Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/1 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus verskyn aan die vissermanne
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • By die See van Galilea
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Hy het gestry teen vrees en twyfelgedagtes
    Volg hulle geloof na
  • Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/1 bl. 31

Vrae van lesers

◼ Wat het Jesus bedoel met “hulle hier” toe hy vir die apostel Petrus gevra het: “Het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?”

Die verrese Jesus was by die See van Galilea. Ons lees: “Toe hulle dan klaar was met die môreete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.”—Johannes 21:15.

Hoewel die geslag van ’n Griekse voornaamwoord soms sy onderwerp aandui, kan die meervoud touʹton (“hulle hier”) ’n manlike, vroulike of onsydige onderwerp hê. Gevolglik het geleerdes drie moontlike betekenisse van Jesus se vraag aan die hand gedoen:

1. Het jy my liewer as wat jy hulle hier, die ander dissipels, liefhet?

2. Het jy my liewer as wat hulle hier, die dissipels, my liefhet?

3. Het jy my liewer as wat jy hulle hier, die visse, liefhet?

Kom ons redeneer oor hierdie drie om te sien watter een die waarskynlikste is.

Nommer 1. Min Christene kan hulle voorstel dat Christus sou vra: ‘Is jy liewer vir my as vir die dissipels?’ Natuurlik moet ons hom liewer hê! Dit sou veral vreemd wees om so ’n vraag aan Petrus te stel. Hy was pas tevore in die boot saam met ses ander dissipels, maar toe hy Jesus op die strand herken het, het Petrus die dissipels verlaat en na die strand geswem. Toe Christus gevra het of die apostels saam met diegene wou weggaan wat gestruikel het, het Petrus soortgelyke geneentheid getoon en gesê dat hy vasbeslote was om by Jesus te bly.—Johannes 6:66-69; 21:7, 8.

Nommer 2. Wat van die moontlikheid dat Jesus bedoel het: ‘Petrus, het jy my liewer as wat die ander dissipels my liefhet?’ Talle kommentators het hierdie beskouing voorgestaan, aangesien Petrus vroeër verklaar het dat hy lojaler aan Jesus is as die ander dissipels (Mattheüs 26:33-35). Maar as Johannes 21:15 só vertolk word, word ’n onuitgesproke werkwoord geïmpliseer soos “het jy My waarlik lief, meer as hulle hier [het]?” So ’n ekstra werkwoord is egter nie in Jesus se vraag nie en dit veroorsaak grammatikale probleme. Boonop sou dit onvanpas wees dat Jesus Petrus vra om die mate van sy liefde te vergelyk met die mate van liefde wat ander kon gehad het. Het Jesus nie die apostels berispe toe hulle met mekaar gewedywer het nie?—Markus 9:33-37; 10:35-44; Lukas 22:24-27.

Is Nommer 3, ‘Het jy my liewer as wat jy hulle hier, die visse, liefhet’, dalk wat Jesus gevra het? Hierdie moontlikheid strook met die manier waarop die vraag in Grieks verwoord is, want Petrus is gevra om tussen twee dinge te kies (tussen Jesus en “hulle hier”). So ’n vraag sou ook gepas wees met die oog op Petrus se verlede. Hy was een van die eerste dissipels wat Jesus gevolg het (Johannes 1:35-43). Maar Petrus het Jesus klaarblyklik nie onmiddellik voltyds begin volg nie. Hy het eerder weer begin visvang. Jesus het Petrus dus ’n paar maande later van daardie winsgewende bedryf weggeroep om ’n ‘visser van mense’ te word (Mattheüs 4:18-20; Lukas 5:1-11). Petrus het nietemin na Jesus se dood die voortou geneem om na hierdie beroep terug te keer en vir sommige van die dissipels gesê: “Ek gaan visvang.”—Johannes 21:2, 3.

Dit is dus heel moontlik dat Jesus dit by Petrus wou tuisbring hoe belangrik dit is om ’n beslissende keuse te maak. Wat sou hy eerste in sy lewe stel—om ’n navolger van Jesus te wees of om ’n beroep na te jaag, soos die visse wat voor hulle opgestapel was, aangedui het? Hoe belangrik was die visse, die nette, die bote en die kameraadskap met medevissers vir Petrus? Sou Petrus werklik hierdie genotvolle dinge verlaat om sy liefde vir Christus en die gevolglike voeding van Jesus se “skape” eerste te stel?—Johannes 21:17.

Ons kan ons ’n soortgelyke vraag afvra oor die dinge wat ons dalk aantrek, soos ons interessante werk of onderneming, sekulêre opvoeding, ons huis of ons geliefkoosde vorm van ontspanning. Ons kan eerlik peins: ‘Het ek Jesus liewer as enigeen van of al hierdie dinge?’ Jesus het getoon dat as ons antwoord ja is, ons dit sal toon deur die “skape” te voed.

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel