Voortdurende uitbreiding vergroot die behoefte aan Koninkryksale
1 Lank gelede het Jehovah se profeet voorspel dat “die skatte van al die nasies sal toevloei” (Hag. 2:7). Ons sien ongetwyfeld hoe Goddelike onderrigting baie mense help om die waarheid te leer en om aanbidders van Jehovah te word. Hoe wonderlik is dit tog om te sien dat 3877 gedurende die 1993-diensjaar in Suid-Afrika alleen gedoop is! Ten einde voort te gaan om al hierdie nuwelinge te help, moet ons ‘op ons weë let’ om te verseker dat ons God se werk na die beste van ons vermoë ondersteun. (Vergelyk Haggai 1:5, NW.) Ja, ’n belangrike manier om God se werk te ondersteun, is deur steeds te help om geskikte plekke van aanbidding vir die menigte nuwe lowers van Jehovah te voorsien.
2 Gedurende 1993 is 36 nuwe Koninkryksale toegewy en baie meer is in Suid-Afrika en naburige lande in aanbou. Jehovah se werk word beslis “bo die heuwels” verhef (Jes. 2:2). Die Genootskap-Koninkryksaalfonds is nou reeds drie jaar in werking en het dit vir 20 gemeentes moontlik gemaak om nuwe Koninkryksale te verkry. Dit is voorwaar bemoedigend om te sien hoe die broers geldelik tot hierdie wentelfonds bydra. Geld wat aan gemeentes geleen word, word tesame met die opgeloopte rente in die fonds teruggestort sodat al die geld wat bygedra word steeds jaar na jaar gebruik kan word om nuwe Koninkryksale te bou. Gemeentes wat deur middel van ’n Koninkryksaallening gehelp is, toon gevolglik hulle waardering deur aan die begin van elke maand hulle lening stiptelik terug te betaal. Nog iets baie bemoedigends is die feit dat die koste van agt van die Koninkryksale wat gedurende 1993 toegewy is geheel en al deur die gemeentes self gedek is. Dit is noemenswaardig dat party van hierdie gemeentes nie welaf is nie, maar hulle was vasbeslote om toe te sien dat ware aanbidding in hulle gemeenskap verhef word.
3 Hulp deur middel van Streekboukomitees: Die 20 Streekboukomitees in ons deel van die veld help die ouere manne wat by die bouwerk aan nuwe Koninkryksale en by opknappingsprojekte betrokke is. Hulle help eerder die broers om vas te stel of ’n nuwe Koninkryksaal of ’n herbouingsprojek nodig sal wees, en indien nodig, voorsien hulle hulp van buite van voordat die eiendom aangekoop word totdat die Koninkryksaal voltooi is. Elke gemeente word aan een van hierdie komitees toegewys.
4 Duisende vrywilligers het al aangebied om aan hierdie vorm van heilige diens deel te neem. Hierdie vrywilligers, wat baie beroepsmense en ambagsmanne insluit, gebruik vrywillig van hulle tyd en help met dinge, soos die aankoop van eiendom, die liassering van regsdokumente, die beplanning van die gebou en die opstelling van lyste met die boumateriaal wat gekoop moet word. Hulle help ook om hoë gehalte boumateriaal teen goeie pryse aan te koop, die aanvanklike terreinwerk te voltooi en oor die bouwerk self toesig te hou. Dit is baie prysenswaardig dat hulle op dié manier van hulle toegewyde middele in die belang van die Koninkryk gee, en dit bring ryk seëninge van Jehovah mee.—Spr. 11:25, NW.
5 Ouere manne moet met die Streekboukomitee van hulle gebied in aanraking kom wanneer hulle gemeente daaraan begin dink om ’n bestaande Koninkryksaal op te knap of ’n nuwe te bou. Waarom? Die streekkomitees het riglyne wat gemeentes met hulle aanvanklike besluite kan help. Om ’n stuk grond te kies, sluit baie meer faktore in as net die aankoopprys van die eiendom. Ander dinge kan die werklike prys van die eiendom grootliks vermeerder, soos omvattende terreinwerk, verwydering van gifstowwe of wetlike verwikkelinge. As ’n gemeente geldelike ondersteuning van die Genootskap nodig het, kan hulle afskrifte van die “Kingdom Hall Loan Survey”-vorm by die kringopsiener of streekkomitee kry, en hulle sal die gemeentelike ouere manne help om dit in te vul. Kringopsieners kan ook versiendheid aan die dag lê deur ouere manne in ontwikkelende dorpsgebiede vroegtydig daarvan in kennis te stel dat hulle grond vir ’n nuwe Koninkryksaal nodig sal hê.
6 Die Genootskap het Streekboukomitees van vloerplanne vir Koninkryksale voorsien. Voordat gemeentelike ouere manne ’n ontwerp kies, moet hulle met die streekkomitee in aanraking kom en die algehele ontwerp van die gebou met hulle bespreek deur die planne wat die Genootskap voorsien as ’n riglyn te gebruik. Dit sal nie net die boukoste verminder nie, maar dit sal ook die gemeente help om ’n gebou te kies wat beskeie en tog prakties sal wees en wat volgens die snelboumetode gebou kan word, indien dit reeds daar gebruik word.
7 Noukeurige en breedvoerige finansiële verslae moet gehou word. Bekwame broers het aangebied om saam met die streekkomitees te werk om gemeentes te help sodat hulle die nodige rekeningstelsel kan begin en dit tydens die hele projek in stand kan hou. Ander broers wat saam met die Streekboukomitees werk, help gemeentes om leningsopnames en -aansoeke in te vul. Dit is van groot hulp, aangesien plaaslike ouere manne nie gewoonlik soos hierdie ervare en goed opgeleide broers gereeld met sulke finansiële verslae van Koninkryksale werk nie. Aan die einde van elke projek moet die streekkomitee ’n afskrif ontvang van al die rekeningverslae van die projek. Daarna sal die Streekboukomitee toesien dat die Genootskap ’n afskrif kry van die kosteontleding van elke projek. Maar die algemene onderhoud, herstelwerk en verwante onkoste aan ’n bestaande Koninkryksaal sal plaaslik deur elke gemeente behartig word. As gereelde onderhoud elke maand gedoen word, sal dit nie nodig wees om ná ’n paar jaar groot opknappings te doen wat baie sal kos nie. Die liggaam van ouere manne moet gereeld geld hiervoor opsy sit. Sulke versiendheid verlig die las van die Streekboukomitee en stel hulle in staat om na belangrike opknappings en nuwe projekte om te sien.
8 Toeskouers is beïndruk: Die duidelike werking van Jehovah se heilige gees op die broers wat aan Koninkryksaalbouprojekte werk, was ’n getuienis vir ander. ’n Wêreldse persoon was so beïndruk deur die resultate van ’n snelbou-Koninkryksaal wat in Vosloorus opgerig is dat sy ’n plaaslike radiostasie gebel het om Jehovah se Getuies te prys vir die werk wat hulle te midde van die onluste in die land doen. In ’n ander geval het ’n liggaam van ouere manne in Noord-Transvaal geskryf: “Die bouwerk aan hierdie saal het beslis ’n uitwerking op die toeskouers gehad. Busse, taxi’s en motors het stilgehou om seker te maak dat dít wat die passasiers sien werklik plaasvind. Een sakeman het gesê: ‘Menere, julle openbaar nou die liefde en eenheid waarvan ek in die Bybel gelees het. Julle is werklik die enigste groep wat ware Christelikheid weerspieël.’ ... Die hoof van ’n stat het gesê: ‘Ek bewonder die gees waarin hierdie werk verrig is.... As politici soos julle mense te werk gegaan het, sou die slagting wat ons vandag sien beslis nie bestaan het nie. Daarom wil ek graag bevestig dat julle julle geloof mag beoefen en julle vergaderinge mag hou wanneer julle ook al wil. Daar is geensins ’n beperking nie.’”
9 “‘Ongelooflik!’ was die kommentaar van ’n toeskouer toe meer as 300 vrywilligers van verskillende rassegroepe aan ’n merkwaardige bouprojek by Mhluzi deelgeneem het”, het ’n plaaslike koerant berig. Die Gemeentelike Dienskomitee van ’n ander gebied het die volgende geskryf: “Plaaslike mense was so verbaas toe hulle sien dat die Koninkryksaal in net twee dae gebou word dat hulle kom voel het of ons met regte stene bou. ... Party mense het ’n Bybelstudie gevra as gevolg van dít wat hulle gesien het.”
10 Toe honderde vrywilligers op ’n bouterrein noord van Pretoria aangekom het om met die bouwerk aan ’n Koninkryksaal te help, het die plaaslike swart gemeente hulle gehuisves. Hoe verbaas was die bure tog toe hulle sien hoe tente in agterplase opgeslaan en karavane langs huise ingetrek word. Hulle verbasing was selfs groter toe hulle sien dat baie van die besoekers wit is!
11 Meer vrywilligers nodig: Die streekkomitees probeer broers met vaardighede gebruik wat in die gemeentes beskikbaar is wat in die nuwe of opgeknapte Koninkryksale gaan vergader. Hulle lei ook ander plaaslike broers op, veral ouere manne en bedieningsknegte, sodat hulle kan omsien na die take wat verrig moet word. Wanneer hulle die nodige vaardighede aangeleer het wat vir Koninkryksaalbouwerk nuttig is, kan hierdie geestelik ryp manne met ander Koninkryksaalprojekte in die gebied help. Diegene wat aan gemeentes verbonde is wat by ’n Koninkryksaalbouprojek betrokke is, moet dus ’n gees van gewilligheid en samewerking openbaar en nie verwag dat die streekkomitee en diegene wat saam met hulle werk na al die werk aan hulle Koninkryksaal sal omsien nie (Neh. 4:6b). Nadat die broers opleiding ontvang het, moet hulle deur liefde beweeg word om Koninkryksale te help bou vir ander gemeentes wat ook dringend nuwe of verbeterde plekke nodig het.—Neh. 5:19; Filip. 2:3,4.
12 Gedoopte verkondigers wat oor die gepaste vaardighede beskik en wat ’n goeie naam in die gemeente het, word aangemoedig om hulle aan te bied om met hierdie ontsaglike werkstoewysing te help. Ons het broers met konstruksie- en ander vaardighede nodig. Vrywilligers kan die nodige vorms by die presiderende opsiener of sekretaris in hulle gemeente kry, en hulle kan daarop aandui watter ondervinding hulle as ambagsmanne of op ’n ander gebied het, soos voedselbediening, veiligheid, hantering van boumateriale, rekeningkunde en die verwerking van regsdokumente. (As die gemeente meer vrywilligervorms nodig het, kan dit voortaan aangevra word saam met die lektuurbestelling wat aan die Genootskap gestuur word.) As ons hieraan gehoor gee, is dit ’n blyk van ons liefde vir ons medemens wat die naaste aan ons is—ons Christenbroers.—Matt. 7:12; 22:39; Joh. 13:35.
13 Vrywilligers se hulp word waardeer: Baie besef eers hoe ’n groot taak dit is om so ’n projek te voltooi nadat hulle by ’n Koninkryksaalbouprojek betrokke was. Nadat een Koninkryksaalprojek voltooi is, het die ouere manne geskryf: “Die geduldige leiding wat die broers van die Streekboukomitee gegee het, was vir ons ’n baie groot seën. ... Daar was tydens die hele projek geleenthede, te veel om te noem, wat broers ver gereis het, ure gewerk het, hulle toerusting en gereedskap gegee het om gebruik te word en selfs boumateriaal geskenk het, en dit alles om ons met die bou van ons nuwe Koninkryksaal te help. Die vrygewigheid van hierdie broers is ’n wonderlike bewys dat hulle wel ‘die hele broederskap liefhet’, en wat ’n aanmoediging was dit tog vir ons gewees!—1 Pet. 2:17.”
14 Die gewillige gees en ywer van die broers blyk uit wat een gemeente geskryf het: “Ons is dankbaar vir die gewillige broers en susters wat tot die verbasing van almal wat hulle dopgehou het só hard gewerk het.” Hoe waar is die woorde van Psalm 133:1,3 tog: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!” Party Koninkryksaalkonstruksiewerkers neem verlof sodat hulle ’n naburige gemeente met hulle Koninkryksaalprojek kan help. Daarenteen het lede van die tuisgemeente hulle opregte waardering getoon deur die projek ten volle te ondersteun. ’n Ouere man wat saam met ’n streekkomitee werk, het geskryf om te sê wat ’n voorreg dit was om sy broers te dien. Hy het gesê dat “gemeentes baie aangemoedig word deur broers wat honderde kilometers ry om hulle te kom help sodat hulle hulle toewyding aan Jehovah kan uitvoer. ... Ons maak werklik ’n liefdevolle broederskap uit!” ’n Suster het haar gevoelens só uitgedruk: “Ek kan nie anders as om my dankbaarheid uit te spreek vir die vreugde wat ek by die Koninkryksaalbouterrein in Spruitview gesmaak het nie. Dit is nou die derde saal waaraan ek help bou.”
15 ’n Gemeente het die volgende in ’n brief aan hulle Streekboukomitee gesê nadat hulle projek voltooi is: “Ons skryf net om baie dankie te sê! Julle het julle gemeentelike vergaderinge, julle slaap, die vreugde om saam met julle gesin te wees, julle ontspanning, julle velddiens en baie meer opgeoffer om vir ons ’n saal te kom bou. Ons verdien eenvoudig nie wat julle vir ons gedoen het nie. Broers, ons is baie trots op julle, en dit is vir ons ’n eer om saam met sulke goeie en toegewyde manne te werk. Ons wil ook julle gesinne bedank wat altyd onvermoeid met glimlaggende gesigte saam met julle gewerk het terwyl hulle wind, hitte en koue moes trotseer. Ons wil weer eens baie dankie sê. ‘Mag Jehovah julle vir altyd onthou.’—Nehemia 13:31, NW.”
16 Beveiliging van die Koninkryksaal: Daar word al hoe meer by Koninkryksale ingebreek. In die meeste gevalle is die klanktoerusting gesteel. Die volgende wenke behoort in ’n mate te help om die probleem te voorkom: (1)Installeer alle duur klanktoerusting in ’n soliede staalhouer (wat in die handel beskikbaar is) en maak seker dat dit met ’n goeie slot gesluit word; (2)installeer die houer verkieslik uit die oog en skroef dit aan die vloer of teen die muur vas; (3)graveer die gemeente se naam op al die toerusting, want sodoende stel dit die polisie in staat om die gesteelde goedere te identifiseer en terug te besorg.
17 Soliede diefwering en veiligheidshekke is ’n afskrikmiddel vir misdadigers. In party gevalle moet daar ook ’n heining om die eiendom opgerig word. Veiligheidsmure word nie aanbeveel nie, aangesien dit die misdadiger in werklikheid teen die waaksame oë van bure beskerm. As die probleem voortduur, moet julle dalk ligte reg rondom die gebou aanbring wat outomaties aanskakel en moontlik ook ’n alarmstelsel installeer. Ouere manne word aangemoedig om gepaste stappe in hierdie verband te doen, aangesien dit toegewyde geld is wat hierby betrokke is.
18 In baie dele van die land het gemeentes om veiligheidsredes ’n woonstel aan die Koninkryksaal gebou, en in sulke gevalle beveel ons aan dat ’n telefoon in die gemeente se naam geïnstalleer word. Die opsigter sal sodoende in ’n noodgeval hulp kan ontbied. Dit is die opsigter se verantwoordelikheid om vir sy eie oproepe te betaal. Daarbenewens moet die liggaam van ouere manne en die opsigter ’n eenvoudige geskrewe ooreenkoms optrek waarin hulle sê wat die huur sowel as die woonregte en pligte is en watter kennisgewing nodig is om die huur op te sê.
19 Geldelike bydraes help steeds: Vrygewige bydraes tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds het al gemeentes in die verlede gehelp en sal beslis voortgaan om dit in die toekoms te doen. Neem Jehovah God nie self die leiding deur onselfsugtig te gee nie? (Jak. 1:17). Ons vermoë en geleenthede om te gee verskil weliswaar, maar ons sal dalk vind dat ons die bouwerk ten volle kan ondersteun as ons ons persoonlike uitgawes heroorweeg. Sulke vrygewigheid verbly beslis Jehovah se hart, en dit is ’n groot aanmoediging vir ons broers.
20 ’n Toenemende “groot menigte” gee vandag aan die Koninkryksboodskap gehoor. “Die skatte” van die nasies stroom na Jehovah se geestelike tempel, en hy ‘vervul sy huis met heerlikheid’ (Openb. 7:9; Hag. 2:7). Mag ons, net soos die getroue Jode in Haggai se tyd, God se werk heelhartig ondersteun deur in die dringende behoefte na bykomende Koninkryksale te voorsien. Al is daar in die laaste jare talle pragtige Koninkryksale gebou, gaan die groei teen ’n versnelde pas voort en vergader baie gemeentes boonop steeds in ongewenste toestande. Ons voortgesette ondersteuning van die Genootskap-Koninkryksaalfonds is ’n uitstekende manier om aan God se werk deel te neem.
[Diagram op bladsy 3]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Toegewyde Koninkryksale
300
200
100
0 1978 1988 1993
Jare
[Prente op bladsy 4,5]
Padfield Park, Pinetown
[Prente op bladsy 4,5]
Spruitview, Johannesburg
[Prente op bladsy 4,5]
Vosloorus, Johannesburg
[Prente op bladsy 4,5]
Bosbokrand, Oos-Transvaal