Openbaar geestelike groei deur aan vergaderinge deel te neem
1 Geestelike groei tot volwassenheid is ’n wenslike doelwit wat alle knegte van Jehovah moet nastreef. Paulus het geskryf: “Laat ons egter die waarheid spreek, deur liefde opgroei in alle dinge in hom wat die hoof is, Christus” (Ef. 4:15, NW). Hoe groei ’n mens geestelik? Paulus noem twee dinge, naamlik om ‘die waarheid te spreek’ en “deur liefde”. Wat is nog nodig?
2 Dit is duidelik dat meer as hartgrondige oortuiging of geloof vereis word, aangesien Paulus ook geskryf het: “Met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:10). Toon jy dat jy geestelik groei deur openbare belydenis by die vergaderinge? Kan jy jou deelname verbeter? Het jy nie gevind dat jy meer baat vind by die vergaderinge wanneer jy daaraan deelneem nie?
VOORBEREIDING
3 Persoonlike studie en voorbereiding sal jou help om die vrymoedigheid te hê om te spreek. Berei ’n aantal antwoorde in verskillende paragrawe voor. Onderstreep sleutelwoorde en maak kort aantekeninge in die kantlyne indien nodig.
4 Let in jou studie en bepeinsing op die gesiteerde tekste wat gelees of opgesom en op die materiaal toegepas kan word. Dink na oor hoe sommige gedagtes op ons persoonlike lewe of ons bediening van toepassing is.
GEDURENDE DIE VERGADERING
5 As jy voorberei, kan jy betekenisvolle antwoorde gee. Hou in gedagte dat ‘dit saliger is om te gee as om te ontvang’ (Hand. 20:35). Onthou dat ander jou kommentare geniet en daarby baat vind. Dit het sommige gehelp om te begin antwoord as hulle vir die studiehouer vooraf gesê het watter paragraaf of paragrawe hulle graag wil antwoord.
6 Die eerste antwoord op ’n vraag moet kort en bondig wees. Dit is baie makliker om sulke kommentare te maak, en ander verstaan dit makliker. Probeer om in jou eie woorde te antwoord in stede van eenvoudig uit die publikasie te lees. Dit sal op sigself jou insig van God se Woord verdiep en jou geestelike groei bevorder.
STUDIEHOUERS KAN HELP
7 Studiehouers kan baie doen om beter deelname aan vergaderinge aan te moedig. Dit sal baie help as hy let op wie selde antwoord en hulle dan aanmoedig. Studiehouers moet ook net kortliks kommentaar lewer, en uitlokvrae stel wanneer dit nodig is om bykomende punte uit te bring.
8 Laat ons almal vandag daarna streef om Jehovah in die Christengemeente te loof deur gereelde deelname en sodoende ons geestelike groei openbaar en ander tot liefde en goeie werke aanspoor.—Ps. 35:18; Hebr. 10:24, 25.