Wat ons by Jesus leer
Oor “die einde”
Wat sal tot ’n einde kom?
Jesus se dissipels het hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Toe Jesus hierdie vraag beantwoord het, het hy nie gesê dat die letterlike aarde tot ’n einde sal kom nie. Hy het vroeër van “die stelsel van dinge” gepraat en die uitdrukking gebruik om te verwys na die hele sekulêre en godsdiensstelsel waaroor Satan heers (Matteus 13:22, 40, 49). Dit was dus dié stelsel wat hy in gedagte gehad het toe hy gesê het: ‘Die einde sal kom.’—Matteus 24:14.
Hoe het Jesus die einde beskryf?
Die einde van hierdie onregverdige stelsel is “goeie nuus”. Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Jesus het die einde van die teenswoordige stelsel van dinge soos volg beskryf: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie. Trouens, as daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie.”—Matteus 24:14, 21, 22.
Wie sal vernietig word?
Net diegene wat nie lief is vir Jehovah en Jesus nie en hulle nie dien nie, sal vernietig word. Sulke mense steur hulle nie aan God nie. Jesus het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het . . . geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie” (Matteus 24:36-39). Jesus het gesê dat baie op die pad is wat na vernietiging lei. Hy het egter die versekering gegee dat daar ’n ‘smal pad is wat na die lewe lei’.—Matteus 7:13, 14.
Wanneer sal hierdie stelsel van dinge tot ’n einde kom?
Toe Jesus gevra is oor die teken van sy teenwoordigheid “en van die voleinding van die stelsel van dinge”, het hy geantwoord: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings [wees] . . . ; en weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel” (Matteus 24:3-12). Al die slegte nuus van vandag het dus ’n bemoedigende betekenis—God se Koninkryksregering sal binnekort vrede vir gehoorsame mense bring. Jesus het gesê: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, . . . weet dat die koninkryk van God naby is.”—Lukas 21:31.
Wat moet jy doen?
Jesus het gesê dat God “sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Om geloof in God en sy Seun te beoefen, moet jy hulle goed ken. Jesus het dus gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Pas op dat sorge en probleme jou nie verhinder om te leer hoe om jou liefde vir God te toon nie. Jesus het gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met . . . sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal [kom].” As jy ag slaan op Jesus se waarskuwing, sal jy daarin “slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur”.—Lukas 21:34-36.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 9, “Lewe ons in ‘die laaste dae’?” van die boek Wat leer die Bybel werklik?a
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.