Laat ons ons waardering toon—Die Gedenkmaal sal op 17 April gehou word
1. Watter gevoel van die psalmis is veral tydens die Gedenkmaalseisoen gepas?
1 Jehovah se talryke dade van barmhartigheid en verlossing het die psalmis aangespoor om te vra: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?” (Ps. 116:12). Vandag het God se knegte selfs meer rede om dankbaar te wees. Eeue nadat hierdie geïnspireerde woorde opgeteken is, het Jehovah die grootste geskenk aan die mensdom gegee—die losprys. Terwyl ons voorberei om Christus se dood op 17 April te herdenk, het ons goeie rede om te toon dat ons dankbaar is.—Kol. 3:15.
2. Wat is party redes waarom ons die losprys waardeer?
2 Seëninge van die losprys: Deur middel van die losprys kan ons “die vergifnis van ons sondes” ontvang (Kol. 1:13, 14). Dit stel ons in staat om Jehovah met ’n rein gewete te aanbid (Heb. 9:13, 14). Ons kan vrymoedigheid van spraak teenoor Jehovah geniet wanneer ons hom in gebed nader (Heb. 4:14-16). Diegene wat geloof beoefen in die losprys, het die wonderlike vooruitsig op die ewige lewe!—Joh. 3:16.
3. Hoe kan ons ons waardering vir die losprys aan Jehovah betoon?
3 Toon waardering: Een manier waarop ons ons diepe waardering kan toon, is om elke dag die Bybelleesgedeelte vir die Gedenkmaal te lees en daaroor te peins. Die artikel “Is jy voorbereid vir die allerbelangrikste dag van die jaar?” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2011 is geskryf om ons te help om dit te doen. Ons kan ook deur middel van hartgrondige gebed vir Jehovah vertel hoeveel ons die losprys waardeer (1 Tess. 5:17, 18). Ons teenwoordigheid by die Gedenkmaal in gehoorsaamheid aan Jesus se bevel toon dat ons dankbaar is (1 Kor. 11:24, 25). Wat meer is, ons kan Jehovah se groot liefde navolg en soveel mense as moontlik uitnooi om dit saam met ons by te woon.—Jes. 55:1-3.
4. Wat moet ons vaste voorneme wees?
4 Dankbare knegte van Jehovah sal nie die Gedenkmaal as net ’n gewone vergadering beskou nie. Dit is die allerbelangrikste vergadering van die jaar! Terwyl die Gedenkmaal nader kom, mag ons dieselfde vaste voorneme hê as die psalmis, wat geskryf het: “Loof Jehovah, o my siel, en moenie al sy dade vergeet nie.”—Ps. 103:2.