Wees gereed vir Jehovah se dag!
Glanspunte uit Eerste Thessalonisense
JEHOVAH se dag! Christene in eertydse Thessalonika het gedink dat dit ophande was. Was hulle reg? Wanneer sou dit kom? Dit was een belangrike punt wat bespreek is in die apostel Paulus se eerste brief aan die Thessalonicense, wat omstreeks die jaar 50 van ons Gewone Jaartelling vanuit Korinthe gestuur is.
Paulus en Silas het die gemeente in Thessalonika gestig, wat die administratiewe setel van die Romeinse provinsie Macedonië was (Handelinge 17:1-4). Later, in sy eerste brief aan die Thessalonicense, het Paulus hulle geprys, vermaan en Jehovah se dag bespreek. Ons kan ook by sy brief baat vind, veral noudat die dag van Jehovah so naby is.
Prys en bemoedig
Paulus het die Thessalonicense eers geprys (1:1-10). Hulle het lof verdien vir hulle getroue werk en volharding. Dit was ook prysenswaardig dat hulle “die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees”. Prys jy ander, soos Paulus gedoen het?
Die apostel het ’n goeie voorbeeld gestel (2:1-12). Ten spyte daarvan dat hy in Filippi gely het en mishandel is, het hy ‘in God vrymoedigheid gehad om die evangelie te verkondig’ aan die Thessalonicense. Hy het vlytaal en hebsug vermy en nie eer gesoek nie. Paulus het nie ’n duur las geword nie, maar was vriendelik met hulle soos ’n sogende moeder met haar kind. Wat ’n goeie voorbeeld tog vir ouere manne vandag!
Paulus se volgende woorde het die Thessalonicense aangemoedig om standvastig te bly wanneer hulle vervolg word (2:13–3:13). Hulle het vervolging deur hulle landgenote verduur, en Timotheüs het aan Paulus ’n goeie verslag gelewer oor hulle geestelike toestand. Die apostel het gebid dat hulle oorvloedig sou wees in liefde en dat hulle harte versterk sou word. Jehovah se Getuies bid op soortgelyke wyse vir vervolgde medegelowiges, bemoedig hulle indien moontlik en verheug hulle in berigte van hulle getrouheid.
Bly geestelik wakker!
Die Thessalonicense het vervolgens raad ontvang (4:1-18). Hulle moes oorvloediger wandel in ’n weg wat God behaag en moes oorvloediger wees in broederliefde en met hulle hande werk om in hulle behoeftes te voorsien. Daarbenewens moes hulle mekaar troos met die hoop dat geesverwekte gelowiges wat gesterf het eerste opgewek sou word en met Jesus verenig sou word tydens sy teenwoordigheid. Daarna sal oorlewende gesalfdes met hulle dood en opwekking aansluit by Christus en diegene wat alreeds tot hemelse lewe opgewek is.
Paulus het daarna die dag van Jehovah bespreek en verdere raad gegee (5:1-28). Jehovah se dag sal soos ’n dief kom, met skielike vernietiging wat gewis sal kom na die uitroep: “Vrede en veiligheid”! Die Thessalonicense moes dus geestelik wakker bly, beskerm deur die borswapen van geloof en liefde en deur die hoop op redding as helm. Hulle moes hoë agting hê vir diegene wat die gemeente lei en hulle van die kwaad onthou, soos ons ook moet.
Paulus se eerste brief aan die Thessalonicense moet ons aanspoor om medegelowiges te prys en te bemoedig. Dit moet ons ook beweeg om in ons gedrag en gesindheid voorbeeldig te wees. En die raad kan ons sekerlik help om vir Jehovah se dag gereed te wees.
[Venster/Prent op bladsy 22]
Borswapen en helm: Paulus het Christene gemaan om geestelik waaksaam te wees en geskryf: “Laat ons ons sinne bewaar en die borswapen van geloof en liefde aanhê en as helm die hoop op die redding” (1 Thessalonicense 5:8, NW). ’n Borswapen was ’n soldaat se gepantserde borsbeskerming, wat uit skubbe, kettings of soliede metaal bestaan het. Net so beskerm die borswapen van geloof ons geestelik. En wat van die eertydse helm? Dit was dikwels van metaal gemaak en was ’n militêre hoofbedekking wat ontwerp is om ’n soldaat tydens ’n geveg te beskerm. Net soos ’n helm die kop van ’n soldaat beskerm het, beskerm die hoop op redding die verstandelike vermoëns en stel ’n Christen dus in staat om sy onkreukbaarheid te handhaaf. Hoe belangrik is dit tog dat Jehovah se volk so ’n geestelike wapenrusting dra!—Efesiërs 6:11-17.