‘Getuig deeglik van die goeie nuus’
1. Watter goeie nuus het ons om te verkondig?
1 In ’n wêreld waar goeie nuus skaars is, het ons die voorreg “om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig” (Hand. 20:24). Dit sluit in dat ons mense vertel dat “die laaste dae” binnekort vervang sal word deur Jehovah se regverdige nuwe wêreld, waar ‘die vorige dinge verbygegaan het’ (2 Tim. 3:1-5; Op. 21:4). Dan sal daar geen siekte meer wees nie (Jes. 33:24). Geliefdes wat gesterf het, sal uit die gedenkgrafte kom en met hulle familie en vriende herenig word (Joh. 5:28, 29). Die hele aarde sal in ’n pragtige paradys omskep word (Jes. 65:21-23). Dit is net ’n paar aspekte van die goeie nuus wat ons het om te verkondig!
2. Waarom bied die Gedenkmaalseisoen uitstekende geleenthede om van die goeie nuus te getuig?
2 Maart, April en Mei sal uitstekende geleenthede bied om hierdie goeie nuus te verkondig. Gedurende hierdie maande maak die weer en langer dae in baie wêrelddele dit makliker om meer tyd aan die bediening te bestee. Daarbenewens sal die heel belangrikste geleentheid van die jaar, die Gedenkmaal, ná sononder op Saterdag 22 Maart gehou word. Dit is nou die tyd om te begin voorberei om meer in die bediening te doen.
3. Wat sal ons help om as gesinne meer in die bediening te doen?
3 Doen hulppionierdiens: Kan jy reël om een, twee of al drie maande hulppionierdiens te doen? Ruim gerus tyd tydens julle volgende gesinstudie in om hierdie saak te bespreek. Met goeie samewerking kan een of meer gesinslede dalk hulppionierdiens doen (Spr. 15:22). Maak dit ’n saak van gebed, en kyk hoe Jehovah jou pogings seën (Spr. 16:3). Al kan niemand in die gesin hulppionierdiens doen nie, kan almal in die gesin spesifieke doelwitte stel om meer in die bediening te doen terwyl hulle saam met dié werk wat kan pionier.
4. Hoe kan ons ons sake reël om hulppionierdiens te doen as ons ’n voltydse werk het?
4 As jy ’n voltydse werk het, kan ’n goeie rooster jou in staat stel om hulppionierdiens te doen. Jy kan miskien ’n deel van jou etenstyd gebruik om te getuig. Of jy kan persoonlike gebied naby jou huis of werk kry en ’n uur of wat voor of ná werk aan die bediening deelneem. Jy kan miskien meer tyd in jou rooster inruim deur onbelangrike bedrywighede tot ’n ander maand uit te stel en deur oor die naweke volle dae in die bediening deur te bring. Party het al een of twee dae verlof geneem om velddiens te doen.
5. Hoe kan jy die bejaardes of siekes help om hulppionierdiens te doen?
5 As jy bejaard of siek is of jou energie beperk is, kan jy dalk hulppionierdiens doen deur elke dag ’n bietjie tyd in die bediening deur te bring. Vra Jehovah om jou “krag wat bo die normale is”, te gee (2 Kor. 4:7). ’n Suster was in staat om hulppionierdiens te doen hoewel sy 106 jaar oud was! Met die hulp van haar Christenfamilielede en ander in die gemeente het sy van huis tot huis getuig, herbesoeke gedoen, saamgegaan na Bybelstudies en aan ander aspekte van die bediening deelgeneem. Sy het gehelp om Bybelstudies met tien mense te begin. “As ek dink aan die wonderlike voorreg wat ek gehad het om as ’n hulppionier te dien”, sê sy, “swel my hart van liefde en waardering vir Jehovah, sy Seun en Sy liefdevolle organisasie. Ek wil van harte ‘dankie, Jehovah!’ sê.”
6. Hoe is dit moontlik vir gedoopte jongmense wat nog op skool is, om hulppionierdiens te doen?
6 As jy ’n gedoopte jongmens is wat nog op skool is, sal jy dalk ook as ’n hulppionier kan dien. Soos diegene wat voltyds werk, sal jy waarskynlik die meeste van jou velddiens oor die naweke doen. Miskien kan jy ook party dae ’n uur of wat ná skool uitgaan. Is daar ’n skoolvakansie wat jy kan gebruik om aan die bediening deel te neem? As jy graag hulppionierdiens wil doen, kan jy gerus met jou ouers daaroor praat.
