Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jy kan vertroosting vind in tye van benoudheid
    Die Wagtoring – 1992 | Julie 15
    • Jy kan vertroosting vind in tye van benoudheid

      HOE behoort ons gevoelens van benoudheid te beskou? Moet ons hulle, as ons aan Jehovah toegewy is, as iets vreemds beskou weens ons wonderlike hoop en ons geestelike hulpmiddels? Beteken sulke gevoelens dat ons geestelik vir God se diens ongeskik is?

      “Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jakobus 5:17, NW). Hoewel God Elia op ’n buitengewone manier gebruik het, het selfs daardie getroue profeet benoudheid ervaar. “Dit is genoeg”, het Elia by een geleentheid uitgeroep. “Neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie” (1 Konings 19:4). Die man Job, wat sy onkreukbaarheid gehandhaaf het, die getroue vrou Hanna en ander lojale dienaars van Jehovah het benoudheid ervaar. Selfs die godvrugtige psalmis Dawid het gebid: “Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit my angste.”—Psalm 25:17.

      Die feit dat Jehovah mense in sy diens gebruik, maak hulle nie heeltemal sorgvry nie. Hulle het nog steeds menslike swakhede en gevoelens en kan benoudheid ervaar wanneer hulle beproef word (Handelinge 14:15). God se knegte kan nietemin op beter bystand as ander staatmaak om opgewasse te wees teen emosionele spanning. Kom ons beskou ’n paar Bybelse voorbeelde om te sien wat sekere persone gehelp het om hulle depressie en gevoelens van benoudheid te oorkom.

      Gekwelde apostel vind vertroosting

      Die apostel Paulus het geweet hoe dit voel om terneergedruk te wees. Hy het gesê: “Want ook toe ons in Macedonië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie . . . Van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge. Maar Hy wat die nederiges troos, naamlik God, het ons getroos deur die koms van Titus” (2 Korinthiërs 7:5, 6). Paulus se terneergedruktheid is veroorsaak deur verskeie kwellende situasies wat terselfdertyd geheers het. “Van buite was daar aanvegtinge”—swaar verdrukking wat selfs hulle lewe in gevaar gestel het. (Vergelyk 2 Korinthiërs 1:8.) Verder was daar “van binne verskrikkinge” in die vorm van besorgdheid oor die gemeentes, soos die een in Korinthe.

      ’n Paar maande vroeër het Paulus sy eerste brief aan die Christene in Korinthe geskryf. Daarin het hy verskeie uiters slegte toestande in die gemeente veroordeel, en hy was blykbaar bekommerd oor hoe die Korinthiërs op sy brief sou reageer. Paulus is egter bemoedig toe Titus van Korinthe af gekom het met ’n gunstige verslag oor hulle reaksie. Jehovah kan een van sy hedendaagse knegte eweneens gebruik om goeie nuus aan ons te bring en ons benoudheid te verlig.

      Hoe om godgegewe opdragte te beskou

      Sekere Christene ervaar ’n mate van benoudheid ten opsigte van hulle bediening. Sommige van Jehovah se knegte het inderdaad al gedink dat godgegewe opdragte vir hulle te veeleisend sou wees om uit te voer. Moses het byvoorbeeld gedink dat hy onbevoeg was om namens die Israeliete in Egipte God se verteenwoordiger te wees. Hy het onder andere gesê dat hy nie ’n goeie spreker was nie (Exodus 3:11; 4:10). Maar Moses het, met vertroue in God en met Aäron as sy spreekbuis, begin om sy opdrag uit te voer.

      Mettertyd het Moses nie meer op Aäron gesteun nie. Net so vind party die Christelike bediening in die begin moeilik, maar hulle ontvang opleiding en word bekwame evangeliedienaars. Menige jong Getuies van Jehovah betree byvoorbeeld die voltydse diens as pioniers en sendelinge wanneer hulle grootword. Dit is bemoedigend om te weet dat ons altyd op Jehovah kan vertrou om Christenbedienaars bekwaam te maak en hulle die krag te gee om hulle godgegewe opdragte uit te voer.—Sagaria 4:6; 2 Korinthiërs 2:14-17; Filippense 4:13, NAV.

      Bemoediging as ons deur spyt gekwel word

      Ons voel dalk mismoedig omdat ons spyt is dat ons nie méér in God se diens gedoen het nie. ’n Broer wat jare lank onbedrywig was, het weer begin om aan die veldbediening deel te neem. Kort daarna het hy ernstig siek en gevolglik bedlêend geword. Die mismoedige broer het gesê: “Vroeër, toe ek bedrywig kon wees, het ek my verantwoordelikheid versuim. Noudat ek bedrywig wil wees, kan ek nie.”

      Sou dit nie wys wees om nou ons bes te doen nie, pleks van emosionele energie te bestee op wat in die verlede gebeur het? Jesus se vleeslike halfbroers Jakobus en Judas het nie gelowiges geword tot na sy dood en opstanding nie. As hulle spyt was hieroor, het dit hulle nie verhinder om God se knegte en selfs Bybelskrywers te wees nie.

      Moet nooit gebed nalaat nie

      Wanneer God se knegte terneergedruk is, moet hulle vurig bid. Trouens, die Skrif bevat baie gebede wat in tye van benoudheid gedoen is (1 Samuel 1:4-20; Psalm 42:9). Party dink dalk: ‘Ek is so terneergedruk dat ek nie kan bid nie.’ Dink dan aan Jona. Terwyl hy in die vis se maag was, het hy gesê: “Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel. . . . Ek . . . sal aan U offer met ’n stem van lof; wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die HERE” (Jona 2:4-9). Ja, Jona het gebid, en God het hom bemoedig en gered.

      Al was ’n suster in Swede baie jare lank ’n pionier, het sy skielik, ten spyte van ’n lonende bediening, moedeloos en uitgeput gevoel. Sy het haar neerslagtigheid in gebed tot Jehovah genoem. ’n Paar dae later het sy ’n telefoonoproep ontvang van ’n broer by die Wagtoringgenootskap se takkantoor. Hy het gevra of sy omtrent een dag per week met die aanbouing by Bethel sou kon help. Hierdie suster het later gesê: “Die atmosfeer by Bethel en die geleentheid om die uitbreidingswerk te sien en deel te neem daaraan het vir my die addisionele krag gegee wat ek nodig gehad het.”

      As ons terneergedruk is, is dit goed om te onthou dat gebed een manier is om depressie te bestry (Kolossense 4:2). Jehovah kan in antwoord op ons gebede die deur oopmaak vir groter bedrywigheid in sy diens, of hy kan ons diens met groter produktiwiteit seën (1 Korinthiërs 16:8, 9). In ieder geval: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg geen smart daarby nie” (Spreuke 10:22, NW). Dit sal ons beslis opbeur.

      Kwel twyfelgedagtes jou?

      Van tyd tot tyd het een van Jehovah se knegte dalk twyfelgedagtes. As dit met ons sou gebeur, moet ons nie dadelik tot die gevolgtrekking kom dat ons God se guns verloor het nie. Jesus het nie die apostel Thomas verwerp omdat hy ooggetuies se verslae van sy Meester se opstanding betwyfel het nie. Jesus het Thomas eerder liefdevol gehelp om sy twyfelgedagtes te oorkom. En hoe opgewonde was Thomas tog nie toe hy besef het dat Jesus lewe nie!—Johannes 20:24-29.

      Deur hulle valse leer, murmurering, ensovoorts het die “goddelose mense” wat in die eerste-eeuse Christengemeente ingesluip het, kwellende twyfelgedagtes by party gewek. Die dissipel Judas het dus geskryf: “Aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk” (Judas 3, 4, 16, 22, 23). Judas se medeaanbidders—veral die gemeentelike ouere manne—moes barmhartigheid betoon aan twyfelagtiges wat dit verdien het, as hulle wou hê dat God barmhartigheid aan hulle moes betoon (Jakobus 2:13). Hulle ewige lewe was op die spel, want hulle was in gevaar van “die vuur” van die ewige vernietiging. (Vergelyk Mattheüs 18:8, 9; 25:31-33, 41-46.) En watter vreugde is daar tog nie wanneer medegelowiges wat twyfelgedagtes het liefdevolle hulp ontvang en geestelik sterk word nie!

      As swaar beproewinge ons laat twyfel of God met ons is, moet ons spesifiek wees in ons gebede. Laat ons onder sulke omstandighede daarin volhard om Jehovah om wysheid te vra. Hy gee mildelik sonder om ons daaroor te verwyt dat ons wysheid kortkom en daarvoor moet bid. Ons moet aanhoudend “in die geloof bid, sonder om te twyfel”, want iemand wat twyfel is “soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word”. Sulke mense kry niks van God nie omdat hulle besluiteloos is, “onbestendig” in gebed en in al hulle weë (Jakobus 1:5-8). Laat ons dus glo dat Jehovah ons sal help om die regte beskouing van ons beproewinge te hê en om hulle te verduur. Tekste kan deur medegelowiges of gedurende Bybelstudie onder ons aandag gebring word. Dinge wat deur God se voorsienigheid bewerk word, kan ons help om te verstaan wat ons moet doen. Engele kan help om ons te rig, of ons kan deur die heilige gees gelei word (Hebreërs 1:14). Die belangrikste is dat ons om wysheid bid met volle vertroue in ons liefdevolle God.—Spreuke 3:5, 6.

      Onthou dat Jehovah vertroosting bied

      Paulus het biddend op Jehovah vertrou en het geweet dat hy die Bron van vertroosting is. Die apostel het geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”—2 Korinthiërs 1:3, 4.

      Die God van alle vertroosting is bewus van die benoudheid wat sy knegte ondervind en wil aan hulle verligting gee. In die geval van Paulus se kommer oor die Korinthiërs, het verligting deur sy Christenmetgesel Titus gekom. Dit is een manier waarop ons vandag bemoedig kan word. Wanneer ons benoudheid ervaar, moet ons dit dus vermy om onsself af te sonder (Spreuke 18:1, NW). Omgang met mede-Christene is een van die middele wat God gebruik om ons te bemoedig. Ons dink dalk: ‘Ek is so mismoedig dat ek nie sterk genoeg is om by my Christenvriende te wees nie.’ Ons moet egter sulke gevoelens bestry en onsself nie beroof van die bemoediging wat medegelowiges ons kan bied nie.

      Moenie moed opgee nie!

      Sommige van ons het dalk nog nie ’n beproewing deurgemaak wat so erg was dat ons aan depressie gely het nie. Maar ’n siekte wat jou kragteloos laat, die dood van ’n huweliksmaat of ’n ander vermoeiende situasie kan emosionele kwelling meebring. As dit gebeur, moet ons nie tot die gevolgtrekking kom dat ons noodwending geestelik siek is nie. ’n Terneergedrukte mens kan goed bekwaam wees vir God se diens, en kan ander selfs geestelik ondersteun. Paulus het die broers aangespoor om “die terneergedrukte siele te bemoedig”, en nie wantrouig te dink dat hulle iets verkeerds gedoen het en geestelik siek is nie (1 Thessalonicense 5:14, NW). Hoewel depressie soms met oortreding en skuldgevoelens vereenselwig word, is dit nie die geval met diegene wat God met ’n rein hart dien nie. Hulle aanbidding is aanvaarbaar vir Jehovah, al gaan dit met uiterse moeisaamheid gepaard. Hy het hulle lief en kom hulle te hulp met die nodige ondersteuning en bemoediging.—Psalm 121:1-3.

      Diegene wat die oorblyfsel van geestelike Israel uitmaak was in 1918 weens beproewinge in groot benoudheid. (Vergelyk Galasiërs 6:16.) Die organisasie van hulle predikingswerk was byna vernietig, party van hulle is ten onregte in die tronk gestop en baie van hulle voormalige metgeselle het ontroue afvalliges geword wat hulle teengestaan het. Die getroue gesalfdes het bowendien nie verstaan waarom God toegelaat het dat dit alles gebeur nie. Hulle het ’n tyd lank ‘met trane gesaai’, maar hulle het nie moed opgegee nie. Hulle het aangehou om Jehovah te dien en het ook hulleself ondersoek. Die gevolg? Hulle het ‘gekom met gejubel en het hulle gerwe gedra’ (Psalm 126:5, 6). Die gesalfdes besef nou dat God sulke beproewinge toegelaat het om hulle te louter vir hulle naderende internasionale oeswerk.

      As ons benoudheid ervaar omdat verskeie beproewinge ons omring, kan ons uit die oorblyfsel se ondervinding voordeel trek. Laat ons, pleks van moed op te gee, aanhou om die regte ding te doen, al gaan dit met trane gepaard. Mettertyd sal daar ’n uikoms wees uit ons beproewinge, en ons sal ‘met gejubel kom’. Ja, ons sal blydskap—’n vrug van God se heilige gees—ervaar as ons beproewinge deurstaan. Jehovah sal vir ons beslis “die God van alle vertroosting” wees.

  • Jaarvergadering—3 oktober 1992
    Die Wagtoring – 1992 | Julie 15
    • Jaarvergadering—3 oktober 1992

      DIE JAARVERGADERING van die lede van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania sal op 3 Oktober 1992 in die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies, Kennedy-Boulevard 2932, Jersey City, New Jersey, gehou word. Daar sal om 9:30 vm. ’n vergadering vir net die lede wees, gevolg deur die algemene jaarvergadering om 10:00 vm.

      Die lede van die Genootskap moet die kantoor van die Sekretaris nou in kennis stel van enige verandering in hulle posadres gedurende die afgelope jaar sodat die gewone kennisgewings en volmagte hulle kort na 1 Augustus kan bereik.

      Die volmagte, wat saam met die kennisgewing van die jaarvergadering aan die lede gestuur sal word, moet teruggestuur word sodat dit die kantoor van die Sekretaris van die Genootskap voor of op 15 Augustus bereik. Elke lid moet sy volmag onverwyld invul en terugstuur en ook aandui of hy self by die vergadering sal wees al dan nie. Hierdie inligting moet pertinent op elke volmag verskyn, aangesien dit gebruik sal word om vas te stel wie die vergadering sal bywoon.

      Daar word verwag dat die hele sessie, met inbegrip van die formele sakevergadering en verslae, om 1:00 nm. of kort daarna afgehandel sal wees. Daar sal geen middagsessie wees nie. Omdat die sitplek in die saal beperk is, sal slegs kaartjiehouers toegelaat word. Die jaarvergadering sal nie telefonies met ander vergaderplekke verbind word nie.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel