Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/15 bl. 15-20
  • Christenvroue verdien eer en respek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christenvroue verdien eer en respek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe Jesus vroue behandel het
  • Jesus se leringe aangaande vroue
  • ‘Ken aan hulle eer toe’
  • Respek en waardigheid omdat God omgee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • “Vroue wat hard werk in die Here”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die “swakker vat” ’n Belediging vir vroue?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe beskou God en Christus vroue?
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/15 bl. 15-20

Christenvroue verdien eer en respek

“Mans, gaan . . . voort om ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike.”—1 PETRUS 3:7.

1, 2. (a) Tot watter besorgdheid het Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put aanleiding gegee, en waarom? (Sien ook voetnoot.) (b) Wat het Jesus getoon deur vir die Samaritaanse vrou te preek?

BY DIE ou put naby die stad Sigar het Jesus een middag teen die einde van 30 G.J. getoon hoe vroue volgens hom behandel moet word. Hy het gedurende die oggend deur die heuwels van Samaria gereis en moeg, honger en dors by die put aangekom. Terwyl hy by die put gesit het, het ’n Samaritaanse vrou nader gekom om water te skep. “Gee my ’n bietjie water om te drink”, het Jesus vir haar gesê. Die vrou moes hom verbaas aangestaar het. Sy het gevra: “Hoe is dit dat u, ofskoon u ’n Jood is, my ’n bietjie water vra om te drink, terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?” Later, toe Jesus se dissipels terugkeer nadat hulle voedselware gekoop het, het hulle verstom gewonder waarom hy met “’n vrou praat”.—Johannes 4:4-9, 27.

2 Wat het tot hierdie vrou se vraag en die dissipels se besorgdheid aanleiding gegee? Sy was ’n Samaritaan, en die Jode het niks met die Samaritane te doen gehad nie (Johannes 8:48). Maar daar was klaarblyklik ook ’n ander rede vir besorgdheid. Rabbynse tradisies het mans destyds ontmoedig om in die openbaar met vroue te praat.a Tog het Jesus openlik vir hierdie opregte vrou gepreek, en selfs aan haar geopenbaar dat hy die Messias is (Johannes 4:25, 26). Jesus het daardeur getoon dat hy hom nie laat bind deur onskriftuurlike tradisies nie, met inbegrip van dié wat vroue kleineer (Markus 7:9-13). Trouens, Jesus het deur dit wat hy gedoen het en dit wat hy geleer het, getoon dat vroue met eer en respek behandel moet word.

Hoe Jesus vroue behandel het

3, 4. (a) Hoe het Jesus teenoor die vrou gereageer wat aan sy kleed geraak het? (b) Hoe het Jesus ’n goeie voorbeeld vir Christenmans, veral vir opsieners, gestel?

3 Jesus se tere medelye vir mense is weerspieël in die manier waarop hy teenoor vroue opgetree het. By een geleentheid het ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het in ’n skare na Jesus gesoek. Haar toestand het haar seremonieel onrein gemaak, en daarom moes sy nie daar gewees het nie (Levitikus 15:25-27). Maar sy was so desperaat dat sy agter Jesus ingeglip het. Toe sy aan sy kleed raak, is sy oombliklik genees! Hoewel Jesus op pad was na die huis van Jaïrus, wie se dogter baie ernstig siek was, het hy stil gaan staan. Omdat hy gevoel het hoe krag uit hom uitgaan, het hy om hom gekyk om te sien wie aan sy kleed geraak het. Eindelik het die vrou gekom en bewend voor hom neergeval. Sou Jesus haar teregwys omdat sy in die skare was of omdat sy sonder sy toestemming aan hom geraak het? Inteendeel, hy was baie hartlik en vriendelik teenoor haar. “Dogter”, het hy gesê, “jou geloof het jou gesond gemaak.” Dit was die enigste keer dat Jesus ’n vrou regstreeks as “dogter” aangespreek het. Hoe moes daardie woord haar tog nie gerusgestel het nie!—Matteus 9:18-22; Markus 5:21-34.

4 Jesus het verder as die letter van die Wet gekyk. Hy het die gees daaragter en die behoefte aan barmhartigheid en medelye gesien. (Vergelyk Matteus 23:23.) Jesus het die sieklike vrou se benarde omstandighede opgemerk en in ag geneem dat sy deur geloof beweeg is. Hy het sodoende ’n goeie voorbeeld vir Christenmans, veral vir opsieners, gestel. As ’n Christensuster persoonlike probleme ervaar of met ’n besonder moeilike of beproewende situasie te kampe het, moet ouer manne verder as die onmiddellike woorde of dade probeer kyk en die omstandighede en die beweegredes in ag neem. Sulke insig toon dalk dat geduld, begrip en medelye eerder nodig is as raad en teregwysing.—Spreuke 10:19; 16:23; 19:11.

5. (a) Wat het rabbynse tradisies vroue nie toegelaat om te doen nie? (Sien voetnoot.) (b) Wie was die eerstes om die verrese Jesus te sien en van hom te getuig?

5 Vroue wat geleef het toe Jesus op aarde was, is deur rabbynse tradisies ingeperk en nie toegelaat om as wettige getuies te dien nie.b Let op wat gebeur het kort nadat Jesus die oggend van 16 Nisan 33 G.J. uit die dood opgewek is. Wie was die eerstes om die verrese Jesus te sien en vir die ander dissipels te getuig dat hulle Heer opgewek is? Dit was op die ou end die vroue wat binne sigafstand van die teregstellingsplek gebly het totdat hy gesterf het.—Matteus 27:55, 56, 61.

6, 7. (a) Wat het Jesus vir die vroue gesê wat na die graf toe gekom het? (b) Hoe het Jesus se manlike dissipels aanvanklik op die vroue se getuienis gereageer, en wat kan hieruit geleer word?

6 Vroeg in die oggend op die eerste dag van die week het Maria Magdalena en ander vroue na die graf toe gegaan om Jesus se liggaam met speserye te behandel. Toe hulle die graf leeg aantref, het Maria gehardloop om vir Petrus en Johannes te gaan sê. Die ander vroue het agtergebly. Kort daarna het ’n engel aan hulle verskyn en vir hulle gesê dat Jesus opgewek is. “Gaan gou en sê vir sy dissipels”, het die engel hulle beveel. Terwyl hierdie vroue hulle gehaas het om die nuus te gaan vertel, het Jesus self aan hulle verskyn. “Gaan, vertel vir my broers”, het hy vir hulle gesê (Matteus 28:1-10; Markus 16:1, 2; Johannes 20:1, 2). Onbewus van die engel se besoek en oorweldig deur verdriet, het Maria Magdalena na die leë graf teruggekeer. Daar het Jesus aan haar verskyn, en nadat sy hom uiteindelik herken het, het hy gesê: “Gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God.’”—Johannes 20:11-18; vergelyk Matteus 28:9, 10.

7 Jesus kon eerste aan Petrus, Johannes of een van die ander manlike dissipels verskyn het. Hy het egter verkies om hierdie vroue te begunstig deur hulle die eerste ooggetuies van sy opstanding te maak en deur hulle opdrag te gee om vir sy manlike dissipels daarvan te getuig. Hoe het die mans aanvanklik daarop gereageer? Die verslag sê: “Hierdie woorde het . . . vir hulle na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie” (Lukas 24:11). Het hulle dit dalk moeilik gevind om die getuienis te aanvaar omdat dit van vroue gekom het? Indien dit die geval was, het hulle mettertyd oorvloedige bewys ontvang dat Jesus wel uit die dood opgewek is (Lukas 24:13-46; 1 Korintiërs 15:3-8). Christenmans tree vandag verstandig op wanneer hulle die opmerkings van hulle geestelike susters in aanmerking neem.—Vergelyk Genesis 21:12.

8. Wat het Jesus deur sy optrede teenoor vroue getoon?

8 Dit is waarlik hartverblydend om te let op die manier waarop Jesus teenoor vroue opgetree het. Omdat hy altyd medelydend en geheel en al gebalanseerd in sy optrede teenoor vroue was, het hy hulle nooit opgehemel of gekleineer nie (Johannes 2:3-5). Hy het die rabbynse tradisies verwerp wat hulle hulle waardigheid ontneem en die Woord van God kragteloos gemaak het. (Vergelyk Matteus 15:3-9.) Deur vroue met eer en respek te behandel, het Jesus eerstehands getoon hoe Jehovah God wil hê hulle behandel moet word (Johannes 5:19). Jesus het ook ’n puik voorbeeld vir Christenmans gestel om na te volg.—1 Petrus 2:21.

Jesus se leringe aangaande vroue

9, 10. Hoe het Jesus rabbynse tradisies aangaande vroue teëgespreek, en wat het hy gesê nadat die Fariseërs ’n vraag oor egskeiding geopper het?

9 Jesus het nie net deur sy dade rabbynse tradisies teëgespreek en vroue met waardigheid behandel nie, maar ook deur sy leringe. Let byvoorbeeld op dit wat hy die mense oor egskeiding en egbreuk geleer het.

10 Aangaande egskeiding is Jesus hierdie vraag gevra: “Is dit ’n man geoorloof om op sommer enige grond van sy vrou te skei?” Volgens Markus se verslag het Jesus gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei [behalwe op grond van hoerery] en met ’n ander trou, pleeg egbreuk teen haar, en as ’n vrou, nadat sy van haar man geskei het, ooit weer met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk” (Markus 10:10-12; Matteus 19:3, 9). Daardie eenvoudige woorde het respek vir die waardigheid van vroue getoon. Hoe so?

11. Wat toon Jesus se woorde “behalwe op grond van hoerery” aangaande die huweliksband?

11 Eerstens, deur die woorde “behalwe op grond van hoerery” (wat in Matteus se evangelieverslag gevind word) het Jesus getoon dat die huweliksband nie ligtelik beskou of maklik verbreek moet word nie. Die heersende rabbynse leer het egskeiding toegelaat op geringe gronde soos wanneer ’n vrou ’n gereg bederf of met ’n vreemde man gepraat het. Egskeiding is dan selfs toegelaat as ’n man ’n vrou gevind het wat vir hom aantrekliker was! Een Bybelkenner sê: “Toe Jesus dit gesê het, het hy . . . vroue ondersteun deur die huwelik te probeer herstel tot die posisie wat dit behoort te hê.” Die huwelik behoort beslis ’n permanente verbintenis te wees waarin ’n vrou veilig kan voel.—Markus 10:6-9.

12. Watter beskouing het Jesus met die woorde “pleeg egbreuk teen haar” ingebring?

12 Tweedens, deur die uitdrukking “pleeg egbreuk teen haar” het Jesus ’n beskouing ingebring wat nie in die rabbynse howe erken is nie—die opvatting dat ’n man egbreuk teen sy vrou kan pleeg. The Expositor’s Bible Commentary verduidelik: “In rabbynse Judaïsme kon ’n vrou deur ontrouheid egbreuk teen haar man pleeg; en ’n man kon, deur geslagsgemeenskap met ’n ander man se vrou te hê, egbreuk teen hom pleeg. Maar ’n man kon nooit egbreuk teen sy vrou pleeg nie, ongeag wat hy doen. Deur die man onder dieselfde sedelike verpligting as sy vrou te plaas, het Jesus die status en waardigheid van vroue verhef.”

13. Hoe het Jesus getoon dat daar onder die Christelike stelsel een standaard vir mans sowel as vroue sou wees wat egskeiding betref?

13 Derdens, deur die frase “nadat sy van haar man geskei het”, het Jesus die reg van ’n vrou erken om van ’n ontroue man te skei—’n gebruik wat blykbaar bekend was, maar wat nie destyds onder die Joodse wet algemeen was nie.c Daar is gesê dat “’n vrou met of sonder haar instemming geskei kon word, maar ’n man slegs met sy instemming”. Maar volgens Jesus sou dieselfde standaard vir mans sowel as vroue onder die Christelike stelsel geld.

14. Wat het Jesus deur sy leringe weerspieël?

14 Jesus se leringe openbaar duidelik ’n diep besorgdheid oor die welsyn van vroue. Dit is derhalwe nie moeilik om te verstaan waarom party vroue soveel liefde vir Jesus gehad het dat hulle uit hulle eie besittings in sy behoeftes voorsien het nie (Lukas 8:1-3). “Wat ek leer, is nie myne nie”, het Jesus gesê, “maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Jesus het deur dit wat hy geleer het Jehovah se eie tere bedagsaamheid teenoor vroue weerspieël.

‘Ken aan hulle eer toe’

15. Wat het die apostel Petrus geskryf oor die manier waarop mans hulle vrouens moet behandel?

15 Die apostel Petrus het eerstehands gesien hoe Jesus teenoor vroue optree. Ongeveer 30 jaar later het Petrus liefdevolle raad aan vrouens gegee en toe geskryf: “Mans, gaan insgelyks voort om ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7). Wat het Petrus met die woorde ‘ken aan hulle eer toe’ bedoel?

16. (a) Wat is die betekenis van die Griekse woord wat met “eer” vertaal word? (b) Hoe het Jehovah Jesus tydens sy gedaanteverandering geëer, en wat leer ons hieruit?

16 Volgens een leksikograaf beteken die Griekse selfstandige naamwoord wat met “eer” (ti·meʹ) vertaal word “prys, waarde, eer, respek”. Vorme van hierdie Griekse woord word vertaal met “geskenke” en “kosbaar” (Handelinge 28:10; 1 Petrus 2:7). Ons kry insig in wat dit beteken om iemand te eer as ons Petrus se gebruik van ’n vorm van dieselfde woord in 2 Petrus 1:17 ondersoek. Daar het hy met verwysing na Jesus se gedaanteverandering gesê: “Hy het eer en heerlikheid van God die Vader ontvang toe woorde soos hierdie deur die luisterryke heerlikheid tot hom gekom het: ‘Dit is my seun, my geliefde, wat ek self goedgekeur het.’” Met Jesus se gedaanteverandering het Jehovah sy Seun geëer deur ten aanhore van ander sy goedkeuring oor Jesus uit te spreek (Matteus 17:1-5). Die man wat sy vrou eer, verneder of kraak haar dus nie af nie. Hy toon eerder deur sy woorde en dade—privaat en in die openbaar—dat hy haar hoogag.—Spreuke 31:28-30.

17. (a) Waarom moet ’n Christenvrou geëer word? (b) Waarom moet ’n man nie voel dat hy in God se oë waardevoller as ’n vrou is nie?

17 Hierdie eer, sê Petrus, moet deur Christenmans aan hulle vrouens ‘toegeken’ word. Dit moet bewys word, nie as ’n guns nie, maar as iets wat hulle vrouens regmatig toekom. Waarom is vrouens op sulke eer geregtig? Omdat “julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is”, verduidelik Petrus. In die eerste eeu G.J. was die mans en vroue wat Petrus se brief ontvang het almal geroep om mede-erfgename met Christus te wees (Romeine 8:16, 17; Galasiërs 3:28). Hulle het nie dieselfde verantwoordelikhede in die gemeente gehad nie, maar hulle sou uiteindelik saam met Christus in die hemel regeer (Openbaring 20:6). Dit sal ook vandag, terwyl die meeste van God se volk ’n aardse hoop het, ’n ernstige fout wees as enige Christenman voel dat hy as gevolg van die voorregte wat hy dalk in die gemeente het in God se oë waardevoller as vroue is. (Vergelyk Lukas 17:10.) Manne en vroue het ’n gelyke geestelike posisie voor God, want Jesus se offerdood het vir mans en vroue dieselfde geleentheid geopen—naamlik om bevry te word van die veroordeling van die sonde en die dood met die oog op ewige lewe.—Romeine 6:23.

18. Watter dwingende rede verstrek Petrus waarom ’n man sy vrou moet eer?

18 Petrus gee nog ’n dwingende rede waarom ’n man sy vrou moet eer, naamlik “sodat [sy] gebede nie verhinder word nie”. Die uitdrukking “verhinder word” kom van ’n Griekse werkwoord (en·koʹpto) wat letterlik beteken “om in te sny in”. Volgens Vine se Expository Dictionary of New Testament Words “is [dit] gebruik met verwysing na hoe mense verhinder is deurdat die pad verwoes is of deurdat ’n hindernis reg in die pad geplaas is”. Die man wat dus versuim om aan sy vrou eer toe te ken, kan vind dat daar ’n padversperring tussen sy gebede en God is. Die man voel moontlik onwaardig om God te nader, of Jehovah is moontlik nie geneë om te luister nie. Dit is duidelik dat Jehovah baie besorg is oor die manier waarop mans vroue behandel.—Vergelyk Klaagliedere 3:44.

19. Hoe kan mans en vroue met wedersydse respek saam in die gemeente dien?

19 Die verpligting om eer te betoon, lê nie by mans alleen nie. Terwyl ’n man sy vrou moet eer deur haar liefdevol en met waardigheid te behandel, moet ’n vrou haar man eer deur onderdanig te wees en diep respek vir hom te toon (1 Petrus 3:1-6). Verder het Paulus Christene vermaan om ‘aan mekaar eer te betoon’ (Romeine 12:10). Dit is ’n beroep op mans en vroue in die gemeente om met wedersydse respek saam te dien. Wanneer daar so ’n gees heers, sal Christenvroue hulle nie uitspreek op ’n manier wat die gesag ondermyn van diegene wat die leiding neem nie. Hulle sal die ouer manne eerder ondersteun en met hulle saamwerk (1 Korintiërs 14:34, 35; Hebreërs 13:17). Wat Christenopsieners betref, hulle sal “ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters met alle kuisheid” behandel (1 Timoteus 5:1, 2). Die ouer manne sal op verstandige wyse hulle Christensusters se menings vriendelik in oorweging neem. Wanneer ’n suster dus haar respek vir teokratiese hoofskap toon en eerbiedig ’n vraag opper of selfs op iets wys wat aandag verg, sal die ouer manne haar vraag of probleem met graagte oorweeg.

20. Hoe moet vroue volgens die skriftuurlike verslag behandel word?

20 Vandat sonde in Eden ingebring is, is vroue in baie kulture tot ’n posisie van oneer verlaag. Maar dit is nie hoe Jehovah oorspronklik wou gehad het hulle behandel moet word nie. Die verslag in die Hebreeuse sowel as die Christelike Griekse Geskrifte toon duidelik dat godvrugtige vroue met eer en respek behandel moet word, ongeag watter kulturele beskouings oor vroue dalk algemeen is. Dit is hulle godgegewe reg.

[Voetnote]

a The International Standard Bible Encyclopedia verduidelik: “Vroue het nie saam met manlike gaste geëet nie, en mans is afgeraai om met vroue te praat. . . . ’n Gesprek met ’n vrou in ’n openbare plek was veral skandelik.” Die Joodse Misjna, ’n versameling rabbynse leringe, raai mans aan: “Moenie baie met vroue praat nie. . . . Hy wat baie met vroue praat, bring onheil oor homself en skeep die bestudering van die Wet af en sal uiteindelik Gehenna beërwe.”—Abot 1:5.

b Die boek Palestine in the Time of Christ sê: “In sommige gevalle is die vrou byna met die slaaf gelykgestel. Sy kon byvoorbeeld nie getuienis in ’n geregshof aflê nie, behalwe om van haar man se dood te getuig.” Waar Die Misjna na Levitikus 5:1 verwys, verduidelik dit: “[Die wet oor] ‘’n eed van getuienis’ is op mans van toepassing, maar nie op vroue nie.”—Sjebuot 4:1.

c Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus berig dat koning Herodus se suster Salome aan haar man “’n dokument [gestuur het] wat hulle huwelik ontbind het, iets wat nie in ooreenstemming met die Joodse wet was nie. Want ons laat (slegs) die man toe om dit te doen.”—Jewish Antiquities, XV, 259 [vii, 10].

Wat is jou antwoord?

◻ Watter voorbeelde toon dat Jesus vroue met eer en respek behandel het?

◻ Hoe het Jesus se leringe respek vir die waardigheid van vroue getoon?

◻ Waarom moet ’n man aan sy Christenvrou eer toeken?

◻ Watter verpligting het alle Christene om eer te betoon?

[Prent op bladsy 17]

Tot hulle vreugde was godvrugtige vroue die eerstes om die verrese Jesus te sien en is hulle opdrag gegee om vir sy broers daarvan te getuig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel