Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 1/1 bl. 25-29
  • Hou aan om die Koninkryk te verkondig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om die Koninkryk te verkondig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom aanhou?
  • “Hoe kan hulle hoor”?
  • Hoe om bloedskuld te vermy
  • “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Volhard met die predikingswerk!
    Ons Koninkryksbediening—2000
  • ‘Die goeie nuus moet eers verkondig word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die huis-tot-huis-bediening—Waarom nou belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 1/1 bl. 25-29

Hou aan om die Koninkryk te verkondig

“Hierdie [goeie nuus] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—MATTHEÜS 24:14, vgl. NW.

1, 2. (a) Wat is die belangrikste werk van hierdie eeu, en in watter mate word dit gedoen? (b) Watter bewys is daar dat Jehovah hierdie werk seën?

DIE verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk is die belangrikste werk van hierdie eeu. Dit is wat die almagtige God nou gedoen wil hê, en dit word ter vervulling van sy profetiese Woord gedoen. Jou reaksie daarop sal jou ewige toekoms beïnvloed.—1 Korinthiërs 9:16, 23.

2 Dit is opwindend om te sien dat die aantal wat hierdie predikingswerk doen voortdurend toeneem, met meer as driemiljoen wat nou daaraan deelneem. Meer persone as ooit tevore betree die voltydse bediening. En talle meer belangstellendes aanvaar ’n Bybelstudie en wend ’n poging aan om te leer om God se wil te doen.

3. Wat sê party dalk oor die nodigheid om met die verkondiging van die goeie nuus voort te gaan?

3 Maar soms hou party op “om goed te doen” en ‘raak hulle vermoeid’ wat die predikingswerk betref (Galasiërs 6:9, vgl. NW; Hebreërs 12:3). Hulle sê dalk dat die goeie nuus reeds oral in hulle gebied verkondig is en dat mense hul standpunt ingeneem het en nou ergerlik raak wanneer ons hulle tuis besoek. Diegene wat die predikingswerk aldaar doen, kry baie min of geen resultate nie. Daarom meen hulle dat die werk dalk so te sê voltooi is en dat dit nie nodig is om daarmee voort te gaan nie. Wat skort met hierdie sienswyse?

Waarom aanhou?

4. Wat moet ons beweeg om aan te hou getuig selfs in ’n gebied waar mense nie daarop ag slaan nie?

4 Ten eerste moet ons getroue volharding in die predikingswerk nie daarvan afhang of mense na ons luister of nie. Jeremia het 40 jaar in Jerusalem gepreek al het bitter min geluister en baie hom hewig teëgestaan. Waarom het hy aangehou? Omdat hy ’n werk gedoen het wat Jehovah beveel het en omdat sy profetiese kennis van wat met Jerusalem sou gebeur hom verplig het om aan te hou praat (Jeremia 1:17-19). Hy het gesê: “Dit [was] in my hart soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:7-10). Ons situasie is soortgelyk. Dit is Jehovah wat, deur Jesus Christus, beveel het dat die “goeie nuus” in die hele bewoonde wêreld verkondig moet word (Mattheüs 24:14, NW). Wanneer mense weier om te luister, bied dit ons ’n geleentheid om die diepte van ons liefde vir en toegewydheid aan Jehovah te toon deur aan te hou doen wat reg is (1 Johannes 5:3). Hoe kan ons buitendien versuim om ons naaste te probeer waarsku wanneer ons nadink oor wat die nabye toekoms vir die mensdom inhou?—2 Timotheüs 4:2.

5. (a) Om watter ander rede moet ons in die predikingswerk volhard? (b) Hoe is die predikingswerk ’n grondslag vir oordeel?

5 Bowendien was Jeremia se predikingswerk in werklikheid ’n oordeelswerk. In 607 v.G.J kon niemand wat gesterf het of tot slaaf gemaak is toe Jerusalem geval het, beweer dat hy nie geweet het waarom dit met hulle gebeur nie. Jeremia het hulle 40 jaar lank gewaarsku dat juis dít sou gebeur as hulle aanhou om teen Jehovah opstandig te wees. (Vergelyk Esegiël 2:5.) Die verkondiging van die goeie nuus as “’n getuienis vir al die nasies” is eweneens vandag ’n grondslag vir oordeel. Die apostel Paulus stel dit duidelik wanneer hy sê dat Christus Jesus wraak sal uitoefen op “die wat God nie ken nie en op die wat aan die [goeie nuus] van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thessalonicense 1:8, 9, vgl. NW). Mense sal geoordeel word volgens hulle reaksie op die goeie nuus. Die predikingswerk moet dus tot aan die einde luid en duidelik voortduur (Openbaring 14:6, 7). Niks moet verhinder dat hierdie lewensbelangrike boodskap so dikwels moontlik aan die mense gebring word nie. Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op al Jehovah se toegewyde knegte.

6. Waarom moet ons aanhou getuig al is ons boodskap moontlik alom bekend?

6 Ons het die goeie nuus moontlik wyd en syd in ons gebied verkondig. Maar daar gebeur so baie dinge in die wêreld dat baie mense, hoewel hulle ons boodskap gehoor het, dit gou sou vergeet as ons sou ophou om dit te verkondig. Dink aan die revolusies, terrorisme, stakings, skandale en ander gebeure wat groot publisiteit geniet. Dan is daar die talle vorme van gewilde vermaak en ander dinge wat die aandag aflei. Ons moet aanhou getuig sodat die mense, ten spyte van al die ander dinge wat hulle aandag verg, van ons boodskap bewus bly.

7. Hoe kom die reaksie van baie vandag ooreen met die Israeliete se reaksie op Jesaja se profesieë, maar waarom moet dit ons nie van die predikingswerk weerhou nie?

7 Wanneer baie mense ons probeer ignoreer, moet ons onthou vir watter soort mense die profeet Jesaja moes getuig. Jehovah het vir hom gesê: “Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! En aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” Jesaja het nietemin getrou vir die volk gesê: “Die HERE is ’n God van die gerig. Welgeluksalig is almal wat op Hom wag!” (Jesaja 30:9-11, 18). Ons moet dieselfde doen. Solank ons aanhou, sal ons boodskap in sekere mate ingang vind. Sommige sal daarop ag slaan, en ander sal nie. Maar almal sal die geleentheid hê om te hoor.

“Hoe kan hulle hoor”?

8. Watter faktore kan mense van plan laat verander al het hulle skynbaar hulle standpunt teen die waarheid ingeneem?

8 Ons meen miskien dat mense in ’n sekere gebied ’n definitiewe standpunt ingeneem het en vasbeslote is om ons boodskap te verwerp of selfs teë te staan. Maar onthou, die situasie in mense se lewe is voortdurend besig om te verander. Hulle sal moontlik môre, volgende week of volgende maand voor nuwe probleme of situasies te staan kom wat hulle vir die waarheid ontvanklik sal maak. Hulle hoor dalk van verontrustende gebeure in die wêreld of ondervind moontlik geldelike teenspoed of siekte of verloor ’n familielid. Sulke dinge kan hulle laat wakker skrik en ’n begeerte wek om te weet wat die rede vir hulle ellende is. As ons aanhou getuig, sal hulle weet tot wie hulle hulle kan wend.

9. Hoe kan ons predikingswerk vergelyk word met dié van reddingswerkers in ’n rampgebied?

9 Ons situasie kan vergelyk word met dié van reddingswerkers in ’n rampgebied, soos na ’n aardbewing. Party werk dalk in ’n gebied waar minder oorlewendes gevind word, maar die feit dat hulle medewerkers meer oorlewendes in ’n ander gebied vind, sal hulle nie stadiger laat werk en laat tou opgooi nie. Alle reddingswerkers volhard eerder onvermoeibaar, selfs wanneer hulle meen dat daar nie meer oorlewendes in hulle toegewese deel is nie. En dan vind hulle soms nog ’n oorlewende. Die soektog word eers afgelas wanneer die tyd wat verstryk het, toon dat daar nie meer hoop is nie. Wel, ons soektog is nog nie afgelas nie, en ons vind steeds duisende der duisende wat uit hierdie ou wêreld gered wil word en “die groot verdrukking” wil oorleef (Openbaring 7:9, 14). Selfs in gebiede wat deeglik gedek is en waar die meeste mense nie gunstig reageer nie, word daar steeds ’n mate van sukses behaal. En daar is bykomende redes om met die predikingswerk voort te gaan.

10. Hoe alleenlik sal mense volgens Romeine 10:13, 14 weet tot wie hulle hulle moet wend as hulle die waarheid wil soek?

10 Mense moet voortdurend daaraan herinner word dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’. Maar, soos Paulus voorts in sy brief aan die Romeine sê: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Romeine 10:13, 14, vgl. NW). Hierdie woorde moet by ons almal tuisbring hoe nodig dit is om aan te hou om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.

11. Watter nuwe geslag verskyn nou, en watter verantwoordelikheid het ons teenoor jongmense wat volwassenheid bereik?

11 Namate die tyd van die einde voortgeduur het, is kinders gebore en het hulle volwassenheid of die ouderdom van verantwoordelikheid bereik. Dikwels het hierdie jongmense geen aandag aan die waarheid geskenk nie. Hulle ouers het moontlik die boodskap verwerp en hulle selfs daarteen uitgespreek. Maar nou is hierdie jongmense oud genoeg om self ernstig oor wêreldtoestande, oor die toekoms en oor hulle doel in die lewe na te dink. Hulle moet ook Jehovah se naam aanroep om gered te word. Maar “hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?” (Romeine 10:14). In baie gevalle is hierdie tieners en jong volwassenes ontvanklik vir die waarheid, en daarom moet ons hulle soek en vir hulle getuig.

12. Hoe is die feit dat ons met die predikingswerk voortgaan ’n blyk van Jehovah se genade?

12 Die feit dat die predikingswerk nog gedoen kan word, is ’n blyk van Jehovah se genade. Die apostel Petrus skryf: “[Jehovah] vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. En ag die lankmoedigheid van ons Here as [redding]” (2 Petrus 3:9, 15, vgl. NW). Jehovah se begeerte dat alle mense gered moet word, word getoon nie net deurdat hy geduldig tyd toelaat voordat hy die oordeel voltrek nie, maar ook deurdat hy voortdurend ’n beroep op mense doen om hulle tot hom te wend en gered te word (1 Timotheüs 2:4). Terwyl ons aanhou om die goeie nuus te verkondig, beklemtoon ons God se genade en sodoende loof ons hom.

Hoe om bloedskuld te vermy

13, 14. (a) Hoe kan ons predikingswerk vergelyk word met die werk van ’n wagter, soos in Esegiël se profesie gemeld word? (b) Waarom kon Paulus sê dat hy “rein is van die bloed van almal”, en alleenlik hoe kan Jehovah se Getuies dit vandag sê?

13 Die verantwoordelikheid van Jehovah se toegewyde Getuies om mense teen God se komende oordeel te waarsku, kan vergelyk word met dié van Esegiël in sy tyd. Hy is as ’n wagter vir die huis van Israel aangestel. Sy toewysing was om die Israeliete te waarsku dat hulle tereggestel sal word as hulle nie hulle slegte weë laat vaar nie. As hy as ’n wagter nie die waarskuwing gegee het nie, sou die goddeloses nog steeds tereggestel word, maar hulle bloed sou op die hoof van die nalatige wagter neerkom. Hierdeur toon Jehovah sy gesindheid teenoor die voltrekking van oordeel: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer, bekeer julle van julle verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?”—Esegiël 33:1-11.

14 Die apostel Paulus het sy verantwoordelikheid as ’n wagter erken en vir die ouere manne van Efese gesê: “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal.” Waarom kon hy so sê? Hy sê voorts: “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Handelinge 20:26, 27). Dieselfde geld vandag vir die wagterklas, die oorblyfsel gesalfde volgelinge van Jesus Christus. Hulle almal moet, saam met hulle meer as driemiljoen metgeselle wat die vooruitsig het om die einde van hierdie stelsel te oorlewe en ewige lewe op die aarde te ontvang, nooit verslap in die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en mense teen die komende voltrekking van sy oordeel te waarsku nie. Sodoende vermy hulle bloedskuld.

15. Wie is volgens Esegiël hoofstuk 9 geteken, en wie het die tekenwerk gedoen?

15 Die hedendaagse predikingswerk word profeties in Esegiël hoofstuk 9 beskryf. Hier het Jehovah besluit om die stad Jerusalem te straf. Voordat hy daardie oordeel voltrek het, is ’n man wat met linne bekleed was en met ’n skrywer se inkpot aan sy heupe beveel om deur die stad te trek en ’n teken te maak op die voorhoofde van almal wat sug oor die gruwels wat aldaar gedoen word. Wanneer hierdie tekenwerk voltooi is, sou almal in die stad, buiten diegene wat die teken vir oorlewing ontvang het, tereggestel word. Toe die man sy tekenwerk voltooi het, het hy berig: “Ek het gedoen soos U my beveel het” (Esegiël 9:11). Hy het sy toewysing getrou uitgevoer.

16. (a) Wie beeld die man wat met linne bekleed was vandag af? (b) Hoe spoor die geskil ten opsigte van die verheerliking van Jehovah se soewereiniteit ons aan om in die predikingswerk te volhard?

16 Die man wat met linne bekleed is, beeld die gesalfde oorblyfsel van Christus se volgelinge af, en die “groot menigte” “ander skape” sluit by hulle aan. Die groot geskil is vandag, soos in Esegiël se tyd, die verheerliking van Jehovah se soewereiniteit. Jehovah sê in verband met die einde van hierdie huidige, goddelose stelsel tydens die oorlog van die groot dag van die almagtige God: “En die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is” (Openbaring 7:9; Johannes 10:16; Esegiël 39:7, NW). As die nasies dit moet weet, is dit gebiedend noodsaaklik dat Jehovah se knegte op aarde aanhou om sy naam en voorneme as ’n getuienis vir al die nasies te verkondig.

17, 18. (a) Hoe help ons voortgesette predikingswerk ons om waaksaam te bly? (b) Wat wil ons almal vir Jehovah sê wanneer hy die predikingswerk beëindig, en alleenlik hoe kan ons dit doen?

17 Deur aan te hou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, bly ons self waaksaam. Ons bly bewus van die belangrikheid van Jehovah se naam en voorneme. As ons minder doen, kan ons Koninkrykshoop verflou en kan ons meegesleep word deur die “sorge en rykdom en genietinge van die lewe en . . . geen ryp vrug [dra] nie” (Lukas 8:14). As ons ywerig aanhou om “die goeie nuus” te verkondig, gehoorsaam ons getrou die bevele van ons Heer, Jesus Christus: “Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”—Markus 13:10, NW, 33, 37, NAV.

18 Laat ons almal dan aanhou om ‘diegene wat sug’ te soek solank Jehovah die tyd daarvoor toelaat. Mag ons almal, hetsy ons van die gesalfde oorblyfsel of van die “ander skape” is, ons toewysing om die goeie nuus van die Koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies te verkondig getrou uitvoer (Mattheüs 24:14). Mag elkeen van ons, wanneer Jehovah self hierdie werk beëindig deur “die groot verdrukking” te begin, vir Jehovah kan sê: ‘Ons het gedoen soos U ons beveel het.’

Onthou jy?

◻ Wat toon die resultate met betrekking tot ons predikingswerk?

◻ Om watter ander redes moet ons aanhou getuig?

◻ Hoe is ons predikingswerk ’n blyk van Jehovah se genade?

◻ Hoe kan ons rein bly van die bloed van alle mense?

◻ Hoe help ons predikingswerk ons om waaksaam te bly?

[Tabel op bladsy 28]

RESULTATE VAN DIE PREDIKINGSWERK OOR SEWE JAAR

Aantal gedoop Gedenkmaalopkoms Aantal Bybelstudies

1981 119 836 5 987 893 1 475 177

1982 138 540 6 252 787 1 586 293

1983 161 896 6 767 707 1 797 112

1984 179 421 7 416 974 2 047 113

1985 189 800 7 792 109 2 379 146

1986 225 868 8 160 597 2 726 252

1987 230 843 8 965 221 3 005 048

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel