Gebruik traktate om die goeie nuus te verkondig
1. Hoe is traktate deur God se volk gebruik?
1 Bybeltraktate word al lank deur Jehovah se volk gebruik om die goeie nuus te verkondig. In 1880 het C.T. Russell en sy metgeselle die Bible Students’ Tracts begin druk, en dit is aan lesers van die Watch Tower gegee om onder die publiek te versprei. Toe C.T. Russell in 1884 ’n wetlike korporasie sonder winsoogmerk geregistreer het om Koninkryksbelange te bevorder, is traktate as so belangrik beskou dat die woord “traktaat” ingesluit is in die naam Zion’s Watch Tower Tract Society, nou die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië. Teen 1918 is meer as 300 miljoen traktate deur die Bybelstudente versprei. Traktate is nog steeds ’n doeltreffende hulpmiddel in die getuieniswerk.
2. Waarom is traktate doeltreffend?
2 Waarom dit doeltreffend is: Traktate is kleurvol en vang die oog. Die bondige boodskap wat dit bevat, is boeiend en leersaam. Dit vind byval by huisbewoners wat dalk skrikkerig is om ’n tydskrif of ’n boek te neem. Traktate is maklik om aan te bied, selfs deur nuwe verkondigers en kinders. Daarbenewens is traktate ’n gerieflike grootte en maklik om te dra.
3. Vertel ’n persoonlike of gepubliseerde ondervinding wat die waarde van traktate toelig.
3 Baie mense se eerste kontak met die waarheid was deur middel van ’n traktaat. Byvoorbeeld, ’n vrou in Haïti het een van ons traktate in die straat sien lê. Sy het dit opgetel, dit gelees en uitgeroep: “Ek het die waarheid gevind!” Uiteindelik het sy na die Koninkryksaal gegaan, die Bybel begin studeer en is sy gedoop—alles weens die krag van God se Woord wat in ’n traktaat gevind is.
4. Wat is ons doel wanneer traktate die aanbod vir die maand is?
4 Van huis tot huis: Aangesien traktate ’n doeltreffende hulpmiddel is om ’n getuienis te gee, sal dit vanaf November van tyd tot tyd die aanbod vir die maand wees. Ons doel is nie net om traktate uit te gee nie, maar om die traktate te gebruik om gesprekke te begin. As die huisbewoner tydens die eerste besoek of die herbesoek belangstelling toon, kan ons ’n Bybelstudie demonstreer deur die Leer Bybel-boek of ’n ander studiepublikasie te gebruik. Hoe kan ons traktate van huis tot huis aanbied? Elke traktaat is anders, en daarom moet ons goed vertroud wees met dié wat ons aanbied.
5. Hoe kan ons traktate van huis tot huis aanbied?
5 Ons moet ons aanbieding aanpas by ons gebied en die traktaat wat ons gebruik. Ons kan die gesprek begin deur die traktaat vir die huisbewoner te gee. Die aantreklike voorblad sal heel moontlik sy belangstelling prikkel. Of ons kan vir die huisbewoner verskeie traktate wys, en hy kan die een kies waarin hy belangstel. Wanneer ons in ’n gebied werk waar mense huiwer om die deur oop te maak, kan ons die traktaat so hou dat die huisbewoner die voorblad kan sien, of ons kan vra of ons iets onder die deur kan inskuif en kan hoor wat sy mening daaromtrent is. As die titel van die traktaat ’n vraag is, kan ons hom vra om sy mening daaroor uit te spreek. Of ons kan ons eie vraag stel wat belangstelling sal wek en ’n gesprek aan die gang sal kry. Dan kan ons ’n gedeelte van die traktaat saam met die huisbewoner lees, by die vrae daarin pouseer en die huisbewoner nooi om sy mening uit te spreek. Sleuteltekste kan uit die Bybel gelees word. Nadat ons ’n gedeelte van die materiaal bespreek het, kan ons die bespreking afsluit en definitiewe reëlings tref om terug te gaan. As die gemeente normaalweg lektuur by nietuise laat, kan ons, as die huisbewoner nie by die huis is nie, ’n traktaat laat waar verbygangers dit nie sal sien nie.
6. Hoe kan traktate in straatgetuieniswerk gebruik word?
6 Straatgetuieniswerk: Het jy al traktate in straatgetuieniswerk gebruik? Soms is verbygangers haastig en wil hulle nie stop om met ons te gesels nie. Dit kan moeilik wees om vas te stel of hulle werklik belangstel. Pleks van die nuutste tydskrifte vir hulle te gee sonder om te weet of hulle dit sal lees, kan jy eerder vir hulle ’n traktaat gee. Aangesien die voorblad aantreklik en die boodskap kort is, kan nuuskierigheid mense beweeg om die traktaat te lees wanneer hulle ’n paar minute het. Wanneer mense nie haastig is nie, kan ons natuurlik ’n gedeelte van die traktaat met hulle bespreek.
7. Vertel ondervindinge wat toon hoe om traktate in informele getuieniswerk te gebruik.
7 Informele getuieniswerk: Dit is maklik om informeel te getuig met traktate. Een broer sit ’n paar in sy sak wanneer hy die huis verlaat. Wanneer hy iemand ontmoet, soos ’n winkelklerk, bied hy eenvoudig vir hom ’n traktaat aan om te lees. Toe ’n egpaar na die stad New York gegaan het om na besienswaardighede te gaan kyk, het hulle besef dat hulle met mense van verskeie ander lande in aanraking sou kom. Hulle het dus die Nations-boekie en etlike traktate in verskillende tale saamgeneem. Wanneer hulle dan ’n straathandelaar of iemand wat naby hulle in ’n park of restaurant gesit het, ’n vreemde taal hoor praat het, het hulle vir hom ’n traktaat in sy moedertaal aangebied.
8. In watter opsig is traktate soos saad?
8 “Saai jou saad”: Traktate kan met saad vergelyk word. ’n Boer saai sy saad mildelik, want hy weet nie watter saad sal ontkiem en opkom nie. Prediker 11:6 sê: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie.” Laat ons dus ‘voortdurend kennis uitstrooi’ deur middel van hierdie doeltreffende hulpmiddel in die getuieniswerk.—Spr. 15:7.
[Lokteks op bladsy 3]
Aangesien traktate ’n doeltreffende hulpmiddel is om ’n getuienis te lewer, sal dit vanaf November van tyd tot tyd die aanbod vir die maand wees