Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 4/93 bl. 3-8
  • Kan jy meer doen om Jehovah te eer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy meer doen om Jehovah te eer?
  • Ons Koninkryksbediening—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Voortdurende vermeerdering vereis die vereenvoudiging van prosedures
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Pionierdiens—Is dit vir jou?
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Pioniers bring en ontvang seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1993
km 4/93 bl. 3-8

Kan jy meer doen om Jehovah te eer?

1 Dit is ’n uiters belangrike vraag waaroor ons almal moet nadink. As getroue navolgers van ons Meester, Jesus Christus, eer ons ons God vandag deur sy naam in die openbaar bekend te maak. Dit is ’n verantwoordelikheid wat ons moet nakom as ons God se guns wil verkry (Mark. 13:10; Luk. 4:18; Hand. 4:20; Hebr. 13:15). Wat ’n weergalose voorreg—ja, eer—is dit tog om hierdie goeie nuus na die oorblywende, verstrooide “skape” te neem wat nog ’n deel van Jehovah se universele kudde kan word!—Joh. 10:16.

2 Kan jy en jou kinders meer doen om Jehovah te eer deur julle bedrywigheid in die bediening te vermeerder? Julle broers en susters oor die hele wêreld sluit in steeds toenemende getalle by die pioniergeledere aan. Gedurende April 1992 het 12 555 as spesiale, gewone of hulppioniers in Suid-Afrika gedien. Het jy al persoonlik die pionierdiens ernstig oorweeg? Moedig jy jou kinders aan om ’n loopbaan in die voltydse diens na te streef?

3 Waarom ontleed jy nie jou persoonlike gevoelens teenoor die pionierdiens nie? Kom jy, wanneer die onderwerp ook al geopper word, gou tot die slotsom dat jou omstandighede jou net nie toelaat om as ’n pionierbedienaar te dien nie? Dit is weliswaar nie vir almal moontlik om pionierdiens te doen nie. Skriftuurlike verantwoordelikhede en ander beperkings maak dat baie nie in die voltydse diens kan wees nie (1 Tim. 5:8). Maar het jy die saak onlangs biddend oorweeg? Het julle die onderwerp as ’n gesin bespreek om te kyk of ten minste een in die gesin as ’n pionier kan dien? Die Wagtoring van 1 Februarie 1983 het hierdie gedagteprikkelende stelling op bladsy 23 gemaak: “Elke Christenbedienaar moet waarlik biddend oorweeg of hy pionierdiens kan doen of nie. ’n Egpaar in Suid-Afrika wat al vyftien jaar lank pionierdiens doen, het gesê: ‘Waarom doen ons pionierdiens? Sou ons dit ooit voor Jehovah kon verantwoord as ons dit nie gedoen het nie?’ Baie wat nie pioniers is nie, kan gerus die verwante vraag stel: ‘Kan ek werklik die feit dat ek nie ’n pionier is nie voor Jehovah verantwoord?’”

4 ’n Ander Wagtoring-artikel oor die onderwerp het die volgende betekenisvolle stelling gemaak: “Elkeen van ons moet eerlik met homself wees. Sê jy: ‘Die gees is gewillig maar die vlees is swak’? Maar is die gees werklik gewillig? Ons moenie die swakheid van die vlees as ’n verskoning vir die onwilligheid van die gees gebruik nie.”—wAF78 11/1 bl. 20.

5 Ouers wat wil hê hulle kinders moet sukses in hulle lewe behaal: Spreuke 15:20 gee ons hierdie versekering: “’n Wyse seun verbly sy vader.” Godvrugtige ouers verheug hulle ongetwyfeld daarin wanneer hulle seuns en dogters ’n lewe van toegewyde diens aan Jehovah nastreef. Maar dit is nie vanselfsprekend dat julle kinders die verstandige weg sal kies nie. Die verleidelikheid van hierdie wêreld is baie sterk. Ouers, julle kinders se waardes word grotendeels deur julle eie waardes gevorm. As julle altyd op ’n positiewe wyse oor die seëninge van die voltydse diens praat, as julle julle kinders aanmoedig om die geselskap van toegewyde pioniers op te soek, as julle waarlik oortuig is dat die voltydse bediening die eerbaarste loopbaan is wat julle kinders ooit kan hê, sal hierdie positiewe gesindheid ongetwyfeld ’n groot indruk op julle kinders maak. Help hulle om die waarde daarvan te besef om ’n goeie naam by Jehovah pleks van by mense te hê.

6 Jongmense, Spreuke 22:1 beklemtoon watter keuse julle moet maak: “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.” Watter soort naam gaan jy vir jou maak? Dink aan die manne en vroue waarvan ons in die Bybel lees wat deur hulle toegewyde diens ’n naam by God gemaak het. Daar is Lukas, die geliefde geneesheer, en Henog wat met die ware God gewandel het. Samuel het die beste onderrigting moontlik ontvang toe hy op ’n baie jong ouderdom met sy diens by Jehovah se tempel begin het. Dink jy hierdie getroue knegte was ooit spyt oor die keuses wat hulle gemaak het? Waarom moes hulle spyt gewees het? Hulle het almal gelukkige, produktiewe en opwindende lewens gehad. En hulle het Jehovah se ewige goedkeuring weggedra!—Ps. 110:3; 148:12, 13; Spr. 20:29a; 1 Tim. 4:8b.

7 Wanneer kinders sukses in hulle lewe behaal, is hulle ouers trots op hulle. Hulle word dubbel en dwars vergoed vir al die tyd wat hulle aan die opleiding, dissiplinering en opvoeding van hierdie “erfdeel van Jehovah” bestee het (Ps. 127:3, vgl. NW). Wat kan ’n ouer trotser maak as ’n seun of dogter wat alles doen wat hy of sy kan om Jehovah te eer? Talle jongmense volg vandag die voorbeeld van Lukas, Henog en Samuel na, soos een brief toon: “Ek is 16. Ek het met gewone pionierdiens begin . . . nege maande nadat ek gedoop is en ek het sedertdien talle seëninge van Jehovah ontvang. . . . Die pionierdiens help ’n mens ook op skool. Voorheen het my klasmaats my geterg omdat ek ’n Getuie is. Aangesien ek baie meer persoonlike studie moet doen, kan ek nou vir ‘hom wat my smaad ’n antwoord gee’.”

8 Opvoeding wat jou vir die bediening toerus: Ons kan nou gerus die kwessie van sekulêre opvoeding bespreek. Dit is ’n saak waar ’n gebalanseerde beskouing veral nodig is. In Die Wagtoring van 1 November 1992 het daar ’n artikel “Opvoeding met ’n doel” verskyn. Onder die tussenhofie “Genoegsame geleerdheid” is hierdie punt geopper: “Christene [moet] hulleself . . . kan onderhou, al is hulle voltydse pionierbedienaars (2 Thessalonicense 3:10-12) . . . Hoe geleerd moet ’n jong Christen wees sodat hy hierdie Bybelbeginsels kan respekteer en sy Christelike verpligtinge kan nakom? . . . Wat[ter besoldiging] kan ‘aanvaarbaar’ genoem word vir diegene wat byvoorbeeld graag pionierbedienaars van die goeie nuus wil wees? Oor die algemeen moet sulke persone deeltyds werk sodat hulle nie ‘’n duur las’ vir hulle broers of hulle gesin is nie.—1 Thessalonicense 2:9, NW.”

9 Die Wagtoring van 1 November 1992 het die volgende aangeraai as die voornemende pionier dink dat verdere opleiding nodig is om hom te help om die voltydse diens na te streef: “[Dit] sal . . . goed wees as ’n jong Getuie, indien dit enigsins moontlik is, hierdie verdere opleiding ondergaan terwyl hy nog by sy ouers inwoon, sodat hy met sy gewone Christelike studiegewoontes, vergaderingbywoning en predikingsbedrywighede kan volhou.”

10 Uit Afrika kom die ondervinding van ’n 22-jarige jongman wat na ’n ambagskool moes gaan, hoewel sy hart in die pionierdiens was. Terwyl hy by die ambagskool was, het hy as ’n hulppionier gedien. Sy portuurs het die spot met hom gedryf en gesê dat hy beslis sy eksamens gaan druip. Sy antwoord aan hulle was altyd: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.” Hy het selfdissipline aan die dag gelê en het elke oggend baie vroeg opgestaan om twee uur lank vir sy klasse voor te berei, en dan in die middag ná sy klasse aan die veldbediening deelgeneem. Die hele skool was verstom toe hierdie jongman derde gekom het in ’n spesiale eksamen om die drie beste studente vir ’n spesiale beurstoekenning te kies. Die student wat tweede gekom het, was ’n belangstellende met wie ons pionierbroer by die skool ’n Bybelstudie gehou het. Die student wat eerste gekom het, was ’n ander ywerige jong Getuie in die skool.

11 Ouere manne dra hulle deel by: Gemeentelike ouere manne, wat trots is op die werk wat die pioniers doen, moedig hierdie ywerige bedienaars baie aan. Ouere manne doen dit met graagte omdat hulle weet dat hardwerkende, produktiewe pioniers ’n seën vir enige gemeente is. Nadat hierdie pioniers ’n jaar of wat in die gewone pionierdiens was, kom hulle in aanmerking vir bykomende opleiding by die Pionierdiensskool. Die kursus het reeds bewys dat dit van onskatbare waarde is om pioniers bekwamer te maak. Hoewel die pioniers die voortou in die werk neem, het hulle ook liefdevolle aanmoediging nodig, en die ouere manne moet wakker wees om in hierdie behoefte te voorsien.—1 Pet. 5:1-3.

12 Hoe kan die ouere manne die pionierdiens bevorder? ’n Goeie beginpunt is om van tyd tot tyd te kyk wie dalk na hierdie voorreg kan uitreik. Ouere manne kan verkondigers nader wat moontlik in ’n gunstige posisie is om aan die pionierdiens deel te neem, onder andere baie wat gereeld aan die hulppionierdiens deelneem, afgetrede persone, huisvroue en studente. Hoewel niemand verplig moet voel om die pionierdiens te betree nie, kan diegene wat die begeerte het, maar dalk tot nog toe gehuiwer het, met ’n bietjie praktiese aanmoediging besef dat die pionierdiens binne hulle bereik is.

13 Wanneer ouere manne diegene aanmoedig wat graag wil aansoek doen, moet hulle in gedagte hou dat dit nie nodig is dat die aansoeker etlike maande aan die hulppionierdiens moet deelneem vóór hy as ’n gewone pionier kan dien nie (kmAF 8/86 byvoegsel par. 24-26). Die ouere manne moet natuurlik redelik seker wees dat die aansoeker aan die uurvereiste sal kan voldoen.

14 Nadat die aansoek deur die Gemeentelike Dienskomitee bespreek en noukeurig deur die sekretaris nagegaan is om seker te maak dat al die vrae beantwoord is, moet dit sonder versuim aan die Genootskap gestuur word.

15 Die sekretaris moet die ouere manne ingelig hou oor enige probleme wat die pioniers dalk ondervind. Dit is veral belangrik in gemeentes waar daar baie pioniers is. Buiten die hersiening van die pioniers se bedrywighede aan die einde van die diensjaar, soos op die Gemeentelike ontledingsrapport (S-10) versoek word, behoort die sekretaris vroeg in Maart die diensopsiener te vra om saam met hom te kyk wie in hulle uurvereiste agtergeraak en dalk persoonlike hulp nodig het. (Sien Ons Koninkryksbediening vir Februarie 1992, Aankondigings.) As hulp onverwyld gegee word, kan die pionier dalk die diensjaar met sukses voltooi.

16 ’n Groot aantal van die nuwe pioniers is jonk en betreklik nuut in die waarheid. Hulle gewillige gees verskaf ons beslis groot blydskap! Maar hierdie nuwes het nog opleiding nodig om vaardighede in die huis-tot-huis-werk te ontwikkel, om doeltreffende herbesoeke te doen en Bybelstudente te leer. As hulle nie hierdie opleiding ontvang nie, sal die nuwe pioniers na ’n jaar of wat dalk ontmoedig raak en uiteindelik die pionierdiens verlaat omdat hulle nie goeie resultate in die bediening geniet nie. Wakker ouere manne kan geringe probleme raaksien of sien as die pionier in sy bediening begin verslap. As daar onmiddellik aandag hieraan geskenk word en die pionier met sy probleem gehelp word, kan hy dalk nog baie jare van produktiewe diens geniet.

17 Kan jy in verafgeleë waters gaan visvang? Sommige van Jesus se dissipels was vissers. Soms, nadat hulle die hele nag lank probeer visvang het, was hulle nette steeds leeg (Joh. 21:3). In dele van hierdie land waar pioniers al jare lank ‘vissers van mense’ is, kan sommige van hulle tot die slotsom kom dat daar min “visse” in hulle gemeentelike “waters” is (Matt. 4:19). Is ons nie, in teenstelling hiermee, verheug om berigte te lees wat uit ander lande kom waar verkondigers en pioniers baie Bybelstudies het nie? Die vreugde wat pioniers en sendelinge in hierdie lande ervaar, is baie duidelik (wAF92 9/1 bl. 20 par. 15). As daar dus party hardwerkende pioniers is wat in die posisie is om na ’n ander land te verhuis waar daar hulp nodig is, moet hulle dit met die takkantoor bespreek voordat hulle so ’n verandering maak.

18 Onthou egter dat diegene wat graag in ander lande aan die voltydse diens wil deelneem goeie gesondheid moet geniet, geestelik ryp moet wees, ’n gees van samewerking sowel as ’n teokratiese gesindheid moet hê en bekwame Koninkryksverkondigers moet wees. Hulle moet ook ’n goeie aanbeveling van die gemeente hê waar hulle nou dien. Daarbenewens moet hulle hulleself finansieel kan onderhou en nie verwag dat die broers in die land waarheen hulle dalk gaan hulle moet onderhou nie. Hulle moet hulle planne eers met die ouere manne in hulle gemeente bespreek en hoor wat hulle aanbeveel. As die ouere manne nie seker is oor enigiets wat betrekking het op die persoon se diens in ’n ander land nie, moet hulle met hulle kringopsiener praat of aan die takkantoor vir meer besonderhede skryf.

19 Aanvanklik het sommige dalk met die pionierdiens begin omdat hulle geweet het dit is die regte ding om te doen, maar hulle het gewonder of hulle ’n sukses daarvan kan maak. Hulle het moontlik met twyfelgedagtes en onder sekere voorbehoud aansoek gedoen. In die begin het hulle dalk minimale welslae in die veld gehad. Mettertyd het hulle egter meer bedrewe geraak, en daar was bewyse dat Jehovah hulle werk seën. Hulle vreugde en selfvertroue het gevolglik toegeneem. Vir sommige was die pionierdiens selfs die eerste stap tot Betheldiens, die Bedieningsopleidingskool en om selfs as reisende opsieners te dien.

20 Jy kan dalk nie na ’n ander land trek of van die Bedieningsopleidingskool gebruik maak nie, maar daar is steeds geleenthede om in hierdie land in ander waters vis te vang as jou huidige gebied nie juis produktief is nie. Kom asseblief met die Genootskap in aanraking as jy daarin belangstel om te dien waar daar hulp in Suid-Afrika of een van die buurlande nodig is. So ’n verhuising sal dalk ’n verandering in jou lewenswyse vereis, maar die geestelike belonings sal waarlik baie groot wees.—Matt. 6:19-21.

21 As jou omstandighede andersyds toelaat, kan jy miskien in ’n nabygeleë gemeente in jou eie kring help. As jy kwalifiseer, sal julle kringopsiener met graagte voorstelle doen in verband met gemeentes in die kring wat by die hulp van nog ’n pionier kan baat vind.

22 Sommige pioniers en verkondigers kon in die behoeftes van hulle eie gebied voorsien sonder om te verhuis. Hulle ken miskien ’n ander taal. Vind jy dat daar in julle gebied ’n aansienlike gedeelte van die bevolking is wat ’n ander taal praat? Is daar mense wat van die Koninkryksboodskap moet leer deur iemand wat gebaretaal ken? Diegene wat ’n ander taal ken, kan ’n groot hulp wees om alle soorte mense met die Koninkryksboodskap te bereik. Hoewel dit ’n ware uitdaging kan bied, kan dit ook baie bevredigend wees.—1 Tim. 2:4; Tit. 2:11.

23 As jy op die oomblik alles doen wat jy kan om Jehovah te eer, moet jy jou in jou huidige diensvoorregte verheug. As jy meen dat jy meer kan doen, moet jy die saak in gebed tot Jehovah neem. Kyk op ’n realistiese wyse na watter veranderinge jou omstandighede jou sal toelaat om te maak. Praat met ’n ouere man wat die pioniergees het of met die kringopsiener oor jou planne. Wanneer jy ’n biddende, praktiese besluit geneem het, moet jy dit sonder versuim deurvoer, met vertroue in Jehovah se belofte om diegene te eer wat hom eer.—Hebr. 13:5, 6; 1 Sam. 2:30.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel