangesien ‘die wêreld verbygaan’ (1 Joh. 2:17). Ons kan nou spesiale voorregte en seëninge in Jehovah se diens geniet. Dit hang van ons af of ons dit gaan benut.