7. Wat kan die ouer manne doen om geesdrif te wek vir die bediening gedurende die Gedenkmaalseisoen?
7 Wek geesdrif: Die ouer manne kan baie doen om die gemeente se geesdrif te wek deur hulle voorbeeld (1 Pet. 5:2, 3). Hulle besluit dalk om bykomende velddiensvergaderinge te reël vir diegene wat vroeg in die oggend, ná skool of ná werk aan die bediening sal deelneem. Die diensopsiener moet seker maak dat bekwame verkondigers aangewys word om die leiding te neem en dat daar genoeg gebied sowel as tydskrifte en lektuur vir hierdie maande van spesiale bedrywigheid beskikbaar is.
8. Wat leer ons uit die ondervinding van een gemeente?
8 In een gemeente het die ouer manne die verkondigers maande voor die tyd begin aanspoor om hulppionierdiens te doen. Hulle het elke week vir die gemeente gesê hoeveel verkondigers goedgekeur is om hulppionierdiens te doen. Dit het diegene wat graag meer in die bediening wou doen, verseker dat hulle goeie ondersteuning sou hê. Daar is gereël dat bykomende velddiensvergaderinge vroeg in die oggend en in die aand gehou word. Die gevolg was dat 53 verkondigers in April hulppionierdiens gedoen het, byna die helfte van die gemeente!
9. Waarom is die Gedenkmaalseisoen ’n uitstekende tyd vir diegene wat aan die vereistes voldoen, om verkondigers van die goeie nuus te word?
9 Help ander om te getuig: Wanneer nuwelinge en jongmense aan die vereistes voldoen om verkondigers te word, kan hulle genooi word om saam met ervare verkondigers in die velddiens te werk. Hierdie geleentheid kan hom gedurende die Gedenkmaalseisoen voordoen wanneer baie in die gemeente meer in die bediening sal doen. Het jy ’n progressiewe Bybelstudent wat sy lewe in ooreenstemming met Jehovah se regverdige standaarde gebring het? Het jy kinders wat hulle goed gedra en goeie vooruitgang maak, maar nog nie verkondigers is nie? As hulle die begeerte uitgespreek het om ’n ongedoopte verkondiger te word en jy meen dat hulle aan die vereistes voldoen, moet jy dit vir een van die ouer manne sê. Die presiderende opsiener sal reël dat twee ouer manne die saak met jou en jou kind of student bespreek.
10. Wat kan die ouer manne doen om die onbedrywiges te help?
10 Die komende maande sal ook ’n uitstekende tyd wees vir diegene wat onbedrywig geword het, om weer saam met die gemeente te begin werk. Gemeentelike Boekstudieopsieners en ander ouer manne moet ’n ywerige poging aanwend om hulle te besoek en ’n hartlike persoonlike uitnodiging rig om saam met hulle in die bediening te werk. As hulle lank onbedrywig was, moet twee ouer manne eers met hulle praat om te bepaal of hulle aan die vereistes voldoen.—km-AF 11/00 bl. 3.
11. Wat is die grootste blyk van “die onverdiende goedhartigheid van God”?
11 Berei voor vir die Gedenkmaal: Die losprys is die grootste blyk van “die onverdiende goedhartigheid van God” (Hand. 20:24). Miljoene dankbare mense oor die hele wêreld sal Saterdag 22 Maart, ná sononder, bymekaarkom om die Herdenking van Christus se dood te hou. Ons wil al die opregtes van hart nooi en help om hierdie belangrike geleentheid by te woon wat getuig van Jehovah se onverdiende goedhartigheid teenoor die mensdom.
12. Wie moet ons na die Gedenkmaal nooi?
12 Stel ’n lys op van diegene wat jy wil nooi. Jou lys sal ongetwyfeld familielede, bure, werks- of skoolmaats, huidige en voormalige Bybelstudente en al die ander mense wat jy gereeld besoek, insluit. As party wat jy nooi, vrae oor die Gedenkmaal het, sal jy dit dalk nuttig vind om die artikel oor die Here se Aandmaal in die aanhangsel op bladsye 206-8 van die Leer Bybel-boek te gebruik. Dit kan selfs die weg baan vir ’n Bybelstudie, want dit sal jou die geleentheid bied om die publikasie bekend te stel wat ons gebruik om Bybelstudies te hou.
13. Hoe het Jehovah die pogings geseën van twee verkondigers wat ’n punt daarvan gemaak het om ander na die Gedenkmaal te nooi?
13 ’n Suster het ’n lys opgestel met 48 gesinne wat sy wou nooi. Nadat sy hulle genooi het, het sy ’n streep deur die naam getrek en die datum neergeskryf waarop sy hulle genooi het. Hoe bly was sy tog dat 26 van die mense wat sy genooi het, na die Gedenkmaal gekom het! ’n Broer wat ’n winkeleienaar is, het ’n werknemer genooi wat vroeër ’n priester was. Die man het dit bygewoon en daarna gesê: “Ek het in ’n uur meer van die Bybel geleer as in die 30 jaar wat ek in die Katolieke Kerk was.” Kort ná die Gedenkmaal het hy ingestem om die Leer Bybel-boek te bestudeer.
14. Watter wêreldwye kampanje sal op 1 Maart begin?
14 Kampanje: Van Saterdag 1 Maart af tot 22 Maart sal ’n spesiale uitnodiging na die Gedenkmaal wêreldwyd versprei word. Ons almal moet probeer om ’n volle aandeel aan hierdie belangrike kampanje te hê. Dit is beter om vir die huisbewoner persoonlik ’n uitnodiging te gee as om dit by die deur te laat. Maar as julle gebied groot is, kan die ouer manne besluit dat uitnodigings op ’n onopsigtelik plek gelaat kan word by huise waar niemand tuis is nie. Gedurende die naweke sal ons ook die jongste tydskrifte aanbied.
15. Hoe kan ons die Gedenkmaaluitnodiging aanbied?
15 Aangesien ons ’n beperkte tyd het om die uitnodigings te versprei, is ’n kort aanbieding die beste. Wees vriendelik en geesdriftig. Jy kan iets sê soos: “Ons wil seker maak dat jy, jou gesinslede en jou vriende genooi word na ’n belangrike geleentheid wat op 22 Maart gehou sal word. Hier is jou uitnodiging. Die besonderhede is op die uitnodiging gedruk.” Die huisbewoner het dalk vrae. Of hy aanvaar miskien die uitnodiging en sê moontlik selfs dat hy sal kom. Maak ’n aantekening van die belangstelling wat getoon is en reël om hom weer te besoek.
16. Watter ondervinding lig die waarde toe van die kampanje om mense in die gebied na die Gedenkmaal te nooi?
16 Verlede jaar het ’n soldaat die Gedenkmaaluitnodiging by sy deur gekry. Hy het besluit om dit by te woon, maar moes toestemming van sy sersant kry. Toe hy die uitnodiging vir die sersant wys, het die sersant stil geword en toe gesê dat sy ouers Getuies is en dat hy vroeër vergaderinge saam met hulle bygewoon het. Hy het die soldaat nie net toestemming gegee om dit by te woon nie, maar die sersant het saam met hom na die Gedenkmaal gegaan!
17. Hoe toon ons dat ons nie die doel van God se onverdiende goedhartigheid gemis het nie?
17 Toon waardering: Laat elkeen van ons, terwyl die 2008-Gedenkmaalseisoen nader kom, nadink oor die onverdiende goedhartigheid wat Jehovah teenoor ons betoon. Die apostel Paulus het geskryf: “Ons [versoek] julle ook dringend om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie” (2 Kor. 6:1). Hoe toon ons dat ons nie die doel van God se onverdiende goedhartigheid gemis het nie? Paulus het geskryf: “Maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan” (2 Kor. 6:4). Ons toon dus ons waardering vir Jehovah se gawe deur ons goeie gedrag en deur die goeie nuus ywerig te verkondig. Gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen sal ons ’n uitstekende geleentheid hê om meer in die bediening te doen en deeglik van die goeie nuus te getuig.
[Venster op bladsy 3]
Wie kan moontlik hulppionierdiens doen?
◼ Gesinne
◼ Diegene wat voltyds werk
◼ Die bejaardes en siekes
◼ Diegene wat nog op skool is
[Venster op bladsy 4]
Wanneer jy Gedenkmaaluitnodigings versprei:
◼ Wees saaklik; praat met geesdrif
◼ Maak ’n aantekening van belangstelling en gaan terug
◼ Bied tydskrifte gedurende die naweke aan