Saterdag 30 Augustus
Vertroos . . . ander . . . met die vertroosting wat ons van God ontvang. – 2 Kor. 1:4.
Jehovah verfris en vertroos dié wat deur ’n moeilike tyd gaan. Hoe kan ons Jehovah navolg en meegevoel vir ander hê en hulle vertroos? Een manier hoe ons dit kan doen, is deur eienskappe in ons hart te ontwikkel wat ons sal help om meegevoel te hê en ander te vertroos. Wat is van hierdie eienskappe? Wat sal ons help om die liefde te behou wat ons nodig het om elke dag ‘aan te hou om mekaar te vertroos’? (1 Tess. 4:18). Ons moet medelye, broederlike liefde en goedhartigheid ontwikkel (Kol. 3:12; 1 Pet. 3:8). Hoe sal hierdie eienskappe ons help? Wanneer meegevoel en eienskappe wat daarmee verband hou, deel van ons persoonlikheid word, kan ons nie anders as om dié te vertroos wat deur moeilike tye gaan nie. Dit is soos Jesus gesê het: “Uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring goeie dinge uit sy goeie skat” (Matt. 12:34, 35). Om ons broers en susters te vertroos wat deur ’n moeilike tyd gaan, is werklik ’n belangrike manier hoe ons vir hulle kan wys dat ons hulle liefhet. w23.11 10 ¶10-11
Sondag 31 Augustus
Dié wat insig het, sal verstaan. – Dan. 12:10.
Ons moet hulp vra as ons Bybelprofesieë wil verstaan. Dink aan hierdie illustrasie. Verbeel jou dat jy ’n onbekende plek besoek, maar ’n vriend wat saam met jou reis, ken die gebied baie goed. Hy weet presies waar julle is en waarheen elke pad lei. Jy is beslis baie bly dat jou vriend ingestem het om saam met jou te kom! Net so weet Jehovah in watter tydperk ons lewe en wat op die pad vorentoe gaan gebeur. So om Bybelprofesieë te verstaan, moet ons Jehovah se hulp nederig vra (Dan. 2:28; 2 Pet. 1:19, 20). Soos enige goeie ouer wil Jehovah hê dat sy kinders ’n gelukkige toekoms moet hê (Jer. 29:11). Maar anders as enige mense-ouer kan Jehovah presies voorspel wat in die toekoms gaan gebeur. Hy het profesieë in sy Woord laat neerskryf sodat ons van belangrike gebeure kan weet voordat dit gebeur. – Jes. 46:10. w23.08 8 ¶3-4
Maandag 1 September
Die lig [sal] teen dagbreek skyn. – Luk. 1:78.
God het vir Jesus die krag gegee om al mense se probleme op te los. Jesus het deur middel van sy wonderwerke bewys dat hy al die probleme kan wegneem wat ons nooit op ons eie sou kon oplos nie. Byvoorbeeld, hy het die krag om ons vry te maak van die oorsaak van al mense se probleme – oorgeërfde sonde en die gevolge daarvan, insluitende siekte en die dood (Matt. 9:1-6; Rom. 5:12, 18, 19). Sy wonderwerke het bewys dat hy “elke soort” siekte kan genees en selfs die dooies kan opwek (Matt. 4:23; Joh. 11:43, 44). Hy het ook die krag om baie groot windstorms te beheer en om mense van bose geeste te bevry (Mark. 4:37-39; Luk. 8:2). Dit is baie gerusstellend om te weet dat Jehovah vir sy Seun so baie krag gegee het! Ons kan die volle vertroue hê dat die toekomstige seëninge onder God se Koninkryk sal waar word. Die wonderwerke wat Jesus gedoen het toe hy ’n mens op die aarde was, leer ons wat hy op ’n baie groter skaal sal doen as die hemelse Koning van God se Koninkryk. w23.04 3 ¶5-7