Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 6/96 bl. 3-6
  • Hoe om dissipels te maak met die Kennis-boek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om dissipels te maak met die Kennis-boek
  • Ons Koninkryksbediening—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1996
km 6/96 bl. 3-6

Hoe om dissipels te maak met die Kennis-boek

1 ’n Doelwit waarna alle Christene moet streef, is om die waarheid aan ander te leer en om dissipels te maak van diegene wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Hand. 13:48; Matt. 28:19, 20). Jehovah se organisasie het ons van ’n wonderlike hulpmiddel voorsien waarmee ons dit kan bereik—die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Die titel daarvan beklemtoon die belangrikheid van tuisbybelstudies, want die ewige lewe hang daarvan af of ’n mens kennis inneem van Jehovah, die enigste ware God, en van sy Seun, Jesus Christus.—Joh. 17:3.

2 Die Kennis-boek is nou die vernaamste publikasie van die Genootskap wat gebruik moet word om tuisbybelstudies te hou. Deur dit te gebruik, kan ons die waarheid op ’n eenvoudige, duidelike en bondige manier aan ander leer. Dit sal help om diegene wat geleer word se hart te bereik (Luk. 24:32). Die studiehouer moet natuurlik goeie onderrigtegnieke gebruik. Daarom is hierdie byvoegsel voorberei om wenke en herinneringe in verband met doeltreffende onderrigmetodes uiteen te sit. Jy sal met onderskeidingsvermoë, en volgens jou individuele omstandighede, moontlik sekere of al hierdie wenke geleidelik kan toepas. Hou hierdie byvoegsel byderhand en verwys dikwels daarna. Verskeie punte daarin kan jou help om die Kennis-boek doeltreffender te gebruik om dissipels te maak.

3 Hou ’n progressiewe tuisbybelstudie: Toon opregte belangstelling in die student as ’n potensiële Christendissipel en geestelike broer of suster. Wees hartlik, vriendelik en entoesiasties. Deur ’n goeie luisteraar te wees, kan jy die ander persoon leer ken—sy agtergrond en lewensomstandighede—wat jou sal help om vas te stel wat die beste manier is om hom geestelik te help. Wees bereid om van jouself te gee ter wille van die student.—1 Tess. 2:8.

4 As ’n studie eers gevestig is, is dit verkieslik dat die hoofstukke in die Kennis-boek in numeriese volgorde bestudeer word. Dit sal die student ’n progressiewe begrip van die waarheid gee, aangesien die boek Bybelonderwerpe in die logiesste volgorde ontwikkel. Hou die studie eenvoudig en interessant sodat dit lewendig is en vorder (Rom. 12:11). Na gelang van die omstandighede en die vermoë van die student sal jy moontlik die meeste hoofstukke in een sessie van ’n uur of wat kan dek, sonder om deur die studie te jaag. Studente sal beter vordering maak wanneer die onderrigter sowel as die student elke week hulle afspraak vir die studie nakom. Dit sal dus met die meeste mense dalk moontlik wees om die boek se 19 hoofstukke binne ongeveer ses maande af te handel.

5 Lei elke sessie met kort kommentare in wat belangstelling in die materiaal wek. Jy sal opmerk dat die opskrif van elke hoofstuk die tema daarvan is wat beklemtoon moet word. Elke onderhofie lig ’n hoofpunt uit, wat jou help om die aandag op die hoofstuk se tema gevestig te hou. Wees versigtig om nie te veel te praat nie. Laat die student eerder sê wat hy dink. Deur die student spesifieke uitlok-vrae te vra, op grond van wat hy reeds weet, sal hy gehelp word om te redeneer en tot die regte gevolgtrekkings te kom. (Matt. 17:24-26; Luk. 10:25-37; sien Skoolhandleiding, bladsy 51, paragraaf 10.) Hou getrou by die gedrukte inligting in die Kennis-boek. As bykomende besonderhede ingebring word, kan dit afbreuk doen aan die hoofpunte of hulle onduidelik maak en die studie verleng (Joh. 16:12). As ’n vraag geopper word wat nie verband hou met die onderwerp wat bestudeer word nie, kan jy dit in die meeste gevalle aan die einde van die sessie beantwoord. Dit sal jou in staat stel om die week se les te dek sonder om van die punt af te dwaal. Verduidelik aan die student dat die meeste van sy persoonlike vrae uiteindelik in die loop van die studie beantwoord sal word.—Sien Skoolhandleiding, bladsy 94, paragraaf 14.

6 As die student vas glo aan die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel, die helse vuur of enige ander valse leerstellings, en hy nie tevrede is met dít wat in die Kennis-boek aangebied word nie, kan jy hom die Redenering-boek of ’n ander publikasie gee wat daardie onderwerp bespreek. Sê vir hom dat jy die onderwerp met hom sal bespreek nadat hy nagedink het oor wat hy gelees het.

7 Deur die studie met gebed vir Jehovah se leiding en seëning te open en af te sluit, word waardigheid aan die geleentheid gegee, kom ’n mens in ’n eerbiedige gemoedstemming en word die aandag op Jehovah as die ware Onderrigter gevestig (Joh. 6:45). As die student nog tabak gebruik, sal jy hom dalk uiteindelik moet vra om hom gedurende die studie daarvan te onthou.—Hand. 24:16; Jak. 4:3.

8 Onderrig op ’n doeltreffende manier deur middel van die tekste, illustrasies en die hersieningsvrae: ’n Bekwame onderrigter sal elke les met die bepaalde student in gedagte hersien, ongeag hoeveel keer hy die materiaal dalk voorheen bestudeer het. Dit help om aan party van die vrae te dink wat die student moontlik sal vra. Om op ’n doeltreffende manier te onderrig, moet jy die hoofpunte in die hoofstuk goed begryp. Slaan die tekste na om te sien hoe hulle op die materiaal van toepassing is, en besluit watter tekste gedurende die studie gelees moet word. Dink aan hoe jy kan onderrig deur die illustrasies en die hersieningsvrae aan die einde van die hoofstuk te gebruik.

9 Deur die tekste doeltreffend te gebruik, sal jy die student help besef dat hy inderdaad die Bybel bestudeer (Hand. 17:11). Gebruik die venster “Gebruik jou Bybel goed”, op bladsy 14 van die Kennis-boek, om hom te leer hoe om tekste te vind. Wys hom hoe om die aangehaalde verse in die les uit te ken. Teksverwysings wat nie aangehaal word nie, kan na gelang van tyd nageslaan en gelees word. Laat die student kommentaar lewer oor hoe dít wat in die paragraaf gesê word daardeur ondersteun of verduidelik word. Beklemtoon die sleutelgedeeltes van die tekste sodat hy die redes vir die hoofpunte van die les begryp (Neh. 8:9). Dit is gewoonlik nie nodig dat die onderrigter meer tekste in die bespreking inbring as dié wat die boek aangee nie. Lewer kommentaar oor die waarde daarvan om die name en die volgorde van die Bybelboeke te ken. Dit sal dalk vir die student nuttig wees om bladsye 27-30 van Die Wagtoring van 15 Junie 1991 te lees. Wanneer dit gepas is, kan die student aangemoedig word om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte te gebruik. Jy kan geleidelik demonstreer hoe om die verskillende fasette daarvan te gebruik, waaronder die indeks van Bybelwoorde.

10 Studie 34 in die Teokratiese Bedieningskool-handleiding verduidelik dat illustrasies ’n mens se dinkprosesse opwek en dit makliker maak om nuwe gedagtes te begryp. Hulle skakel die geesteswerking met die gevoels-inwerking aaneen sodat die boodskap oorgedra word met ’n oortuigingskrag wat nie dikwels moontlik is met ’n eenvoudige melding van feite nie (Matt. 13:34). Die Kennis-boek bevat talle onderrigtingsillustrasies wat eenvoudig en tog kragtig is. ’n Illustrasie wat byvoorbeeld in hoofstuk 17 gebruik word, bou waardering op vir hoe Jehovah in geestelike sin voedsel, klere en beskutting deur middel van die Christengemeente voorsien. Die Kennis-boek se pragtige prente kan doeltreffend gebruik word om mense se harte te roer. Onder die onderhofie “Die vreugdevolle opstanding”, op bladsy 185, sal die trefkrag van paragraaf 18 versterk word as jy die student weer na die prent op bladsy 86 laat kyk. Dit sal hom moontlik beweeg om aan die opstanding te dink as ’n werklikheid onder God se Koninkryk.

11 Bybelstudente moet met elke les geestelik vorder. Om dié rede moet jy nie nalaat om die hersieningsvrae in die “Toets jou kennis”-venster wat aan die einde van elke hoofstuk voorkom te vra nie. Maak seker dat jy nie net ’n intellektuele verduideliking kry van wat bestudeer is nie. Heelparty van hierdie vrae is bedoel om ’n persoonlike reaksie wat uit die hart kom uit te lok. Sien byvoorbeeld bladsy 31, waar die student gevra word: “Watter eienskappe van Jehovah God vind jy besonder treffend?”—2 Kor. 13:5.

12 Leer studente om vir die studie voor te berei: ’n Student wat die les vooraf lees, die antwoorde merk en dink hoe hy dit in sy eie woorde gaan sê, sal vinniger geestelik vorder. Deur jou voorbeeld en aanmoediging kan jy hom leer om vir die studie voor te berei. Wys hom jou boek, waarin jy die sleutelwoorde of -frases gemerk of onderstreep het. Verduidelik hoe om direkte antwoorde op die gedrukte vrae te vind. Dit sal dalk vir die student nuttig wees as julle ’n hoofstuk saam voorberei. Spoor hom aan om hom in sy eie woorde uit te druk. Dan eers word dit duidelik of hy die materiaal verstaan. As hy sy antwoord uit die boek lees, kan jy sy denke prikkel deur hom te vra hoe hy die punt in sy eie woorde aan iemand anders sou verduidelik.

13 Spoor die student aan om tekste wat nie aangehaal is nie as deel van sy weeklikse voorbereiding na te slaan, aangesien daar dalk nie tyd sal wees om hulle almal gedurende die studie te lees nie. Prys hom omdat hy hom met sy lesse inspan. (2 Pet. 1:5; sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1993, bladsye 13-14, vir bykomende wenke oor wat die onderrigter sowel as die student kan doen sodat daar gedurende ’n Bybelstudie meer geleer kan word.) Op hierdie manier word die student geleer om betekenisvolle kommentare voor te berei en dit by die gemeentelike vergaderinge te lewer. Hy sal leer hoe om goeie persoonlike studiegewoontes te ontwikkel wat hom sal toerus om in die waarheid vooruitgang te maak nadat hy sy persoonlike Bybelstudie in die Kennis-boek voltooi het.—1 Tim. 4:15; 1 Pet. 2:2.

14 Rig studente na Jehovah se organisasie: Dit is ’n dissipelmaker se verantwoordelikheid om die student se belangstelling in Jehovah se organisasie te wek. Die student sal vinniger tot geestelike volwassenheid vorder as hy die organisasie erken en waardeer en besef dat hy ’n deel daarvan moet word. Ons wil hê dat hy dit moet geniet om met God se volk om te gaan en daarna moet uitsien om saam met ons by die Koninkryksaal te wees, waar hy die geestelike en emosionele ondersteuning kan ontvang wat die Christengemeente bied.—1 Tim. 3:15.

15 Die brosjure Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd is uitgegee sodat mense vertroud kan raak met die enigste sigbare organisasie wat Jehovah vandag gebruik om sy wil te volbring. Bied gerus vir die student ’n brosjure aan sodra die studie gevestig is. Hou aan om die student uit die staanspoor na die vergaderinge te nooi. Verduidelik hoe dit gehou word. Jy kan vir hom sê wat die tema van ’n komende openbare toespraak is of vir hom die artikel wys wat by die Wagtoring-studie bespreek gaan word. Jy kan hom miskien na die Koninkryksaal toe neem wanneer daar nie ’n vergadering aan die gang is nie sodat hy nie skrikkerig sal voel omdat hy vir die eerste keer na ’n nuwe plek toe gaan nie. Jy kan hom dalk vervoer na die vergaderinge toe aanbied. Laat hom welkom en op sy gemak voel wanneer hy dit bywoon (Matt. 7:12). Stel hom aan ander Getuies voor, onder andere die ouer manne. Hopelik sal hy die gemeente as sy geestelike gesin begin beskou (Matt. 12:49, 50; Mark. 10:29, 30). Jy kan vir hom ’n doelwit stel, soos om elke week een vergadering by te woon, en die doelwit geleidelik hoër stel.—Heb. 10:24, 25.

16 Namate die tuisbybelstudie in die Kennis-boek vorder, kan jy die gedeeltes beklemtoon wat die aandag vestig op die nodigheid vir gereelde omgang met die gemeente by die vergaderinge. Let veral op bladsye 52, 115, 137-9, 159 sowel as hoofstuk 17. Spreek jou eie diep gevoelens van waardering vir Jehovah se organisasie uit (Matt. 24:45-47). Praat op ’n positiewe manier oor die plaaslike gemeente en oor wat jy by die vergaderinge leer (Ps. 84:11; 133:1-3). Dit sal goed wees as die student na elkeen van die Genootskap se video’s kan kyk, en begin met Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name. Sien Die Wagtoring van 1 November 1984, bladsye 14-18, en die byvoegsel in Ons Koninkryksbediening vir Mei 1993 vir verdere idees oor hoe om belangstellendes na die organisasie te rig.

17 Spoor studente aan om vir ander te getuig: Ons doelwit wanneer ons met mense studeer, is om dissipels te maak wat vir Jehovah getuig (Jes. 43:10-12). Dit beteken dat die onderrigter die student moet aanspoor om met ander te praat oor wat hy uit die Bybel leer. Dit kan gedoen word deur eenvoudig te vra: “Hoe sal jy hierdie waarhede aan jou familie verduidelik?” of “Watter teks sal jy gebruik om dit aan ’n vriend te bewys?” Beklemtoon spesifieke plekke in die Kennis-boek waar ons aangespoor word om te getuig, soos op bladsye 22, 93-5, 105-6 sowel as hoofstuk 18. Wanneer dit gepas is, kan jy vir die student ’n paar traktate gee om te gebruik wanneer hy informeel vir ander getuig. Stel voor dat hy sy familielede nooi om by te sit tydens sy studie. Het hy vriende wat ook graag wil studeer? Vra hom om jou te verwys na diegene wat belangstel.

18 Deur die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering by te woon, kan die voornemende dissipel bykomende opleiding en aansporing kry wat hom sal help om ’n verkondiger van die goeie nuus te word. Wanneer hy vir die skool wil inskryf of ’n ongedoopte verkondiger wil word, sal die beginsels wat op bladsye 98 en 99 van die Ons bediening-boek uiteengesit word van toepassing wees. As iets in sy lewe veroorsaak dat hy nie aan die vereistes voldoen nie, kan jy in die Genootskap se publikasies soek na nuttige materiaal wat op die saak betrekking het en dit met hom bespreek. ’n Student sukkel dalk om byvoorbeeld verslawing aan tabak of ander dwelms te oorkom. Die Redenering-boek verstrek goeie skriftuurlike redes waarom Christene sulke skadelike gewoontes moet vermy, en op bladsy 124 sê dit wat ander gehelp het om met die gewoonte te breek. Bid saam met hom oor die saak en leer hom om op Jehovah te steun vir hulp.—Jak. 4:8.

19 Die prosedure wat gevolg moet word om te bepaal of iemand aan die vereistes voldoen om aan die openbare bediening deel te neem, word in Die Wagtoring van 15 Januarie 1996, bladsy 16, paragraaf 6, uiteengesit. Wanneer die student aan die vereistes voldoen, sal dit goed wees om ’n oefensessie te hou om hom vir sy eerste dag in die velddiens voor te berei. Bespreek op ’n positiewe manier die mense se reaksies en besware wat in julle gebied algemeen voorkom. Laat hy eers, indien moontlik, met die huis-tot-huis-bediening begin, en lei hom dan geleidelik in ander aspekte van die bediening op. As jy jou aanbieding kort en eenvoudig hou, sal dit vir hom maklik wees om dit na te doen. Wees opbouend en aanmoedigend, en straal vreugde in die werk uit sodat hy jou gesindheid kan sien en dit kan weerspieël (Hand. 18:25). Dit moet die doelwit van ’n nuwe dissipel wees om ’n gereelde, ywerige verkondiger van die goeie nuus te word. Jy kan hom miskien help om ’n praktiese rooster vir die velddiens uit te werk. Ten einde sy vermoë te ontwikkel om vir ander te getuig, kan jy voorstel dat hy die volgende nommers van Die Wagtoring lees: 15 Augustus 1984, bladsye 15-25; 15 Julie 1988, bladsye 9-20; 15 Januarie 1991, bladsye 15-20 en 1 Januarie 1994, bladsye 20-5.

20 Help studente om toewyding en doop na te streef: Dit behoort vir ’n student wat opreg van hart is moontlik te wees om deur ’n studie van die Kennis-boek genoeg te leer om hom aan God toe te wy en om aan die vereistes vir doop te voldoen. (Vergelyk Handelinge 8:27-39; 16:25-34.) Maar voordat ’n persoon beweeg sal word om hom toe te wy, moet hy toegewydheid aan Jehovah ontwikkel (Ps. 73:25-28). Soek in die loop van die studie voortdurend na geleenthede om waardering vir Jehovah se eienskappe op te bou. Spreek jou eie diep gevoelens vir God uit. Help die student om te dink hoe hy ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah kan ontwikkel. As hy God werklik leer ken en liefkry, sal hy Hom dan getrou dien, want godvrugtige toegewydheid hou verband met hoe ons oor Jehovah as ’n persoon voel.—1 Tim. 4:7, 8; sien Skoolhandleiding, bladsy 76, paragraaf 11.

21 Streef daarna om die student se hart te bereik (Ps. 119:11; Hand. 16:14; Rom. 10:10). Hy moet sien hoe die waarheid hom persoonlik raak en besluit wat hy moet doen met wat hy geleer het (Rom. 12:2). Glo hy werklik die waarheid wat week na week aan hom oorgedra word? (1 Tess. 2:13). Met dié doel kan jy probeer vasstel wat die student dink deur hom oordeelkundige beskouings-vrae te vra, soos: Wat is jou mening hieroor? Hoe kan jy dit in jou lewe toepas? Deur middel van sy kommentare sal jy moontlik kan onderskei waar meer hulp nodig is om sy hart te bereik. (Luk. 8:15; sien Skoolhandleiding, bladsy 52, paragraaf 11.) Die byskrifte by die prente op bladsye 172 en 174 van die Kennis-boek vra: “Het jy jou al in gebed aan God toegewy?” en “Wat verhinder jou om gedoop te word?” Dit sal dalk doeltreffend wees om die student tot optrede oor te haal.

22 Die prosedure wat ons moet volg wanneer ’n ongedoopte verkondiger gedoop wil word, word in Die Wagtoring van 15 Januarie 1996, bladsy 17, paragraaf 9, uiteengesit. Die Kennis-boek is geskryf met die doel om die persoon toe te rus om die “Vrae vir diegene wat gedoop wil word” te beantwoord, wat in die aanhangsel van die Ons bediening-boek gevind word en wat die ouer manne saam met hom sal deurgaan. As jy die antwoorde op die gedrukte vrae in die Kennis-boek beklemtoon het, sal die student goed toegerus wees vir die vraesessies wat deur die ouer manne gehou word ter voorbereiding vir sy doop.

23 Help diegene wat die tuisbybelstudie voltooi: Daar kan tereg verwag word dat ’n persoon se opregtheid en die mate waarin hy belangstel om God te dien duidelik sal wees teen die tyd dat hy ’n studie van die Kennis-boek voltooi het (Matt. 13:23). Dit is waarom die laaste onderhofie van die boek vra: “Wat gaan jy doen?” Die slotparagrawe doen ’n beroep op die student om deeglik na te dink oor die verhouding wat hy met God moes ontwikkel het, die nodigheid om die kennis wat hy opgedoen het toe te pas en die nodigheid om vinnig op te tree om sy liefde vir Jehovah te toon. Daar is geen voorsiening om bykomende publikasies te studeer met diegene wat die Kennis-boek voltooi het nie. Verduidelik op ’n vriendelike en duidelike manier aan ’n student wat nie op die kennis van God reageer nie wat hy moet doen om geestelik te vorder. Jy kan van tyd tot tyd met hom in aanraking kom en die weg vir hom ooplaat om die stappe te doen wat tot die ewige lewe lei.—Pred. 12:13.

24 ’n Nuwe dissipel wat die waarheid aanneem en gedoop word, moet nog baie kennis en insig verkry om geheel en al standvastig in die geloof te word (Kol. 2:6, 7). Pleks van voort te gaan met sy tuisbybelstudie nadat julle die Kennis-boek voltooi het, kan jy jou eerder beskikbaar stel om enige persoonlike hulp te verleen wat hy dalk nodig het om geestelik volwasse te word (Gal. 6:10; Heb. 6:1). Op sy beurt kan hy sy begrip verbreed deur die Bybel daagliks te lees, Die Wagtoring en ander publikasies van die ‘getroue slaaf’ op sy eie te bestudeer, vir die vergaderinge voor te berei en dit by te woon en deur die waarheid met medegelowiges te bespreek (Matt. 24:45-47; Ps. 1:2; Hand. 2:41, 42; Kol. 1:9, 10). As hy die Ons bediening-boek lees en toepas wat daarin staan, sal dit ’n belangrike rol daarin speel dat hy teokraties georganiseerd raak om sy bediening ten volle uit te voer.—2 Tim. 2:2; 4:5.

25 Ontwikkel die onderrigkuns: Ons het die opdrag ontvang om ‘dissipels van mense te maak en hulle te leer’ (Matt. 28:19, 20). Aangesien die onderrigkuns en dissipelmaakwerk ten nouste saamhang, wil ons daarna streef om beter onderrigters te word (1 Tim. 4:16; 2 Tim. 4:2). Vir bykomende wenke oor hoe om die onderrigkuns te ontwikkel, kan jy gerus die volgende lees: “Hoe om die leerkuns aan te leer” en “Hoe om tot die hart van jou toehoorders deur te dring” in die Skoolhandleiding, studies 10 en 15; “Teacher, Teaching” in Insight, Deel 2 en Die Wagtoring se artikels “Bou met vuurvaste materiale” en “Bereik die hart wanneer jy onderrig”, 1 Augustus 1984; “Redeneer jy met welslae uit die Skrif?”, 1 Maart 1986 en “Hoe om vreugde uit die dissipelmaakwerk te put”, 15 Februarie 1996.

26 Terwyl jy daarna streef om dissipels te maak deur die Kennis-boek te gebruik, moet jy altyd bid dat Jehovah, die een “wat dit laat groei”, jou pogings sal seën om menseharte met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik (1 Kor. 3:5-7). Mag jy die vreugde ondervind om ander te leer om die kennis wat tot die ewige lewe lei te verstaan, te waardeer en daarvolgens op te tree!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel