Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 12/15 bl. 21-26
  • “Jehovah, ons god, sal ons dien”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jehovah, ons god, sal ons dien”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Handel met oorleg
  • Ondersteuning van die organisasie
  • Jehovah stry vir Israel
  • Wat ons ons voorneem
  • Laat Josua jou help om Jehovah moedig te dien!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Bybelboek nommer 6—Josua
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wat Josua onthou het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Glanspunte uit die boek Josua
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 12/15 bl. 21-26

“Jehovah, ons god, sal ons dien”

“Wat my en my huisgesin betref, ons sal Jehovah dien.”​—JOSUA 24:15, NW.

1. Hoe dien die boek Josua tot ons bemoediging en beskerming?

DIE aangrypende gebeure in die boek Josua is opgeteken “tot ons lering” en as “voorbeelde” om ons “op wie die eindes van die eeue gekom het” te bemoedig en te beskerm (Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11). Godvrugtige eienskappe, soos volharding, geloof en gehoorsaamheid, word beklemtoon. “Deur die geloof het die mure van Jerigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het” (Hebreërs 11:30, 31). Die geloof van Josua, Ragab en ander lojale knegte van daardie tyd behoort ons aan te spoor om sterk en vol moed te wees om vandag God se werk te volbring.​—Josua 10:25; Johannes 4:34.

2. (a) Hoe het Josua sy gehoorsaamheid selfs tot in die fynste besonderhede getoon? (b) Wat het by die berge Ebal en Gerisim gebeur?

2 Na die beslissende oorwinning by Ai het Josua aandag gegee aan die breedvoerige instruksies wat in Deuteronomium 27:1-28:68 opgeteken is. By die berg Ebal het hy ’n altaar van ongekapte klippe opgerig, en daar het hy die bevel uitgevoer: “Jy [moet] dankoffers slag en daar eet en vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God.” Ander klippe is as ’n gedenkteken opgerig en met kalk bestryk, en die woorde van die Wet is daarop geskrywe. Toe is die stamme verdeel​—die een groep het op die berg Gerisim gestaan “om die volk te seën”, terwyl die ander groep gestaan het “om te vervloek op die berg Ebal”. Die Leviete het luidkeels die vloeke vir ongehoorsaamheid uitgespreek, en die hele volk het “Amen” gesê. Toe is die seëninge vir gehoorsaamheid uitgespreek. Maar wee Israel as hulle versuim het om ‘al die woorde van hierdie wet te hou wat in hierdie boek geskryf is en om die heerlike en gedugte naam van Jehovah God te vrees’!​—Josua 8:32-35.

3, 4. (a) Watter belangrike les leer ons vandag uit Israel se handelwyse? (b) Waarom moet ons nooit moeg word om dieselfde dinge oor en oor te hoor nie? (c) Wat is nodig om in te gaan deur “die nou poort”?

3 Het Israel aangehou om ‘die woorde van die wet te hou’? In weerwil van die herhaalde vermanings van Moses, en later van Josua, het hulle hopeloos gefaal. Wat ’n kragtige les hou dit vandag vir ons in! Ondanks voortdurende waarskuwings is daar altyd sommige wat dink dat hulle God se vereistes kan veronagsaam, ‘hulle eie kop kan volg’, en tog behoue kan bly. Watter dwaasheid! Paulus het na aanleiding van Israel se ondervindinge gesê: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”​—1 Korinthiërs 10:12; Prediker 2:13.

4 Sommige lede van God se volk kritiseer waarskuwings wat gegee is en sê dat hulle moeg word om dieselfde dinge oor en oor te hoor. Maar dit is dikwels hulle wat eerste in ’n strik van Satan beland. Die geïnspireerde Bybelboek Deuteronomium (in Hebreeus Misj·neh’ hat·to·rah’, wat “Herhaling van die Wet” beteken) bestaan hoofsaaklik uit vier toesprake deur Moses, waarin dit aan Israel duidelik gestel word dat hulle gehoorsaam moet wees aan Jehovah se wette wat vroeër aan hulle gegee is. Moses het meer as vier keer soveel woorde gebruik om hulle teen ongehoorsaamheid en die gevolglike “vloeke” te waarsku as wat hy gebruik het om die “seëninge” op te noem. By die berg Ebal het Josua Israel weer laat verstaan dat hulle gehoorsaam moet wees. Laat dit ons nie besef hoe belangrik dit is om hard te stry om ‘in te gaan deur die nou poort’ nie?​—Mattheüs 7:13, 14, 24-27; 24:21, 22.

5. Teen watter bondgenootskap het Israel nou te staan gekom, en watter ooreenstemmende situasie sien ons vandag?

5 ’n Beslissende konfrontasie was nou naby. Die poortstad Jerigo was reeds uit die pad, net soos valse godsdiens vernietig sal word wanneer die “groot verdrukking” begin. Ai het geval. Maar nou het “al die konings wat wes van die Jordaan woon op die Gebergte en in die Laeveld en aan die hele kus van die Groot See na die kant van die Libanon toe: die Hetiete en Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, . . . bymekaargekom om soos een man teen Josua en Israel te veg” (Josua 9:1, 2). As ’n hedendaagse parallel hiervan vind ons dat die nasies van die aarde vandag saamgevoeg is in die sogenaamde Verenigde Volke. Hulle soek vrede en veiligheid vir hulleself op hulle eie voorwaardes, maar hulle “span saam teen die HERE en teen sy gesalfde”, die Groter Josua (Psalm 2:1, 2, NAV). Wat sal die uitslag wees?

Handel met oorleg

6, 7. (a) Waarin het die Gibeoniete belanggestel, en watter strategie het hulle gebruik? (b) Hoe het Josua oor die saak beslis?

6 Soos Ragab voor hulle het ander nie-Israeliete nou in oorlewing begin belangstel. Hulle was die inwoners van Gibeon, ’n groot stad noord van Jebus, of Jerusalem. Hulle het van Jehovah se magtige dade gehoor en het besluit dat hulle vrede en veiligheid op Jehovah se voorwaardes sou soek. Maar hoe? Hulle het manne met droë en verkrummelde brood en verslyte saal- en wynsakke, en met verslyte en gelapte klere en sandale, na Israel se kamp by Gilgal gestuur. Hierdie manne het vir Josua gesê: “U dienaars kom van ’n baie ver land af, vanweë die Naam van die HERE u God; want ons het die gerug van Hom gehoor.” Hierop het Josua “met hulle vrede gemaak en met hulle ’n verbond gesluit, dat hy hulle sou laat lewe”.​—Josua 9:3-15.

7 Israel het egter gou uitgevind dat die Gibeoniete in werklikheid “tussen hulle in woon”! Hoe het Josua nou hulle set beskou? Hy het sy vroeëre eed aan hulle eerbiedig, ‘om hulle te laat lewe, en het van hulle houtkappers en waterputters van die hele vergadering gemaak’.​—Josua 9:16-27; vergelyk Deuteronomium 20:10, 11.

8. In watter opsigte skadu die Gibeoniete die “groot menigte” af?

8 Baie van die Nethinim, wat in later jare by Jehovah se tempel gedien het, was waarskynlik van Gibeonitiese afkoms. Daarom kan die Gibeoniete gepas die “groot menigte” afskadu wat God nou ‘dag en nag in sy tempel dien’ (Openbaring 7:9, 15). Hoewel hulle in ’n Kanaänagtige wêreld lewe, is hulle ook in hulle hart “nie van die wêreld nie”. Voorheen moes hulle vir lief neem met ‘verkrummelde’ geestelike brood, soos gevind word in die Christendom se kerke, en hulle het geen “wyn” van vreugde gehad nie. Toe hulle God se volk teëgekom het, het hulle besef dat Jehovah deur middel van sy getuies magtige dade verrig. Hulle het die lang tog uit Satan se wêreld onderneem om hulle toiingrige ‘klere’ te verruil vir ’n nuwe identifikasie as nederige knegte van Jehovah, bekleed met die nuwe persoonlikheid.​—Johannes 14:6; 17:11, 14, 16; Efesiërs 4:22-24.

Ondersteuning van die organisasie

9. (a) Watter krisis het vervolgens ontstaan? (b) Hoe het Josua gereageer, en met watter versekering?

9 Toe Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat die Gibeoniete vrede gesluit het met Israel, het hy “baie bevrees geword, omdat Gibeon ’n groot stad was, soos een van die koningstede, . . . en al sy manne helde was”. Daarop het hy met vier ander konings saamgespan en Gibeon beleër. Onmiddellik het die Gibeoniete hulle tot Josua gewend: “Kom gou op na ons toe en verlos ons en help ons.” Josua het dadelik gereageer, en Jehovah het hom die versekering gegee: “Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie.” Josua en al sy dapper helde het “die hele nag deur” opgetrek om die vyand te verras.​—Josua 10:1-9.

10. (a) Watter soort optrede vorm vandag ’n parallel met die beleg van Gibeon? (b) Wat neem die hedendaagse Gibeoniete hulle vas voor?

10 Soos daardie vyf konings word sommige regeringshoofde vandag kwaad wanneer hulle sien dat so baie van hulle onderdane​—selfs “helde”—​hulle aan die kant van die Groter Josua en sy wêreldwye Koninkryk van geregtigheid skaar. Hierdie regeerders glo dat nasionalistiese grense behoue moet bly, hoewel die nasies gedurig onder mekaar rusie maak en oorlog voer. Hulle probeer gevolglik om die toevoer van geestelike voedsel na die vredeliewende “groot menigte” af te sny, om vergaderinge te verbied waar hulle hierdie “voedsel” kan inneem, en om hulle te verhinder om met ander oor geestelike sake te praat. Maar hierdie hedendaagse Gibeoniete staan lojaal by geestelike Israel en sê: “Ons wil met julle saamgaan.”​—Sagaria 8:23; vergelyk Handelinge 4:19, 20; 5:29.

11. Hoe hanteer Jehovah se Getuies krisisse wat vandag opduik?

11 Wanneer die “groot menigte” hulle tot hulle “moederorganisasie” om hulp wend, word sodanige hulp onmiddellik en ruimskoots voorsien. Die spoed en bereidwilligheid waarmee Jehovah se Getuies optree, blyk ook op talle ander maniere​—soos die organisering van noodleniging onmiddellik na natuurrampe en die vinnige bou van nodige Koninkryksale en ander vergaderplekke waar “voedsel” verskaf word. Toe daar die afgelope Junie ’n byeenkoms by die Yankee-stadion in New York gereël is, het ’n menigte vrywilligers om middernag ingegaan om die stadion na ’n bofbalwedstryd skoon te maak; daardie stadion was nog nooit skoner as wat dit gedurende die daaropvolgende vier dae was nie. Verantwoordelike ouere manne van Jehovah se Getuies tree ook onverwyld op as daar krisisse in verband met die verkondiging van die goeie nuus opduik.​—Filippense 1:6, 7.

Jehovah stry vir Israel

12. Watter wonderwerke het Jehovah verrig toe hy vir Israel gestry het ter verdediging van die Gibeoniete? (Vergelyk Habakuk 3:1, 2, 11, 12.)

12 Maar kyk nou na Gibeon. Jehovah bring daardie vyandelike magte in verwarring. Israel agtervolg hulle, en daar vind ’n groot slagting plaas. Maar wat sien ons daar uit die hemel val? Groot stukke ys! Meer word deur hierdie groot haelstene gedood as deur die krygers van Israel. Luister nou. Josua praat met Jehovah, en wat sê hy “voor die oë van Israel”? Dit: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die dal van Ajalon!” Nog ’n verstommende wonderwerk! “Omtrent ’n volle dag” verlig die son daardie slagveld, totdat God se wraak geheel en al voltrek is. Dit berus nie by ons om te redekawel oor hoe Jehovah daardie wonderwerk verrig het nie, net so min as wat ons bevraagteken dat hy op sy vierde ‘skeppingsdag’ twee groot ligte “gemaak” het sodat hulle lig sigbaar was (Genesis 1:16-19; Psalm 135:5, 6). Die verslag is afdoende: “Daar was geen dag soos hierdieeen, voor hom en ná hom, dat die HERE na die stem van ’n man geluister het nie; want die HERE het vir Israel gestry.”​—Josua 10:10-14.

13. Hoe bemoedig Josua sy aanvoerders verder, en met watter finale uitslag?

13 Die opruimoperasie bereik ’n hoogtepunt met die teregstelling van die vyf konings, ten tye waarvan Josua vir sy aanvoerders sê: “Wees nie bevrees of verskrik nie; wees sterk en vol moed, want so sal die HERE met al julle vyande doen teen wie julle sal veg.” Dit was reeds die geval ten opsigte van sewe konings van Kanaän, en dit bly die geval terwyl nog 24 koninkryke, ’n volkome getal, verslaan word. Dan eers, na ses jaar van oorlogvoering, rus die land.​—Josua 10:16-25; 12:7-24.

14. Met watter gesindheid en vertroue moet ons Armageddon tegemoetgaan?

14 Mag ons vandag, aan die vooraand van die laaste oorlog by Armageddon, sterk en vol moed wees soos Josua, sy dapper helde en die hele groot laer van Israel. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah, net soos hy etlike miljoene Israeliete ongedeerd in die Beloofde Land ingebring het, verdere verstommende wonderwerke kan verrig om die miljoene lede van sy onbevreesde volk deur Armageddon en tot in sy nuwe stelsel te bring.​—Openbaring 7:1-3, 9, 14; 19:11-21; 21:1-5.

Wat ons ons voorneem

15. Watter soort opdragte kan die “ander skape” in God se nuwe stelsel verwag?

15 Hoewel Josua nou by die 90 jaar oud was, het daar nog ’n groot taak op hom gewag​—die verdeling van die land onder die stamme van Israel. Dit het nie beteken dat die lewe vir die Israeliete maklik sou word nie. Trouens, Kaleb het vir ’n gebied by Hebron gevra, waar die reusagtige Enakiete gewoon het; hy wou sy kragte bly inspan om die laaste van Jehovah se vyande te verdryf. Dit wil glad nie sê dat daar gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus oor die aarde mensevyande sal wees nie. Maar daar sal werk wees om te doen. In die nuwe stelsel moet ons nie ’n gemaklike, luilekker lewe verwag nie. Nadat die Heer se “ander skape” hulle opdragte in die “nuwe aarde” ontvang het, sal daar oorgenoeg werk wees in die reuseprojek om die aarde te verfraai en dit in die letterlike Paradys te verander.​—Josua 14:6-15; Markus 10:29, 30; Romeine 12:11.

16. Wat beeld Jehovah se reëling van “vrystede” vandag af?

16 By die verdeling van die land het Josua ses stede van die Leviete as “vrystede” aangewys, drie aan elke kant van die Jordaan. Dit was Jehovah se reëling vir die beskerming van iemand wat ’n onopsetlike doodslag begaan het en dan na een van hierdie stede kon vlug. So ’n persoon moes bewys dat hy ’n rein gewete voor God het, en dit het hy gedoen deur tot met die dood van die hoëpriester in daardie stad te bly. Weens hulle voormalige omgang met hierdie bloedskuldige wêreld moet die “groot menigte” vandag eweneens ’n goeie gewete voor God verkry. Hulle verkry daardie goeie gewete deur hulle sondes te bely, berou te toon, hulle te bekeer, hulle aan Jehovah toe te wy en dan in water gedoop te word. Daarna moet hulle daardie posisie handhaaf. Die “groot menigte” moet in die “stad” bly totdat Jesus aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy figuurlik sterf met betrekking tot sy hoëpriesterlike werk.​—Josua 20:1-9; Openbaring 20:4, 5; 1 Korinthiërs 15:22, 25, 26.

17. Na watter blye uitslag sien ons vandag uit?

17 Hoe wonderlik het Jehovah tog sy volk Israel geseën! Die tog was swaar, en die beproewinge baie. Maar uiteindelik het hulle in die Beloofde Land gekom en hulle daar gevestig. Hoe moes hulle harte nie oorgeloop het van dankbaarheid teenoor Jehovah nie! En ons kan, deur getrou te bly aan God, soortgelyke vreugde smaak wanneer ons sy nuwe stelsel, met inbegrip van die “nuwe aarde”, ingaan. Dit sal inderdaad met ons wees soos dit in Josua se dag was: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom” (Josua 21:45). Mag jy ’n blye aandeel daarin hê!

18. (a) Waaraan het Josua die oudstes van Israel herinner? (b) Watter begeerte moet ons in verband met Jehovah se nuwe stelsel koester?

18 Uiteindelik, op die ouderdom van 110 jaar, roep Josua die oudstes van Israel byeen. Hy herinner hulle aan die wonderlike manier waarop Jehovah sy getroue volk van Abraham se tyd af tot in hulle dag geseën het. Dan sê Jehovah vir hulle: “So het Ek julle dan ’n land gegee waar julle nie aan gearbei en stede wat julle nie gebou het nie, dat julle daarin kan woon; wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie, daar eet julle van.” Met die oog op hierdie oorvloedige seën sou Israel sekerlik tot in ewigheid ‘Jehovah wou vrees en hom in opregtheid en waarheid wou dien’. En gedagtig aan Jehovah se heerlike nuwe stelsel vir hierdie aarde wat nou voor die deur is, behoort elkeen van ons gewis dieselfde begeerte te hê.​—Josua 24:13, 14.

19. (a) Watter keuse het Josua nou voor die volk gestel, en hoe het hulle geantwoord? (b) Soos wie wil ons graag wees? (c) Watter keuse moet ons doen, en wat neem ons ons voor?

19 Josua stel dit dan ronduit aan die volk: “Indien dit nou verkeerd is in julle oë om Jehovah te dien, kies dan vandag self wie julle sal dien . . . WAT MY EN MY HUISGESIN BETREF, ONS SAL JEHOVAH DIEN.” Kan elkeen van ons, die gelowige lede van ons gesinne, ons gemeentes, ja, al die “huisgenote van God” wêreldwyd, hierdie woorde ons eie maak? Ons kan beslis! (Efesiërs 2:19). In Josua se dag het die volk hom geantwoord: “Jehovah, onse God, sal ons dien, en na sy stem sal ons luister!” (Josua 24:15, 24, NW). Maar ongelukkig het hulle in later jare versuim om dit te doen. Ons wil nie soos dié wees wat versuim het nie. Ons wil soos Josua en sy huisgesin, soos Kaleb, soos die Gibeoniete en soos Ragab wees. Ja, “ONS SAL JEHOVAH DIEN”. Mag ons dit moedig doen, met volkome vertroue dat niks “ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”.​—Romeine 8:39.

Wat leer ons uit die boek Josua​—

◻ oor die nut van herhaalde vermanings?

◻ oor die versorging van die hedendaagse Gibeoniete?

◻ oor hoe Jehovah by Armageddon gaan veg?

◻ oor die nodigheid om na ’n “vrystad” te vlug?

◻ oor die keuse van wie ons moet dien?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel