Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/1 bl. 26-30
  • Het God jou tot vrede geroep?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het God jou tot vrede geroep?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Emosionele of seksuele behoeftes
  • Eensaamheid kan verminder word
  • Gebed is noodsaaklik
  • Bewaar deur “die vrede van God”
  • Wanneer huweliksvrede bedreig word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Bied ondersteuning aan medegelowiges wat geskei is​—⁠Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/1 bl. 26-30

Het God jou tot vrede geroep?

“As die ongelowige wil [weggaan], laat hom [weggaan]. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.”—1 KORINTHIËRS 7:15, vgl. NW.

1. Hoe moet die huwelik volgens die Skrif beskou word?

DIT was nooit Jehovah se voorneme dat die huwelik tot hartverskeurende skeiding of egskeiding moes lei nie. Die huwelik moes ’n blywende band van “een vlees” wees, wat vreugde, rus en vrede sou meebring (Genesis 2:24; Rut 1:9). In die algemeen maan die Skrif getroudes om bymekaar te bly, al is een huweliksmaat ’n Christen en die ander ’n ongelowige (1 Korinthiërs 7:12-16). Bowendien maak verraderlike optrede wat die verbreking van huweliksbande tot gevolg het ’n mens moreel aanspreeklik teenoor God, wat ‘egskeiding haat’.—Maleagi 2:13-16.

2. Hoe beskou Christene skeiding en egskeiding?

2 Menslike onvolmaaktheid en ander faktore het soms selfs onder gedoopte knegte van God tot skeiding of egskeiding gelei. Maar omdat Christene groot respek vir die huwelik het, word hierdie stappe gewoonlik eers gedoen na volgehoue pogings om huwelike te red. God self het in hierdie verband die grootste voorbeeld gestel. As die “eggenoot-eienaar” van eertydse Israel het hy sy volk se koppigheid, opstand en geestelike owerspel eeue lank verduur (Jesaja 54:1-5, NW; Jeremia 3:14-17; Hosea 1:10, 11; 3:1-5). Eers nadat hulle sodanig ontaard het dat hulle nie verander kon word nie, het Jehovah hulle as ’n nasie verwerp.—Mattheüs 23:37, 38.

3. (a) Om watter Skriftuurlik toelaatbare redes kan ’n Christen ’n huweliksmaat verlaat? (b) Onder watter omstandighede is Skriftuurlike egskeiding moontlik?

3 Gemeentelike ouere manne word soms genader deur medegelowiges wat hulp met ernstige huweliksprobleme verlang. Die ouere manne is nie gemagtig om vir enigiemand te sê dat hy of sy ’n huweliksmaat moet verlaat of van hom of haar moet skei nie, maar hulle kan wys op wat God se Woord oor hierdie sake sê. Soos die vorige artikel getoon het, is skeiding Skriftuurlik toelaatbaar in ’n geval van opsetlike versuim om te onderhou, uitermatige fisiese mishandeling of die algehele ingevaarstelling van geestelikheid. Daar is ook gemeld dat Skriftuurlike egskeiding met die moontlikheid van ’n toekomstige huwelik met ’n ander persoon moontlik is as ’n huweliksmaat hom of haar aan “hoerery” skuldig gemaak het, wat etlike vorme van onsedelike geslagsomgang insluit (Mattheüs 19:9). Skeiding of egskeiding moet natuurlik nie ’n uitgemaakte saak wees nie, aangesien huweliksvrede dalk herstel kan word, en selfs owerspel of ander vorme van hoerery deur ’n onskuldige huweliksmaat vergewe kan word.—Mattheüs 5:31, 32; vergelyk Hosea 3:1-3.

4. (a) Som kortliks op wat Paulus in 1 Korinthiërs 7:10-16 vir getroude Christene gesê het. (b) Wanneer kan daar gesê word: “God het ons tot vrede geroep”?

4 Soos ons in die vorige artikel gesien het, het die apostel Paulus getroude Christene gemaan om nie hulle huweliksmaats te verlaat nie (1 Korinthiërs 7:10-16, vgl. NW). As ’n ongelowige huweliksmaat verkies om by sy Christenhuweliksmaat te bly, moet die gelowige, met die oog op Paulus se woorde, probeer om hom geestelik te help (1 Petrus 3:1-4). Sy bekering sou baie help om die huis ’n plek van rus en vrede te maak. Maar wat kan die Christen doen as die ongelowige so sterk teen die geloof van sy of haar gelowige huweliksmaat beswaar maak dat hy of sy ’n skeiding verkies? As die gelowige hom of haar probeer dwing om te bly, sal die ongelowige die situasie moontlik so onaangenaam maak dat die Christen geen vrede sal hê nie. Die gelowige kan die ongelowige dus ter wille van vrede laat gaan (Mattheüs 5:9). Alleenlik wanneer ’n ongelowige huweliksmaat weggaan, kan daar gesê word: “God het ons tot vrede geroep.” Hierdie woorde kan nie met reg gebruik word om twee Christenhuweliksmaats se skeiding weens onskriftuurlike of nietige redes te regverdig nie.

5. Watter vrae verdien nou ons oorweging?

5 Elke skeiding of egskeiding het sy individuele faktore, en geen “formule” geld vir elke geval nie. Maar voor watter probleme kan ’n Christen na ’n skeiding of egskeiding te staan kom? Wat kan daaromtrent gedoen word? En hoe kan ander help?

Emosionele of seksuele behoeftes

6. Wat kan omtrent probleme as gevolg van skeiding en egskeiding gesê word?

6 Skriftuurlik toelaatbare skeiding of egskeiding sal sommige probleme oplos. Maar sulke stappe veroorsaak basies dat ’n mens een stel probleme vir ’n ander verruil. Een geskeide Christin het byvoorbeeld gesê: “Ek kan nie anders as om Jehovah te bedank dat ek nou vrede het nie.” Maar sy het erken: “Dis nie maklik om as enkelouer kinders groot te maak nie. En ’n mens kan soms baie eensaam en terneergedruk raak. Selfs seksueel is dit nie maklik nie. ’n Mens moet jou by ’n heeltemal ander lewe aanpas.”a

7. Waarom moet ’n Christen ernstig oor die gevolge van skeiding en egskeiding nadink?

7 As ’n Christen ’n keuse het, moet hy derhalwe ernstig oor die moontlike gevolge van skeiding of egskeiding nadink. Oorweeg byvoorbeeld emosionele behoeftes, moontlik ’n vrou se begeerte na manlike geselskap. (Vergelyk Genesis 3:16.) ’n Geskeide vrou wil dalk baie graag weer trou. Party wil uit ’n moeilike huwelik kom, maar is hulle bereid om die moontlikheid te aanvaar dat daar dalk nie ’n geleentheid sal wees om weer te trou nie?

8. (a) Wat moet uiteengegane Christenhuweliksmaats, met die oog op 1 Korinthiërs 7:11, biddend oorweeg? (b) Watter behoeftes moet nie geringgeag word wanneer ’n mens skeiding of egskeiding oorweeg nie?

8 Paulus het geskryf: “As sy tog van hom [weggaan], moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen” (1 Korinthiërs 7:11, vgl. NW). Met ’n bietjie inspanning sal dit vir ’n vrou moontlik wees om haar met haar man te “versoen” of om ‘die vrede te herstel’. As Christenhuweliksmaats uiteengegaan het, moet hulle versoening dus baie ernstig en biddend oorweeg. En hulle moet nie die feit oor die hoof sien dat geslagsdrange ’n gevaar kan inhou nie. Hoe sal God hulle beskou as hulle versuim om versoen te raak onsedelikheid tot gevolg het? Hierdie gevaar word toegelig deur die ondervinding van ’n sekere gedoopte vrou. Na ’n egskeiding het sy met ’n wêreldse man begin uitgaan, weldra swanger geraak en is sy uitgesit. Hoewel sy later herstel is, beklemtoon haar ondervinding dat versigtigheid en biddende vertroue op Jehovah nodig is om ‘sonde teen God’ te vermy (Genesis 39:7-12). Dit is ook duidelik dat emosionele en seksuele behoeftes nie geringgeag moet word wanneer skeiding of egskeiding aanvanklik oorweeg word nie.

Eensaamheid kan verminder word

9. Hoe kan ons Christene wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het, help om teen eensaamheid te stry?

9 As ’n skeiding of egskeiding onvermydelik is, sal ’n mens die gevolglike probleme die hoof moet bied. Eensaamheid is byvoorbeeld ’n ernstige probleem vir sommige Christene wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het. Wat kan ander hieromtrent doen? Wel, gemeentelike ouere manne en ander kan geestelike belangstelling in sulke individue toon en probeer om hulle te bemoedig. (Vergelyk 1 Thessalonicense 5:14.) Ons kan hierdie persone en hulle kinders byvoorbeeld van tyd tot tyd vir ’n beskeie ete en opbouende geselskap met ons gesin na ons huis nooi. Dit is nie nodig om ’n feesmaal voor te sit nie, want “liewer ’n porsie groente waar liefde hy is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spreuke 15:17). By so ’n geleentheid kan ’n mens velddiensondervindinge vertel of as ’n groep vir ’n Christenvergadering voorberei.

10, 11. (a) Op watter ander manier kan ’n Christen na ’n skeiding of egskeiding gehelp word? (b) Watter rede is daar tot versigtigheid?

10 As jy reël dat die ouer wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het en sy of haar kinders saam met jou gesin aan die veldbediening deelneem, kan dit hulle ook help om eensaamheid die hoof te bied. Ander kan natuurlik nie die plek van die afwesige ouer inneem nie, maar een geskeide Christin het gesê: “Die probleme om my kinders sonder ’n man in die huis groot te maak, is aansienlik verminder deur die hulp van ouere manne en knegte in die gemeente wat probeer het om op praktiese maniere daarvoor te vergoed.”

11 Daar is egter rede tot versigtigheid. Een suster het erken: “Aangesien my seun vaderloos is, het ’n broer goedhartig belangstelling in hom getoon. . . . Ek het begin sien hoe vriendelik en vrygewig hy teenoor my seun is, en verkeerde begeertes het in my begin ontwikkel. Dit was net soos Dawid wat ’n verkeerde begeerte ontwikkel het vir iets wat nie syne was nie” (2 Samuel 11:1-4). Hoewel sy haar nie aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het nie, het hierdie vrou haar oor haar gedagtes en koketterige optrede begin skaam, Jehovah om vergifnis gevra en die broer se geselskap vermy. Dit lig baie gepas toe hoe belangrik dit is om verkeerde begeertes te verwerp en ‘weg te bly van alles wat sleg is’!—1 Thessalonicense 5:22, NAV; Galasiërs 5:24.

12. Deur watter positiewe optrede kan ’n persoon sy of haar eensaamheid verminder?

12 Eensaamheid kan verminder word deur dinge vir ander te doen. “As jy daadwerklik in ander belangstel en hulle help, is daar geen plek vir selfbejammering en eensaamheid nie”, het een suster wie se huweliksbande verbreek is, gesê. Sulke ‘daadwerklike belangstelling’ deur iemand wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het, kan onder meer behels dat ’n mens ’n gesin vir ’n aand van geestelik opbouende omgang na jou huis nooi. As dit om geldelike of ander redes selde moontlik is, kan jy die siekes of ander besoek en bemoedig. Dalk kan jy ook die bejaardes met hulle inkope of verskeie take help. As jy op sulke maniere gee, sal jy verdere bewys hê dat ‘dit saliger is om te gee as om te ontvang’.—Handelinge 20:35.

13. Wat is nog iets wat help om eensaamheid te bowe te kom?

13 Nog iets wat help om eensaamheid te bowe te kom, is om gereeld die inisiatief te neem en saam met medegelowiges aan die Koninkryksverkondiging deel te neem. “Ek wens soms dat ek ’n man gehad het”, het een suster erken, “maar danksy my groter velddiensbedrywigheid en die nuwe vryheid om met die broers en susters om te gaan, is hierdie tydperke baie seldsaam en kort van duur.” Gereelde getuieniswerk van huis tot huis kan lei tot herbesoeke en tuisbybelstudies met belangstellendes, van wie sommige dalk toegewyde knegte van Jehovah sal word. Ons neem natuurlik nie aan die bediening deel om eensaamheid te bowe te kom nie, maar dit kan een voordeel van hierdie vreugdevolle en geseënde bedrywigheid wees.—Spreuke 10:22.

14. Watter bedrywighede behoort ’n goeie uitwerking te hê op Christene wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het?

14 Jehovah se hele volk kan geestelik baat vind by deelname aan die bediening en Christenvergaderinge en deur ‘eers die koninkryk te soek’ (Mattheüs 6:33). Aangesien hierdie heilsame bedrywighede ’n goeie uitwerking op Jehovah se knegte oor die algemeen het, kan sulke werk ook Christene wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het, opbou. Nee, hierdie bedrywighede sal nie al hulle probleme oplos nie, maar dit behoort hulle beskouing te verbeter.

Gebed is noodsaaklik

15. Watter rol kan gebed speel in die lewe van diegene wat hulle weer by die ongehude staat moet aanpas?

15 Een Christensuster wat haar weer by die ongehude staat moes aanpas, is gehelp deur “in die velddiens besig te bly . . . en die siekes, bejaardes en onbedrywiges te besoek”. Maar sy het bygevoeg: “Wanneer ek eensaam is, besoek ek ander en bid ek om krag, want ek weet dat Satan baie bedrywig is.” Ja, hartgrondige gebed is noodsaaklik om onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf. Na ’n skeiding of egskeiding kan Christene om Jehovah se gees bid, asook om selfbeheersing, ’n vrug van die gees, om geslagsdrange in toom te hou (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23; Kolossense 3:5, 6). En aangesien besluite wat vroeër deur ’n man geneem is probleme kan inhou vir sommige vroue wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het, sal hulle moontlik ook om God se hulp moet bid om verstandige besluite te neem en verskeie beproewinge die hoof te kan bied.—Jakobus 1:2-8.

16. Wat kan met betrekking tot skeiding of egskeiding oor skuldgevoelens gesê word?

16 Skuldgevoelens kan ’n beproewing wees. Een Christen het erken: “Al is jy nie die skuldige nie, kan die skuldgevoel tydens ’n egskeiding oorweldigend wees.” Dit is natuurlik te begrype dat ’n mens skuldgevoelens kan hê as ’n skeiding of egskeiding die gevolg was van jou ongeregverdigde weiering om huweliksverpligtinge na te kom (1 Korinthiërs 7:3-5). Maar as skeiding of egskeiding om ’n Skriftuurlike rede en na biddende oorweging plaasgevind het, sal dit gepas wees om te bid dat Jehovah jou help om ongegronde skuldgevoelens te bowe te kom. Daar kan bygevoeg word dat gemeentelike ouere manne moet sorg dat hulle Bybelse raad gee en dit nie gee op ’n manier wat ’n Christen skuldig laat voel omdat hy of sy ’n Skriftuurlik toelaatbare skeiding of egskeiding verkry of toegelaat het nie.

Bewaar deur “die vrede van God”

17. Wat kan alle Christene help om in hierdie wêreld vol beroering gelukkig en bestendig te wees?

17 Christene wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het, het dikwels unieke probleme. Maar in sekere mate word “dieselfde lyding opgelê . . . aan [ons] broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:6-11). Vervolging raak byvoorbeeld almal wat Jehovah dien, en die meeste Christene kom te staan voor geldelike of gesondheidsprobleme, teleurstellings, versoekings, ensovoorts. Die Christen wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het, moet derhalwe, soos ander getuies van Jehovah, aanhou om deur middel van Bybelstudie, gereelde vergaderingbywoning, ywerige veldbediening, ’n gebalanseerde lewe van heilige diens en voortdurende gebed na aan Jehovah te bly in sy eie geestelike behoeftes te voorsien (Mattheüs 5:3, NW). Versuim om dit te doen sal die geestelikheid van enige Christen in gevaar stel, terwyl elke lojale getuie van Jehovah groot geluk en bestendigheid in hierdie wêreld vol beroering verkry deur ‘eers die koninkryk te soek’.

18. Watter vrae en stappe verdien ernstige oorweging deur uiteengegane Christenhuweliksmaats?

18 Ons geestelike bestendigheid hang af van persoonlike toepassing van God se Woord. Het jy dus, as jy ’n Christen is met ’n huweliksmaat wat ook aan God toegewy is maar julle uiteengegaan het, Paulus se raad in 1 Korinthiërs 7:10-16 ter harte geneem? Jy kan versoening gerus ’n saak van opregte gebed maak, veral as julle al geruime tyd uitmekaar is. Jy kan jouself ook afvra: Wat verwag Jehovah van my as ’n getroude persoon? Moet Christenhuweliksmaats nie hulle lewe in ooreenstemming bring met goddelike vereistes vir diegene wat getrou het nie? Kan dit wees dat ons nie Jehovah se seën ondervind nie omdat ons versuim het om ons huweliksgeloftes na te kom? Dink net hoe voordelig dit sal wees as julle sake nederig bespreek, opreg bid en ywerig probeer om God se Woord in julle lewe toe te pas. Hoe goed sal dit tog nie wees as julle twee julle huweliksprobleme kan oplos en die lewe weer saam in ’n huis van rus en vrede kan geniet nie!

19. Watter kosbaarheid kan alle knegte van Jehovah volgens Filippense 4:6, 7 geniet?

19 Daar is iets kosbaars wat alle getroue knegte van Jehovah nodig het en kan geniet—“die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”. As Christene kan ons hierdie kosbare vrede geniet as ons op Paulus se woorde ag slaan: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:6, 7.

20. (a) Wat is “die vrede van God”? (b) Wat moet ons ongeag ons huwelikstaat doen?

20 Daardie vrede is godgegewe rus en kalmte, selfs onder die beproewendste omstandighede. Dit spruit voort uit ’n intieme verhouding met Jehovah en die wete dat ons doen wat hom behaag. Diegene wat “die vrede van God” besit, laat toe dat sy gees hulle motiveer, en hulle word nie deur angs oorweldig nie. Waarom nie? Omdat hulle weet dat niks sonder goddelike toestemming met hulle sal gebeur nie. (Efesiërs 4:30; vergelyk Handelinge 11:26, NW.) Laat ons dan, hetsy ons ongetroud of getroud, nie meer by ons huweliksmaat nie of geskei is, “die vrede van God” op prys stel. En mag ons dieselfde vertroue hê as wat Dawid gehad het: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.”—Psalm 4:9.

[Voetnoot]

a Kyk asseblief Die Wagtoring van 1 Desember 1980, bladsye 14-26, vir ’n bespreking van eenouergesinne.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Onder watter omstandighede kan daar gesê word: “God het ons tot vrede geroep”?

◻ Hoe kan eensaamheid verminder word?

◻ Watter rol moet gebed speel in die lewe van ’n Christen wat ’n skeiding of egskeiding deurgemaak het?

◻ Hoe sou jy “die vrede van God” definieer wat die harte van Jehovah se knegte bewaar, hetsy hulle ongetroud, getroud, nie meer by hulle huweliksmaat nie of geskei is?

[Prent op bladsy 29]

Gebed kan vir alle getroue Christene “die vrede van God” meebring wat hulle harte en geestelike vermoëns sal bewaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel