Jongmense, maak vooruitgang in die bediening
1 “Loof die HERE . . . , jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges” (Ps. 148:7, 12). Jongmense kan Jehovah loof deur die waarheid hulle eie te maak. Hulle doen dit deur Christelike beginsels in hulle lewe toe te pas, aan gemeentelike vergaderinge deel te neem en ’n volle aandeel in die velddiens te hê. Hulle moet hierdie dinge doen omdat hulle wil, nie net omdat hulle ouers of vriende dit van hulle verwag nie.
2 Wanneer ons die Christelike leefwyse kies, moet ons eerstens kennis van God opdoen. Dit kan tot ’n persoonlike verhouding met Jehovah lei (Ps. 71:5). Wanneer iemand hom aan God toewy om hom vir die res van sy lewe te dien en dan gedoop word, ontstaan ’n vriendskap tussen hom en God. So ’n vriendskap met God stel jongmense in staat om ‘vir die begeerlikhede van die jonkheid te vlug’ en onnodige wêreldse omgang en gesindhede te vermy (2 Tim. 2:22). As jonk en oud teokratiese doelwitte soos pionierdiens of Betheldiens stel en hulle dan daarop toelê, sal hulle versterk word en nader aan Jehovah kom.—Spr. 16:3.
DINGE WAT JONGMENSE KAN DOEN
3 Ons is bly om jongmense te sien wat bewus is van hulle geestelike behoefte en wat dit geniet om gemeentelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem (Matt. 5:3, 6, vgl. NW). Christen jongmense, julle kan ander in die gemeente aanmoedig deur gereeld opbouende antwoorde by die vergaderinge te gee. As julle goeie vriende word met gemeentelede van alle ouderdomme sal julle voor en na die vergaderinge opbouende omgang met almal kan geniet.—1 Tim. 4:12; vergelyk Spreuke 18:1.
4 Jehovah gebruik ook jongmense om die goeie nuus te verkondig (Matt. 21:16). Baie het gevind dat as hulle elke week aan die predikingswerk deelneem hulle dit al hoe meer geniet. Party gryp geleenthede aan om by die skool oor Jehovah se voornemens te praat (Ps. 71:17; 145:21). Sulke bedrywigheid verbly inderdaad Jehovah se hart.
5 Soos ander in die Christengemeente, moet julle jongmense gedurig geestelike vooruitgang maak. As julle jul gedurig daarop toelê om julle teokratiese bedrywigheid te verbeter, maak julle die waarheid jul eie. Sodoende kan julle verseker wees van Jehovah se seën.—Filip. 3:16; 2 Tim. 2:15.