Sal jy hulppionierdiens doen?
1. Waarom is die Gedenkmaalseisoen ’n goeie tyd om ons bediening uit te brei?
1 Die Gedenkmaalseisoen is ’n goeie tyd om ons bediening uit te brei. Dit is ’n tyd wanneer ons nadink oor die groot liefde wat Jehovah betoon het toe hy sy Seun as ’n losprys voorsien het (Joh. 3:16). Dit laat waardering in ons hart opwel en versterk ons begeerte om ander te vertel van Jehovah en wat hy vir die mensdom doen (Jes. 12:4, 5; Luk. 6:45). Dit is ook ’n tyd wanneer ons aan ’n spesiale kampanje deelneem om kennisse en mense in die gebied te nooi om die Gedenkmaal saam met ons by te woon. Ná die Gedenkmaal probeer ons die belangstelling kweek van dié wat dit bygewoon het. Sal jy jou bediening uitbrei deur gedurende Maart, April of Mei hulppionierdiens te doen?
2. Waarom is Maart ’n besonder goeie maand om hulppionierdiens te doen?
2 Maak Maart ’n uitsonderlike maand: Maart sal ’n besonder goeie maand wees om hulppionierdiens te doen. Dié wat aansoek doen, kan kies of hulle aan ’n uurvereiste van 30 of 50 uur wil voldoen. As die kringopsiener julle gemeente gedurende Maart besoek, kan die hulppioniers die hele vergadering bywoon wat hy met die gewone en spesiale pioniers hou. Die kampanje om mense na die Gedenkmaal te nooi, wat op Dinsdag 26 Maart 2013 gehou sal word, sal langer wees as in vorige jare en sal op 1 Maart begin. Maart het ook vyf volle naweke. Jy kan dit dus gerus ernstig oorweeg of jy daartoe kan bydra om hierdie maand die uitsonderlikste maand van die jaar te maak.
3. Hoe kan ons reëlings tref om meer in die bediening te doen?
3 Tref nou reëlings: Dit is nou die tyd om weer oor jou program te dink en te kyk watter aanpassings jy moet maak om as ’n pionier te dien. Samewerking deur die gesin is belangrik, en daarom sal dit goed wees as julle gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding tyd inruim om julle gesin se doelwitte te bespreek en ’n rooster op te stel (Spr. 15:22). As jy nie hulppionierdiens kan doen nie, moet jy nie ontmoedig wees nie. Kan jy jou program aanpas om langer te werk op die dae wat jy wel in velddiens uitgaan? Kan jy nog ’n dag gedurende die week in die bediening uitgaan?
4. Watter voordele sal dit meebring as ons gedurende Maart, April en Mei meer in die bediening doen?
4 Wanneer ons gedurende Maart, April en Mei meer in die bediening doen, sal ons meer vreugde en bevrediging smaak omdat ons Jehovah dien en aan ander gee (Joh. 4:34; Hand. 20:35). Nog belangriker, ons selfopofferende inspanning sal Jehovah bly maak.—Spr. 27:11.