Leer studente hoe om die Bybel te gebruik
1 “Toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, [het] julle dit aangeneem . . . nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thess. 2:13). As ware Christene wil ons hê dat die Bybel die praatwerk moet doen. Wanneer jy ’n Bybelstudie hou, moet jy jou student dus help om te besef dat hy Jehovah se gedagtes leer, nie mense se gedagtes nie. Deur studente te leer om die Bybel goed te gebruik, kan jy vertroue in die Skrif, ’n vaste fondament vir geloof en die vermoë om hulle opvattings uit die Bybel te verdedig in hulle bou.—2 Tim. 3:16,17; 1 Pet. 3:15.
2 Wanneer moet jy die student begin leer om sy Bybel te gebruik? Hoe leer jy hom die volgorde van die Bybelboeke en hoe om tekste te vind? Wat kan die student persoonlik doen om sekere sleuteltekste te leer, en hoe kan jy hom help? Daar is verskeie metodes wat met welslae gebruik kan word.
GEBRUIK DIE BYBEL
3 Wys die student uit die staanspoor die bladsy in die Bybel waarop ’n lys van al die Bybelboeke verskyn en hoe hy elkeen kan vind. Talle tekste word in die Genootskap se publikasies aangehaal, en ander word gemeld maar nie aangehaal nie. Aanvanklik sal dit dalk raadsaam wees om almal in die Bybel na te slaan en te lees, en sodoende te beklemtoon dat dit ’n Bybelstudie is. Dit sal ekstra tyd in beslag neem, maar dit sal die student help om met sy Bybel vertroud te raak. Dit sal hom ook groter vertroue gee dat wat in die publikasies gesê word op die Bybel gebaseer is.
4 Wanneer die student vrae vra, moet jy hom help om die antwoorde in die Bybel te vind deur gepaste tekste na te slaan. Sodoende sal hy weet dat hy God se antwoorde op sy vrae kry (Joh. 17:17). Help die student om oor die tekste te redeneer en die Bybel se antwoord ten volle te waardeer. Aan die einde van ’n studie kan jy twee of drie sleuteltekste hersien deur die student dit te laat naslaan en hom dit in sy eie woorde te laat verduidelik. Dit sal hom in staat stel om sy geloof met behulp van die Bybel te verdedig. Deur die Bybel te gebruik, sal hy ook leer om met gesag en oortuiging te praat wanneer hy ander vertel van wat hy geleer het.—Hand. 17:1-3, NAV.
5 Spoor die student aan om teksverwysings na te slaan en daaroor te redeneer wanneer hy die les vir sy persoonlike studie, die Wagtoring-studie en ander vergaderinge voorberei. Sodoende sal hy voorberei wees om sy Bybel gedurende die vergaderinge deeglik te gebruik en om Skriftuurlik gebaseerde kommentaar op die studiemateriaal te lewer. Wys hom ook die lys “Bible Words Indexed” agterin die New World Translation. Hierdie indeks sal hom help om tekste oor talle verskillende onderwerpe sowel as antwoorde op vrae te vind. Wanneer tekste persoonlik gelees en ondersoek word, maak die waarhede wat geleer word ’n aansienlik dieper indruk.
6 As studente geleer word hoe om die Bybel te gebruik, sal dit blywende voordele hê. Die student sal besef dat wat hy leer van God kom. Ja, “die woord van God is lewend” en kragtig (Hebr. 4:12). Ons wil ander help om bedrewe te word om “die woord van die waarheid juis [te] hanteer”.—2 Tim. 2:15, NW.