Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 2/15 bl. 8-15
  • ‘Wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die apostels wou weet
  • “DAN” die einde
  • Soos voorspel is, was dit nie al nie
  • Waartoe sou dit lei?
  • “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • “Hierdie dinge moet plaasvind”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die apostels vra vir ’n teken
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die teken van die laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 2/15 bl. 8-15

‘Wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?’

“Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—MATTHEÜS 24:3, NW.

1, 2. Wat toon dat mense in die toekoms belangstel?

DIE meeste mense stel in die toekoms belang. Stel jy ook daarin belang? In sy boek Future Shock het professor Alvin Toffler opgemerk dat daar “skielik ’n geweldige toename in organisasies [is] wat hulle op die bestudering van die toekoms toespits”. Hy het bygevoeg: ‘Ons het die skepping van toekomsgerigte dinksentrums gesien; die verskyning van tydskrifte oor die toekomskunde in Engeland, Frankryk, Italië, Duitsland en die Verenigde State; die toename in universiteitskursusse om te leer voorspel wat die toekoms inhou.’ Professor Toffler het tot hierdie slotsom gekom: “Niemand kan natuurlik in die absolute sin ‘weet’ wat die toekoms inhou nie.”

2 Die boek Signs of Things to Come sê: “Handlesery, kristalkykery, sterrewiggelary, die lees van kaarte [en] I Tsjing is alles minder of meer ingewikkelde tegnieke om ons ’n idee te probeer gee van wat ons bepaalde toekoms moontlik inhou.” Maar pleks van ons tot mensemetodes te wend, is dit beter om ons tot ’n betroubare bron—Jehovah—te wend.

3. Waarom is dit gepas dat ’n mens jou tot God wend vir kennis oor die toekoms?

3 Die ware God het gesê: “Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur” (Jesaja 14:24, 27, NAV; 42:9, NAV). Ja, Jehovah kon die mensdom raad gee oor wat gaan gebeur, en hy het dikwels mense as woordvoerders gebruik. Een van hierdie profete het geskryf: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7, 8; 2 Petrus 1:20, 21.

4, 5. (a) Waarom kan Jesus ons met betrekking tot die toekoms help? (b) Watter saamgestelde vraag het sy apostels hom gevra?

4 Jesus Christus was God se belangrikste profeet (Hebreërs 1:1, 2). Kom ons vestig nou die aandag op een van Jesus se sleutelprofesieë wat dinge voorspel wat tans rondom ons gebeur. Hierdie profesie gee ons ook insig in wat binnekort gaan gebeur wanneer die huidige goddelose stelsel tot ’n einde kom en God dit met ’n aardse paradys vervang.

5 Jesus het bewys dat hy ’n profeet was (Markus 6:4; Lukas 13:33; 24:19; Johannes 4:19; 6:14; 9:17). Dit is dus verstaanbaar waarom sy apostels hom, toe hulle saam met hom op die Olyfberg gesit en oor Jerusalem uitgekyk het, oor die toekoms gevra het: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—Mattheüs 24:3, NW; Markus 13:4.

6. Wat is die verband tussen Mattheüs 24, Markus 13 en Lukas 21; en in watter vraag moet ons veral belangstel?

6 Jy sal hulle vraag en Jesus se antwoord in Mattheüs hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 vind.a Hierdie verslae vul mekaar in baie opsigte aan, maar hulle is nie identies nie. Net Lukas meld byvoorbeeld ‘pessiektes op verskillende plekke’ (Lukas 21:10, 11; Mattheüs 24:7, NAV; Markus 13:8). Dit is logies dat ons sal vra: Het Jesus gebeure voorspel wat net in sy hoorders se lewe sou plaasvind of het hy ook ons tyd sowel as die dinge wat die toekoms vir ons inhou in gedagte gehad?

Die apostels wou weet

7. Waaroor het die apostels in die besonder gevra, maar wat was die omvang van Jesus se antwoord?

7 Net ’n paar dae voor hy doodgemaak is, het Jesus gesê dat God Jerusalem, die Jode se hoofstad, verwerp het. Die stad en sy pragtige tempel sou verwoes word. Party van die apostels het toe vir ’n ‘teken van Jesus se teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge’ gevra (Mattheüs 23:37–24:3, vgl. NW). Aangesien hulle nie die omvang begryp het van wat voorgelê het nie, het hulle natuurlik hoofsaaklik die Joodse stelsel en Jerusalem in gedagte gehad. Maar toe Jesus hulle geantwoord het, het hy baie verder gekyk as die dinge wat gebeur het tot en met die jaar 70 G.J., toe die Romeine Jerusalem vernietig het.—Lukas 19:11; Handelinge 1:6, 7.

8. Wat was sommige van die dinge wat Jesus voorspel het?

8 Soos jy in die drie Evangelieverslae kan lees, het Jesus gepraat van nasie wat teen nasie sal opstaan en koninkryk teen koninkryk, sowel as van hongersnode, aardbewings, verskriklike dinge en tekens van die hemel. In die jare tussen die tyd toe Jesus hierdie teken gegee het (33 G.J.) en toe die vernietiging van Jerusalem plaasgevind het (66-70 G.J.), sou valse profete en valse Christusse hulle verskyning maak. Die Jode sou die Christene vervolg wat Jesus se boodskap verkondig.

9. Hoe is Jesus se profesie in die eerste eeu G.J. vervul?

9 Hierdie kenmerke van die teken het wel voorgekom, soos die geskiedskrywer Flavius Josephus bevestig. Hy skryf dat valse Messiasse nog voor die Romeinse aanval oproer verwek het. Daar was verskriklike aardbewings in Judea en elders. Oorloë het in baie dele van die Romeinse Ryk uitgebreek. Was daar groot hongersnode? Ja, daar was inderdaad. (Vergelyk Handelinge 11:27-30.) Wat van die Koninkrykspredikingswerk? Teen 60 of 61 G.J., toe die boek Kolossense geskryf is, het baie in Afrika, Asië en Europa “die hoop van die evangelie” van God se Koninkryk gehoor.b—Kolossense 1:23.

“DAN” die einde

10. Waarom moet ons van die Griekse woord toʹte kennis neem, en waarom is dit belangrik?

10 In sekere opsigte het Jesus toekomstige gebeure beskryf in die volgorde waarin hulle sou plaasvind. Hy het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word . . . en dan sal die einde kom.” Afrikaanse Bybels gebruik dikwels die woord “dan” bloot met die betekenis van “gevolglik” of “maar” (Markus 4:15, 17, NW; 13:23, NW). Maar in Mattheüs 24:14 is “dan” op die Griekse bywoord toʹte gegrond.c Kenners van Grieks verduidelik dat toʹte ’n “aanwysende bywoord van tyd” is wat gebruik word “om iets in te lei wat in tydsorde daarop volg” of “om ’n daaropvolgende gebeurtenis in te lei”. Gevolglik het Jesus ’n Koninkrykspredikingswerk voorspel, en dan (‘daarna’ of ‘daaropvolgend’) sou “die einde” kom. Watter einde?

11. Hoe het Jesus die aandag gevestig op gebeure wat regstreeks met die vernietiging van Jerusalem verband gehou het?

11 Een vervulling van Jesus se profesie word aangetref in die gebeure wat die einde van die Joodse stelsel voorafgegaan het. Die oorloë, aardbewings, hongersnode en ander dinge wat Jesus voorspel het, het oor ’n tydperk van drie dekades plaasgevind. Maar as ons by Mattheüs 24:15, Markus 13:14 en Lukas 21:20 begin, lees ons van gebeure wat sou plaasvind wanneer die vernietiging op hande, reg voor die deur, was.—Sien die enkelstippellyn op die tabel.

12. Hoe was die Romeinse magte betrokke by die vervulling van Mattheüs 24:15?

12 In antwoord op ’n Joodse opstand in 66 G.J. het die Romeine onder Cestius Gallus teen Jerusalem opgeruk en hierdie stad omsingel wat deur die Jode as heilig beskou is (Mattheüs 5:35). Ondanks Joodse teenaanvalle het die Romeine die stad met geweld binnegegaan. Sodoende het hulle ‘in die heiligdom begin staan’, soos Jesus in Mattheüs 24:15 en Markus 13:14 voorspel het. Toe het iets verbasends gebeur. Hoewel die Romeine die stad omsingel het, het hulle onverwags teruggetrek. Die Christene het onmiddellik besef dat Jesus se profesie in vervulling begin gaan, en die terugtrekking van die magte het hulle die geleentheid gebied om uit Judea tot in die berge oorkant die Jordaan te vlug. Die geskiedenis sê dat hulle dit gedoen het.

13. Waarom kon Christene Jesus se waarskuwing om te vlug, gehoorsaam?

13 Maar waarom sou enigiemand moes vlug as die Romeine van Jerusalem af weggetrek het? Jesus se woorde het getoon dat gebeure bewys het ‘dat die verwoesting van Jerusalem naby was’ (Lukas 21:20). Ja, verwoesting. Hy het ’n “verdrukking” voorspel ‘soos daar van die begin af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie’. Ongeveer drie en ’n half jaar later, in 70 G.J., het Jerusalem wel “groot verdrukking” gely wat deur die Romeinse leërs onder generaal Titus oor hulle gebring is (Mattheüs 24:21; Markus 13:19). Maar waarom sou Jesus hierdie verdrukking beskryf as een wat groter sou wees as enigeen wat voorheen plaasgevind het of daarna sou plaasvind?

14. Waarom kan ons sê dat wat met Jerusalem in 70 G.J. gebeur het ’n “groot verdrukking” was soos daar nog nooit gewees het en ook nooit daarna was nie?

14 Jerusalem is in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs geplunder, en die stad het in ons eeu verskriklike gevegte beleef. Maar wat in 70 G.J. gebeur het, was ’n groot verdrukking in ’n unieke sin. In ’n veldtog van sowat vyf maande het Titus se krygers die Jode verslaan. Hulle het sowat 1 100 000 Jode om die lewe gebring en byna 100 000 in gevangenskap weggevoer. Daarbenewens het die Romeine Jerusalem verwoes. Dit het bewys dat die Joodse stelsel van aanbidding wat eers goedgekeur was, en waarvan die tempel die middelpunt was, vir goed geëindig het (Hebreërs 1:1, 2). Ja, die gebeure van 70 G.J. kon tereg beskou word as ’n ‘verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af nie [vir daardie stad, volk en stelsel] gewees het en ook nooit weer sal wees nie’.—Mattheüs 24:21.d

Soos voorspel is, was dit nie al nie

15. (a) Watter soort gebeure het Jesus voorspel daar ná die verdrukking van Jerusalem sou wees? (b) Tot watter gevolgtrekking moet ons met die oog op Mattheüs 24:23-28 kom ten opsigte van die vervulling van Jesus se profesie?

15 Jesus het egter nie sy voorspelling tot die verdrukking van die eerste eeu beperk nie. Die Bybel toon dat baie dinge ná daardie verdrukking sou gebeur, soos aangedui deur die gebruik van toʹte, oftewel “dan”, in Mattheüs 24:23 en Markus 13:21. Wat sou in die tydperk ná 70 G.J. gebeur? Ná die verdrukking van die Joodse stelsel sou nog valse Christusse en profete hulle verskyning maak. (Vergelyk Markus 13:6 met 13:21-23.) Die geskiedenis bevestig dat daar deur die eeue sedert Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. wel sulke mense was, hoewel hulle nie mense mislei het wat diep geestelike insig gehad het en wat werklik na die “teenwoordigheid” (NW) van Christus uitgesien het nie (Mattheüs 24:27, 28). Hierdie gebeure ná die groot verdrukking van 70 G.J. voorsien nietemin een aanduiding dat Jesus verder as daardie verdrukking gekyk het wat slegs ’n eerste vervulling was.

16. Watter aspek voeg Lukas 21:24 by Jesus se profesie, en van watter belang is dit?

16 As ons Mattheüs 24:15-28 en Markus 13:14-23 met Lukas 21:20-24 vergelyk, vind ons ’n tweede aanduiding dat Jesus se voorspelling verder as die vernietiging van Jerusalem gestrek het. Hou in gedagte dat net Lukas pessiektes gemeld het. Ook net hy het hierdie deel met Jesus se woorde afgesluit: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die [“vasgestelde”, NW] tye van die nasies [“tye van die Heidene”, King James Version] vervul is”e (Lukas 21:24). Die Babiloniërs het die Jode se laaste koning in 607 v.G.J. verwyder, en sedertdien word Jerusalem, wat God se Koninkryk verteenwoordig het, vertrap (2 Konings 25:1-26; 1 Kronieke 29:23; Esegiël 21:25-27). In Lukas 21:24 het Jesus getoon dat die situasie in die toekoms sou voortduur totdat die tyd vir God sou aanbreek om weer ’n Koninkryk op te rig.

17. Watter derde aanduiding het ons dat Jesus se profesie tot in die verre toekoms sou strek?

17 Hier is ’n derde aanduiding dat Jesus ook na ’n vervulling in die verre toekoms verwys het: Volgens die Skrif moes die Messias sterf en weer opgewek word, waarna hy aan die regterhand van God sou sit totdat die Vader hom sou uitstuur om te heers (Psalm 110:1, 2). Jesus het self gemeld dat hy aan sy Vader se regterhand sou gaan sit (Markus 14:62). Die apostel Paulus het bevestig dat die verrese Jesus aan Jehovah se regterhand was waar hy gewag het op die tyd dat hy Koning en God se Skerpregter sou wees.—Romeine 8:34; Kolossense 3:1; Hebreërs 10:12, 13.

18, 19. Hoe hou Openbaring 6:2-8 verband met die ooreenstemmende profesie in die Evangelies?

18 Vir ’n vierde en afdoende aanduiding dat die toepassing van Jesus se profesie omtrent die voleinding van die stelsel van dinge verder as die eerste eeu strek, kan ons na Openbaring hoofstuk 6 blaai. Die apostel Johannes het dekades ná 70 G.J. ’n aangrypende toneel van bedrywige perderuiters beskryf (Openbaring 6:2-8). Hierdie profetiese gesig van “die dag van die Here”—die dag van sy teenwoordigheid—identifiseer ons 20ste eeu as ’n tydperk van grootskaalse oorlog (vers 4), algemene hongersnode (verse 5 en 6) en “pes” (vers 8). Dit stem ongetwyfeld ooreen met wat Jesus in die Evangelies gesê het en bewys dat sy profesie ’n groter vervulling in hierdie “dag van die Here” het.—Openbaring 1:10.

19 Ingeligte mense erken dat die saamgestelde teken wat in Mattheüs 24:7-14 en Openbaring 6:2-8 voorspel is, waargeneem kan word sedert wêreld-oorlog die eerste keer in 1914 uitgebreek het. Jehovah se Getuies maak oor die hele wêreld bekend dat Jesus se profesie juis nou sy tweede en groter vervulling ondergaan, soos blyk uit die wrede oorloë, verwoestende aardbewings, tragiese hongersnode en onstuitbare siektes. Die U.S.News & World Report (27 Julie 1992) het oor hierdie laaste punt gesê: “Die vigs-epidemie . . . stuur miljoene slagoffers na hulle dood en kan binnekort die duurste en mees katastrofiese plaag in die geskiedenis word. In die 14de eeu het die Swart Dood sowat 25 miljoen mense onder groot lyding laat sterf. Vandag is sowat 12 miljoen mense draers van HIV, die virus wat vigs veroorsaak, maar teen die jaar 2000 sal hulle tot tussen 30 miljoen en 110 miljoen toegeneem het. By gebrek aan ’n geneesmiddel sal hulle almal beslis sterf.”

20. Wat sou tydens die eerste vervulling van Mattheüs 24:4-22 gebeur, maar watter ander vervulling kan ons beslis ook sien?

20 Tot watter gevolgtrekking moet ons dus kom omtrent Jesus se antwoord op die apostels se vraag? Sy profesie het gebeure wat die vernietiging van Jerusalem voorafgegaan en ingesluit het akkuraat voorspel en ook sekere dinge gemeld wat ná 70 G.J. sou gebeur. Maar die meeste van sy woorde sou ’n tweede en groter vervulling in die toekoms ondergaan en ’n hoogtepunt bereik in die groot verdrukking wat die huidige goddelose stelsel van dinge gaan beëindig. Dit beteken dat Jesus se voorspelling in Mattheüs 24:4-22, sowel as die ooreenstemmende verslae in Markus en Lukas, van 33 G.J. af tot en met die verdrukking van 70 G.J. vervul is. Maar dieselfde verse sou ’n tweede vervulling ondergaan, met inbegrip van ’n groter verdrukking in die toekoms. Hierdie groter vervulling vind nóú plaas; ons kan dit daagliks sien.f

Waartoe sou dit lei?

21, 22. Waar vind ons profetiese aanduidings dat ander dinge later sou gebeur?

21 Jesus het nie sy profesie geëindig met die vermelding van valse profete wat misleidende tekens sou doen gedurende die lang tydperk voor “die [“vasgestelde”, NW] tye van die nasies vervul” sou word nie (Lukas 21:24; Mattheüs 24:23-26; Markus 13:21-23). Hy het voortgegaan deur ander skrikwekkende dinge te noem wat sou plaasvind, dinge wat oor die hele aarde waargeneem sou word. Hierdie dinge sou verband hou met die koms van die Seun van die mens in krag en heerlikheid. Markus 13:24-27 is verteenwoordigend van sy voortgesette profesie:

22 “Maar in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.”

23. Waarom kan ons baie verder as die eerste eeu G.J. kyk vir die vervulling van Mattheüs 24:29-31?

23 Die Seun van die mens, die verrese Jesus Christus, het nie ná die vernietigende einde van die Joodse stelsel in 70 G.J. op hierdie skouspelagtige wyse gekom nie. Al die stamme van die aarde het hom gewis nie erken, soos Mattheüs 24:30 sê nie, en die hemelse engele het ook nie toe al die gesalfde Christene van die hele aarde af versamel nie. Wanneer sou hierdie bykomende deel van Jesus se ontsagwekkende profesie dan vervul word? Word dit vervul in gebeure wat tans rondom ons plaasvind, of gee dit ons eerder godgegewe insig in dinge wat ons in die nabye toekoms kan verwag? Ons moet beslis wil weet, aangesien Lukas Jesus se vermaning meld: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:28.

[Voetnote]

a Gedeeltes van hierdie hoofstukke kan in die tabel op bladsye 14 en 15 gevind word; parallelle gedeeltes word met stippellyne aangedui.

b Sien Die Wagtoring van 1 April 1970, bladsye 152-5, vir geskiedkundige aanhalings oor hierdie gebeure.

c Toʹte verskyn meer as 80 keer in Mattheüs (9 keer in hoofstuk 24) en 15 keer in die boek Lukas. Markus het toʹte net ses keer gebruik, maar vier daarvan het op “die teken” betrekking gehad.

d Die Britse skrywer Matthew Henry het opgemerk: “Die vernietiging van Jerusalem deur die Chaldeërs was baie erg, maar hierdie een het dit oortref. Dit het gedreig om al . . . die Jode uit te wis.”

e Talle sien in Lukas se verslag ’n verskuiwing van klem ná Lukas 21:24. Dr. Leon Morris sê: “Jesus praat vervolgens oor die tye van die Heidene. . . . Volgens die meeste geleerdes word die aandag nou op die koms van die Seun van die mens gevestig.” Professor R. Ginns skryf: “Die koms van die Seun van die mens—(Mt 24:29-31; Mk 13:24-27). Die feit dat die ‘tye van die Heidene’ gemeld word, voorsien ’n inleiding tot hierdie tema; [Lukas se] perspektief strek nou verder as die vernietiging van Jerusalem tot in die toekoms.”

f Professor Walter L. Liefeld skryf: “Dit is beslis moontlik om aan te neem dat Jesus se voorspellings twee fases behels het: (1) die gebeure van AD 70 met betrekking tot die tempel en (2) die gebeure in die verre toekoms wat in meer apokaliptiese terme beskryf word.” Die kommentaar wat deur J. R. Dummelow geredigeer is, sê: “Baie van die ernstigste probleme in verband met hierdie groot redevoering verdwyn wanneer ’n mens besef dat ons Here daarin nie net na een gebeurtenis nie, maar na twee verwys het, en dat die eerste tiperend van die tweede was. . . . Veral [Lukas] 21:24, wat van ‘die tye van die Heidene’ praat, . . . plaas ’n onbepaalde tydperk tussen die val van Jerusalem en die einde van die wêreld.”

Onthou jy?

◻ Watter vervulling het Jesus se antwoord op die vraag in Mattheüs 24:3 tot die jaar 70 G.J. gehad?

◻ Hoe help die gebruik van die woord toʹte ons om Jesus se profesie te verstaan?

◻ In watter opsig was daar ’n eerste-eeuse “groot verdrukking” soos daar nog nooit gewees het nie?

◻ Van watter twee unieke aspekte van Jesus se profesie waarby ons vandag betrokke is, praat Lukas?

◻ Wat toon dat die profesie in Mattheüs 24:4-22 ’n tweede en groter vervulling moet hê?

[Tabel op bladsy 14, 15]

MATTHEÜS 24

4 “Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. 6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.

7 “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. 8 Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.

9 “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. 10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. 11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. 13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. 14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.

-----------------------------------------------------------------

15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— 16 dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; 17 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. 19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. 20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. 21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.

-----------------------------------------------------------------

23 “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar!—moet dit nie glo nie. 24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. 27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.

-----------------------------------------------------------------

-----------------------------------------------------------------

29 “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. 30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. 31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

MARKUS 13

5 “En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie. 6 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei. 7 Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie.

8 “Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees . . . Hierdie dinge is ’n begin van die smarte.

9 “Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot ’n getuienis. 10 En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. 11 En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees. 12 En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. 13 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

-----------------------------------------------------------------

14 “En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie—laat hom wat lees, oplet—dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; 15 en wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie; 16 en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie. 17 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae! 18 En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie. 19 Want daardie dae sal daar ’n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. 20 En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort.

-----------------------------------------------------------------

21 “En as iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar!—moet dit nie glo nie. 22 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 23 Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.

-----------------------------------------------------------------

-----------------------------------------------------------------

24 “Maar in daardie dae, ná die verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, 25 en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word. 26 En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid. 27 En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.”

LUKAS 21

8 “En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie. 9 En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.

10 “Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. 11 En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.

12 “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13 En dit sal vir julle uitloop op ’n getuienis. 14 Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie. 15 Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie. 16 Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. 17 En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. 18 En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie. 19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

-----------------------------------------------------------------

20 “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. 22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. 23 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. 24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies,

-----------------------------------------------------------------

en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.

-----------------------------------------------------------------

-----------------------------------------------------------------

25 “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, 26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. 27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. 28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”

[Prent op bladsy 10]

Die verdrukking in 70 G.J. was die grootste wat Jerusalem en die Joodse stelsel tot nog toe ondervind het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel