Dinsdag 2 September
Die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God. – 1 Kor. 2:10.
As jy in ’n groot gemeente is en jy jou hand opsteek en voel dat jy baie keer nie gevra word om te antwoord nie, sal jy dalk wil opgee. Maar moenie ophou probeer om antwoorde te gee nie. Berei ’n hele paar antwoorde vir elke vergadering voor. Dan as jy nie vroeg in die studie gevra was om te antwoord nie, sal jy nog steeds geleenthede hê om later in die vergadering te antwoord. Wanneer jy vir die Wagtoring-studie voorberei, dink aan hoe elke paragraaf met die tema van die artikel verband hou. As jy dit doen, sal jy heel moontlik goeie antwoorde hê wat jy regdeur die studie kan gee. Jy kan ook antwoorde op paragrawe voorberei wat dieper Bybelleringe bespreek wat moeiliker is om te verduidelik. Hoekom? Omdat daar dalk minder sal wees wat gedurende daardie deel van die studie sal deelneem. Wat as jy ná ’n hele paar vergaderinge nog steeds nie ’n geleentheid gehad het om ’n antwoord te gee nie? Sê voor die vergadering vir die studiehouer by watter vraag jy graag wil antwoord. w23.04 21-22 ¶9-10
Woensdag 3 September
Josef [het] gedoen wat die engel van Jehovah vir hom gesê het om te doen, en hy het sy vrou huis toe geneem. – Matt. 1:24.
Josef het Jehovah se instruksies gewilliglik gevolg, en dit het hom ’n beter man gemaak. Op ten minste drie geleenthede het hy instruksies van God af gekry oor sy gesin. Elke keer was hy onmiddellik gehoorsaam daaraan, selfs wanneer dit beteken het dat hy groot veranderinge moes maak (Matt. 1:20; 2:13-15, 19-21). Deur God se instruksies te volg, het Josef Maria beskerm, haar ondersteun en vir haar gesorg. Dink net hoe Josef se dade Maria se liefde en respek vir hom moes vergroot het! Mans, julle kan Josef navolg deur raad uit die Bybel te soek oor hoe om vir julle gesinne te sorg. Wanneer jy hierdie raad toepas, selfs al beteken dit dat jy veranderinge moet maak, wys jy dat jy jou vrou liefhet en versterk jy jou huwelik. ’n Suster in Vanuatu wat al vir meer as 20 jaar getroud is sê: “Wanneer my man Jehovah se leiding soek en dit volg, respekteer ek hom meer. Ek voel veilig, en ek het vertroue in sy besluite.” w23.05 21 ¶5
Donderdag 4 September
Daar sal ’n grootpad wees, ja, ’n weg wat die Weg van Heiligheid genoem word. – Jes. 35:8.
Die Jode wat uit Babilon gekom het, sou “’n heilige volk” vir hulle God word (Deut. 7:6). Maar dit het nie beteken dat hulle nie enige veranderinge moes maak om Jehovah gelukkig te maak nie. Die meeste van die Jode wat in Babilon gebore is, het heel moontlik gewoond geraak aan party van die denke en standaarde van die Babiloniërs. Baie jare nadat die eerste Jode teruggegaan het na Israel, was goewerneur Nehemia verbaas om uit te vind dat kinders wat in Israel gebore was, nie eens die taal van die Jode geleer het nie (Deut. 6:6, 7; Neh. 13:23, 24). Hoe kon daardie kinders leer om Jehovah lief te kry en te aanbid as hulle nie eens Hebreeus – die hooftaal waarin God se Woord geskryf was – verstaan het nie? (Esra 10:3, 44). So daardie Jode moes groot veranderinge maak, maar dit sou vir hulle baie makliker wees om daardie veranderinge in Israel te maak, waar rein aanbidding geleidelik besig was om herstel te word. – Neh. 8:8, 9. w23.05 15 ¶6-7