Hoofstuk 24
Deur die krag van mense? of deur God se Gees?
DIE toewysing wat Jesus Christus vir sy volgelinge gegee het, het na ’n onmoontlike taak gelyk. Hoewel hulle min was, moes hulle die goeie nuus van God se Koninkryk in die hele wêreld verkondig (Matt. 24:14; Hand. 1:8). Dit was nie net ’n reusetaak nie, maar dit moes ook gedoen word ondanks oënskynlik oorweldigende teëstand omdat hulle, soos Jesus reguit vir sy dissipels gesê het, deur al die nasies gehaat en vervolg sou word.—Matt. 24:9; Joh. 15:19, 20.
Ten spyte van wêreldwye teenkanting lê Jehovah se Getuies hulle ywerig daarop toe om die werk te doen wat Jesus voorspel het. Die mate waarin die getuieniswerk reeds gedoen is, is alombekend, en waarlik indrukwekkend daarby. Maar waardeur is dit moontlik gemaak? Was dit die krag of vindingrykheid van mense? Of was dit die werking van God se gees?
Die Bybelverslag oor die herstel van ware aanbidding in Jerusalem in die sesde eeu v.G.J. herinner ons daaraan dat God se rol in die uitvoering van sy wil nooit uit die oog verloor moet word nie. Sekulêre kommentators soek moontlik na ’n ander verklaring vir wat gebeur. Maar toe God verduidelik het hoe sy voorneme tot stand gebring sou word, het hy sy profeet Sagaria laat sê: “‘Nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, het Jehovah van die leërskare gesê” (Sag. 4:6, NW). Jehovah se Getuies huiwer nie om te sê dat dit is hoe die verkondiging van die Koninkryksboodskap vandag gedoen word nie—nie deur gebruik te maak van militêre mag en ook nie deur middel van die persoonlike mag of invloed van enige vooraanstaande groep mense nie, maar deur die werking van Jehovah se gees. Strook die bewyse met hulle siening?
“Nie baie wyse na die vlees nie”
Toe die apostel Paulus aan die vroeë Christene in Griekeland geskryf het, het hy erken: “Let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”—1 Kor. 1:26-29.
Jesus se eie apostels was uit die arbeiderstand. Vier was vissers van beroep. Een was ’n tollenaar, ’n beroep wat deur die Jode verag is. Die Joodse geestelikes het hierdie apostels as “ongeleerde en eenvoudige” manne beskou, wat toon dat hulle nie aan die skole vir hoër geleerdheid onderrig is nie (Hand. 4:13). Dit beteken nie dat niemand wat intensiewer sekulêre of godsdiensonderrig ontvang het Christene geword het nie. Die apostel Paulus het aan die voete van die geleerde Gamaliël, ’n lid van die Joodse Sanhedrin, gestudeer (Hand. 22:3). Maar soos die teks sê, was daar “nie baie” van hulle nie.
Die geskiedenis getuig van die feit dat Celsus, ’n Romeinse filosoof van die tweede eeu G.J., ’n bespotting daarvan maak dat “arbeiders, skoenmakers, boere, die mees oningeligte en belaglikste mense, ywerige verkondigers van die Evangelie is” (The History of the Christian Religion and Church, During the Three First Centuries, deur Augustus Neander). Wat het ware Christene versterk om aan te hou om verkondigers van die goeie nuus te wees ten spyte van die spot en gewelddadige vervolging wat hulle in die Romeinse Ryk verduur het? Jesus het gesê dat dit God se heilige gees sou wees.—Hand. 1:8.
In onlangser tye is Jehovah se Getuies eweneens gesmaad omdat hulle oor die algemeen gewone mense is, nie mense wie se posisie in die lewe die wêreld na hulle laat opsien nie. Een van die eerstes onder Jehovah se hedendaagse knegte wat die Koninkryksboodskap aan mense in Denemarke bekend gemaak het, was ’n skoenmaker. In Switserland en Frankryk was dit ’n tuinier. In baie dele van Afrika is die boodskap deur trekarbeiders oorgedra. In Brasilië het matrose ’n aandeel daarin gehad. Heelparty van die Poolse Getuies in Noord-Frankryk was steenkoolmynwerkers.
Omdat hulle diep getref is deur wat hulle met behulp van Wagtoringpublikasies uit God se Woord geleer het, wou hulle hulle liefde vir Jehovah toon deur hom te gehoorsaam, met die gevolg dat hulle die werk begin doen het wat God se Woord sê ware Christene sou doen. Sedertdien het nog miljoene mense uit alle stande ook aan hierdie werk begin deelneem. Hulle almal is evangeliedienaars.
Jehovah se Getuies is die enigste godsdiensorganisasie ter wêreld waarvan elke lid persoonlik vir niegelowiges getuig, hulle vrae uit die Bybel probeer beantwoord en hulle aanspoor om geloof in God se Woord te stel. Ander godsdiensorganisasies erken dat alle Christene dit behoort te doen. Sommige het hulle lidmate al probeer aanmoedig om dit te doen. Maar net Jehovah se Getuies doen dit sonder ophou. Wie se leiding, wie se raad, wie se versekering van liefdevolle ondersteuning en wie se beloftes beweeg hulle om hierdie werk te doen wat deur ander vermy word? Vra hulle self. Ongeag uit watter nasie hulle kom, hulle sal sê: “Jehovah s’n.” Aan wie moet die eer dan gegee word?
’n Rol wat vir God se engele voorspel is
Toe Jesus die gebeure beskryf het wat tydens die voleinding van hierdie stelsel van dinge sou plaasvind, het hy getoon dat dit nie net sy volgelinge op aarde sou wees wat ’n aandeel in die insameling van die liefhebbers van regverdigheid sou hê nie. In Mattheüs hoofstuk 13, waar Jesus die insameling van die laaste lede bespreek het wat saam met hom in die hemelse koninkryk sou regeer, het hy gesê: “Die maaiers is die engele.” En hoe groot sou die saailand wees waaruit hierdie “kinders van die koninkryk” ingesamel sou word? “Die saailand is die wêreld”, het Jesus verduidelik. Diegene wat ingesamel sou word, sou dus van die uithoeke van die aarde af kom. Het dit werklik gebeur?—Matt. 13:24-30, 36-43.
Inderdaad! Hoewel daar maar net ’n paar duisend Bybelstudente was toe die wêreld in 1914 sy laaste dae binnegegaan het, was die Koninkryksboodskap wat hulle verkondig het spoedig wêreldwyd bekend. In die Ooste, in lande van Europa, Afrika en die Amerikas en op die talle eilande het individue die geleentheid aangegryp om die belange van God se Koninkryk te bevorder en is hulle in een verenigde organisasie versamel.
In Wes-Australië het Bert Horton byvoorbeeld die Koninkryksboodskap gehoor. Hy het nie belanggestel in godsdiens soos hy dit geken het nie; hy was by die politiek en vakbondbedrywighede betrokke. Maar toe sy ma hom die Wagtoringpublikasie The Divine Plan of the Ages gegee en hy dit saam met die Bybel begin lees het, het hy geweet dat hy die waarheid gevind het. Hy het sy werkmaats spontaan daarvan vertel. Toe hy die Bybelstudente opgespoor het, was dit vir hom ’n plesier om met hulle om te gaan, is hy in 1922 gedoop en het hy die voltydse bediening betree en aangebied om te dien waar Jehovah se organisasie ook al sou sê hy moet.
Aan die ander kant van die aarde het W. R. Brown, wat reeds op die Karibiese Eilande gepreek het, in 1923 na Afrika vertrek om die Koninkryksboodskap daar te verkondig. Hy was nie ’n onafhanklike prediker op die een of ander persoonlike sending nie. Hy het ook saam met Jehovah se georganiseerde volk gewerk. Hy het aangebied om te dien waar hulp nodig was, en hy het die toewysing in Wes-Afrika op voorstel van die hoofkwartierkantoor aanvaar. Diegene wat persoonlik by sy bediening baat gevind het, is ook gehelp om te besef hoe belangrik dit is om ten nouste met Jehovah se organisasie saam te werk.
Die Koninkryksboodskap is ook in Suid-Amerika verkondig. Hermán Seegelken in Mendoza, Argentinië, was lank reeds bewus van die skynheiligheid in die Katolieke sowel as die Protestantse kerk. Maar in 1929 het hy ook die Koninkryksboodskap gehoor, dit gretig aangeneem en begin om dit, in eenheid met Jehovah se knegte in ander wêrelddele, aan ander te verkondig. Daar was wêreldwyd soortgelyke gebeure. Mense “uit elke stam en taal en volk en nasie” het, hoewel hulle geografies verspreid was en verskillende lewensweë gevolg het, nie net geluister nie, maar hulleself aangebied om God te dien. Hulle is versamel in ’n verenigde organisasie om die werk te doen wat Jesus voorspel het in hierdie tyd gedoen sou word (Openb. 5:9, 10). Waaraan kan dit toegeskryf word?
Die Bybel het gesê dat God se engele ’n belangrike rol daarin sou speel. As gevolg hiervan sou die verkondiging van die Koninkryk wêreldwyd soos die geluid van ’n trompet uit ’n bomenslike bron weerklink. Trouens, teen 1935 is dit reeds in 149 lande gehoor—in die noorde, die suide, die ooste en die weste, van die een einde van die aarde tot die ander.
Aanvanklik het net ’n “klein kuddetjie” opregte waardering vir God se Koninkryk getoon en was net hulle gewillig om die belange daarvan te bevorder. Dit is wat die Bybel voorspel het. Nou is daar ’n groeiende “groot menigte”, wat miljoene tel en uit al die nasies kom, wat met hulle geassosieer word. Dit is ook in God se Woord voorspel (Luk. 12:32; Joh. 10:16; Openb. 7:9, 10). Dit is nie mense wat bloot bely dat hulle dieselfde godsdiens het, maar wat in werklikheid onderling verdeel word deur al die beskouinge en filosofieë wat die wêreld rondom hulle versplinter nie. Jehovah se Getuies praat nie net oor God se Koninkryk terwyl hulle in werklikheid op menseheerskappy vertrou nie. Selfs wanneer dit hulle hulle lewe kan kos, gehoorsaam hulle God as heerser. Die Bybel sê duidelik dat die insameling van sulke mense wat ‘God vrees en Hom heerlikheid gee’ onder leiding van die engele gedoen sou word (Openb. 14:6, 7; Matt. 25:31-46). Die Getuies is vas daarvan oortuig dat dit presies is wat gebeur het.
Hulle het al by tallose geleenthede, terwyl hulle aan hulle bediening deelgeneem het, oortuigende bewys van hemelse leiding gesien. In Rio de Janeiro, Brasilië, was ’n groep Getuies byvoorbeeld een Sondag met hulle laaste besoeke van huis tot huis besig toe ’n lid van die groep gesê het: “Ek wil nog ’n rukkie werk. Om die een of ander rede wil ek na daardie huis toe gaan.” Die groepleier het voorgestel dat hulle dit op ’n ander dag doen, maar die verkondiger het daarop aangedring om te gaan. By daardie huis het die Getuie ’n vrou aangetref wat, terwyl die trane oor haar wange stroom, gesê het dat sy so pas om hulp gebid het. Die Getuies het haar al voorheen besoek, maar sy het nie in die Bybel se boodskap belanggestel nie. Maar die skielike dood van haar man het haar laat besef dat sy geestelike hulp nodig het. Sy het na die Koninkryksaal gesoek, maar tevergeefs. Sy het ernstig tot God om hulp bly bid, en nou was dit by haar deur. Kort daarna is sy gedoop. Sy was oortuig dat God haar gebed gehoor het en die nodige gedoen het om te voorsien wat sy gevra het.—Ps. 65:3.
’n Duitse Getuie van Jehovah wat in New York gewoon het, het dit ’n gewoonte gemaak om God in gebed om leiding te vra wanneer sy in die bediening was. Daar was ’n vrou wat belanggestel het na wie sy week na week op straat gesoek het, omdat sy nie geweet het waar die vrou woon nie. Toe die Getuie een dag in 1987 met haar predikingswerk begin het, het sy gebid: “Jehovah, u weet waar sy is. Help my asseblief om haar te vind.” ’n Paar minute later het sy die vrou in ’n restaurant sien sit.
Was dit net toeval? Die Bybel sê dat ware Christene “medewerkers van God” is en dat die engele uitgestuur word “vir diens . . . ter wille van die wat die saligheid sal beërwe” (1 Kor. 3:9; Hebr. 1:14). Nadat die Getuie vir die vrou vertel het hoe sy haar gevind het, het die vrou ’n uitnodiging aanvaar om daardie selfde dag nog te sit en die Bybel verder te ondersoek.
‘Ontoeganklike gebiede’ word met die goeie nuus bereik
Jehovah se Getuies het nog altyd met onvermoeide inspanning probeer om die Koninkryksboodskap na alle lande uit te dra. Maar dit is nie al waaraan die resultate toegeskryf kan word nie. Hulle het al gesien hoe die Koninkryksboodskap na gebiede versprei waar al hulle sorgvuldig beplande pogings misluk het.
Daar is byvoorbeeld by meer as een geleentheid gedurende die twintiger- en dertigerjare vertoë tot regeringsamptenare in die destydse Sowjetunie gerig om toestemming te verkry om Bybellektuur na daardie land te stuur of dit daar te druk. Die antwoord was altyd nee. Daar was ’n paar Getuies van Jehovah in die Sowjetunie, maar hulle het baie meer hulp nodig gehad om die predikingswerk te kon doen wat God se Woord gesê het gedoen moet word. Kon enigiets gedoen word om daardie hulp te voorsien?
Dit is interessant dat meer as duisend van Jehovah se Getuies, asook baie ander mense, uit wat vroeër Oos-Pole was hulle aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in die Sowjetunie bevind het. In die Ravensbrück-konsentrasiekamp het honderde jong Russiese vroue medegevangenes leer ken wat Getuies van Jehovah was. Sommige van hierdie vroue het hulle gedurende daardie tyd aan Jehovah toegewy, en hulle is later na verskillende dele van die Sowjetunie teruggestuur. Honderde ander het ook inwoners van die Sowjetunie geword, aangesien landsgrense gedurende die oorlog verander het. Die resultaat was nie wat die Sowjetregering in gedagte gehad het nie. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het dit nie gereël nie. Maar dit het bygedra tot die vervulling van wat God se geïnspireerde Woord voorspel het. Toe Die Wagtoring oor hierdie verwikkelinge kommentaar gelewer het, het dit gesê: “So kan gesien word hoe die Here, in voorsienigheid, getuies in enige land kan ve
rwek om die waarheidsbanier daar hoog te hou en die naam van Jehova[h] bekend te maak.”—Nommer van 1 Junie 1946 (Engelse uitgawe, 1 Februarie 1946).
Dit is nie net een land wat al vir Jehovah se Getuies gesê het: ‘Julle kan nie hier inkom nie!’ of ‘Julle kan nie hier preek nie.’ Dit het al oor en oor gebeur, in letterlik tientalle lande dwarsdeur die wêreld en dikwels as gevolg van die druk wat geestelikes op regeringsamptenare uitoefen. Party van hierdie lande het later wetlike status aan Jehovah se Getuies verleen. Maar selfs voor dit gebeur het, het duisende mense binne die grense van daardie lande Jehovah, die Skepper van die hemel en die aarde, begin aanbid. Hoe was dit moontlik?
Die Bybel bevat die eenvoudige verduideliking hiervoor, naamlik dat God se engele ’n belangrike rol daarin speel om mense van elke nasie hierdie dringende versoek te laat hoor: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”—Openb. 14:6, 7.
Welslae, al het dit byna onmoontlik gelyk
In sommige lande het Jehovah se Getuies nie net te kampe gehad met verbooie wat op hulle openbare bediening ingestel is nie, maar met pogings om hulle heeltemal uit te wis.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die geestelikes in die Verenigde State en Kanada saamgespan om ’n einde te maak aan die werk van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Dit is ’n welbekende feit. Hoewel die wet hulle vryheid van spraak en godsdiensvryheid gewaarborg het, het die geestelikes druk op regeringsamptenare uitgeoefen om die Bybelstudente se lektuur te verbied. Baie is gevange geneem en borgtog geweier; ander is wreed geslaan. Amptenare van die Wagtoringgenootskap en hulle intieme metgeselle is lang gevangenisstrawwe opgelê tydens hofsake wat, soos later aan die lig gekom het, ongeldig was. Ray Abrams het in sy boek Preachers Present Arms gesê: “Die gevolgtrekking ná ’n ontleding van die hele saak is dat die kerke en die geestelikes oorspronklik agter die beweging gesit het om die Russelliete uit te wis”, soos die geestelikes die Bybelstudente neerhalend genoem het. Maar daardie Bybelstudente het ná die oorlog met groter ywer as ooit tevore na vore getree om Jehovah se Koning, Jesus Christus, en sy Koninkryk te adverteer. Waar het daardie hernieude ywer vandaan gekom? Die Bybel het voorspel dat dit sou gebeur en het gesê dat dit die gevolg van die “gees van die lewe uit God” sou wees.—Openb. 11:7-11.
Nadat die Nazi’s in Duitsland aan die bewind gekom het, is die vervolging van Jehovah se Getuies verskerp in lande wat onder Nazi-beheer gekom het. Baie is in hegtenis geneem en wreed behandel. Verbooie is ingestel. In Oktober 1934 het gemeentes van Jehovah se Getuies deur die hele Duitsland eindelik geregistreerde briewe aan die regering gestuur waarin hulle duidelik gesê het dat hulle geen politieke doelwitte het nie, maar dat hulle vasbeslote is om God as heerser te gehoorsaam. Gemeentes van Getuies in alle wêrelddele het terselfdertyd kabelgramme ter ondersteuning van hulle Christenbroers in Duitsland gestuur.
Op daardie selfde dag, 7 Oktober 1934, het Adolf Hitler in die kantoor van dr. Wilhelm Frick, in Berlyn, met gebalde vuiste oor Jehovah se Getuies uitgeroep: “Hierdie gebroedsel sal uitgewis word in Duitsland!” Dit was nie ’n ydele dreigement nie. Getuies is oral gevange geneem. Volgens ’n vertroulike kennisgewing van die Pruisiese Geheime Staatspolisie met die datum 24 Junie 1936 is ’n “spesiale Gestapo-afdeling” gevorm om die Getuies te beveg. Ná grootskaalse voorbereiding het die Gestapo met hulle veldtog begin om alle Getuies van Jehovah en almal wat daarvan verdink is dat hulle Getuies is, gevange te neem. Die hele polisienetwerk was by daardie operasie betrokke, terwyl hulle kriminele elemente hulle gang laat gaan het.
Verslae toon dat daar eindelik sowat 6 262 Duitse Getuies gevange geneem is. Karl Wittig, ’n voormalige Duitse regeringsamptenaar wat self in verskeie konsentrasiekampe aangehou is, het later geskryf: “Geen ander groep gevangenes . . . is so aan die sadisme van die SS-soldate onderwerp as die Bybelstudente nie. Dit was ’n sadisme wat gekenmerk is deur ’n eindelose reeks fisiese en geestelike martelings wat in geen taal ter wêreld beskryf kan word nie.”
Wat was die gevolg? In ’n boek wat in 1982 uitgegee is, kom Christine King tot die slotsom: “Net teen die Getuies [in teenstelling met ander godsdiensgroepe] het die regering nie sukses behaal nie.” Hitler het gesweer dat hy hulle sou uitwis, en honderde is doodgemaak. Dr. King sê nietemin: “Die werk [om God se Koninkryk te verkondig] het voortgegaan en in Mei 1945 was die beweging van Jehovah se Getuies nog lewendig, terwyl Nasionaal-sosialisme nie meer bestaan het nie.” Sy sê ook: “Geen kompromisse [is] aangegaan nie” (The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity). Waarom kon Hitler, met sy goed toegeruste leër, hoogs opgeleide polisiemag en talle uitwissingskampe, nie sy dreigement uitvoer om hierdie betreklike klein en ongewapende groepie wat deur die wêreld as gewone mense beskou word te vernietig nie? Waarom kon ander nasies nie ’n end aan hulle bedrywighede maak nie? Waarom het nie net ’n paar afgesonderde individue nie, maar Jehovah se Getuies as ’n groep standvastig gebly ten spyte van die onmenslike vervolging?
Die antwoord kan gevind word in die wyse raad wat Gamaliël, ’n onderrigter in die Wet, aan medelede van die Joodse Sanhedrin gegee het toe hulle ’n soortgelyke saak verhoor het waarby Jesus Christus se apostels betrokke was. Hy het gesê: “Bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.”—Hand. 5:38, 39.
Die geskiedkundige feite toon dus dat die skynbaar onmoontlike taak wat Jesus sy volgelinge beveel het om ondanks oënskynlik oorweldigende teëstand te doen nie deur die krag van mense nie, maar deur God se gees gedoen word. Soos Jesus self in gebed tot God gesê het: “Vader, alle dinge is vir U moontlik.”—Mark. 14:36.
[Lokteks op bladsy 547]
“‘Deur my gees’, het Jehovah van die leërskare gesê”
[Lokteks op bladsy 548]
Wat het hulle versterk om aan te hou preek ten spyte van bespotting en gewelddadige vervolging?
[Lokteks op bladsy 549]
Bewys van engeleleiding
[Lokteks op bladsy 551]
‘Die Here kan getuies in enige land verwek’
[Lokteks op bladsy 553]
’n Verenigde volk wat ondanks oënskynlik oorweldigende teëstand standvastig in die geloof gebly het