Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 7/15 bl. 15-20
  • Ons skat, ’n hedendaagse glorieryke bediening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons skat, ’n hedendaagse glorieryke bediening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se heerlikheid word weerspieël
  • Almal bevoorregte ligdraers
  • Glorieryke skat in brose kruike
  • Groot menigte stel “hierdie skat” hoog op prys
  • Christene weerkaats die heerlikheid van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Sal jy God se heerlikheid weerkaats?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • “Voer jou bediening ten volle uit”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Moenie dat enigiets jou verhinder om heerlikheid aan te gryp nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 7/15 bl. 15-20

Ons skat, ’n hedendaagse glorieryke bediening

“Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.”—2 KORINTHIËRS 4:7.

1. (a) Watter glorieryke skat kan ons hê, en waarom? (b) Hoe beskryf die Bybel die oordrag van die Mosaïese Wet?

DIE bediening om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” gedurende die voleinding van die stelsel van dinge te verkondig, is inderdaad ’n skat, ’n allerkosbare besitting. Omdat Jehovah ’n God van heerlikheid is, is diens aan God ’n glorieryke bediening, dus ’n skat (Mattheüs 24:14, NW; 2 Korinthiërs 3:18–4:1). In Exodus 34:29, 30 is daar aangaande die glorieryke oordrag van die Mosaïese Wet geskryf: “Toe Moses van die berg Sinai afdaal—die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal—het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met [Jehovah] gespreek het nie. En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom.”

2. Wat is afgebeeld deur die diens van die Mosaiïese Wet, en waarom het laasgenoemde bediening meer heerlikheid?

2 Verse 32 tot 34 voeg by: “Daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai. Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ’n sluier oor sy gesig getrek. Maar as Moses voor die aangesig van die HERE kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan.” Die diens van die Mosaïese Wet het die bediening van die nuwe verbond deur die Middelaar, Jesus Christus, afgebeeld. As die vorige bediening glorieryk was, hoeveel te meer oortref die latere, “die bediening van die Gees”, dit dus nie in heerlikheid nie! (2 Korinthiërs 3:7-11). Dit is glorieryker omdat dit ’n heerlikheid het wat blywend is, en die navolgers van Jesus Christus deel daarin.—Romeine 12:11.

3. (a) Wat moet waar wees aangaande die bediening van Jehovah se Getuies, maar waarom kan baie mense dit nie sien nie? (b) Wat het bewys dat Moses in die glorieryke teenwoordigheid van Jehovah was?

3 Daaruit volg dat die bediening van Jehovah se Getuies glorieryk is. Die groot groep mense wat deur valse godsdiens verblind is, kan dit egter nie sien nie. Al het baie die Bybel en lees hulle dit, het hulle nie ‘oë wat sien’ nie (2 Petrus 1:5-9). Om die sluier voor hulle oë weg te kry, moet hulle hul in geloof tot Jehovah God wend, want toe Moses voor die teenwoordigheid van Jehovah verskyn het, het hy die sluier weggeneem wat sy gesig vir die Jode verberg het (2 Korinthiërs 3:16). Die Israeliete was bang om God se heerlikheid in die gesig van hulle middelaar te sien en het gevra dat dit vir hul oë verberg moet word. Net soos ’n fosforesserende stof wat aan lig blootgestel was ’n nagloed in die donker uitstraal, het Moses, hulle tussenganger, Jehovah se heerlikheid weerspieël, wat bewys het dat hy voor Jehovah was.

4. Hoe boots ongelowiges vandag die eertydse Jode na, maar wat vrees die volgelinge van die Grotere Moses nie?

4 Moses het God se groot Profeet, Jesus Christus, voorafgeskadu. Soos sy prototipe is hierdie Grotere Moses nie bang om Jehovah se heerlikheid direk te aanskou nie. Tot vandag toe boots ongelowiges wat deur die Duiwel en sy Babiloniese godsdiens verblind is egter daardie eertydse Jode na en weier hulle om die heerlikheid van die Grotere Moses, Jesus Christus, te aanskou of te onderskei (2 Korinthiërs 3:12-15). Maar sy ware volgelinge is nie bang om na die weerspieëling van Jehovah se heerlikheid te kyk wat van Jesus Christus se gesig af uitgestraal word nie. Hulle is vrygemaak van Babiloniese godsdiens en is aangemoedig om God se heerlikheid uit te straal. “Omdat”, het Paulus geskryf, “ons dan so ’n hoop het, gebruik ons groot vrymoedigheid van spraak.”—2 Korinthiërs 3:12, NW.

God se heerlikheid word weerspieël

5. Hoe kan ons God se heerlikheid weerspieël en wees soos Moses op die bergtop in Jehovah se teenwoordigheid?

5 Jesus Christus het die sluier gelig deur Jehovah God aan ons te openbaar en te verkondig (Johannes 1:14, 17, 18). Ons moet dus skyn, en God se heerlikheid skyn derhalwe deur die “glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is” en wat ons moet verkondig. Sy glans is “die glorieryke kennis van God deur die aangesig van Christus”. Ons moet hierdie heerlikheid weerspieël deur oor die heerlikheid van Jehovah en die heerlikheid van sy Koninkryk deur sy Seun te praat (2 Korinthiërs 4:4-6, NW). Soos Moses op die bergtop in Jehovah se teenwoordigheid, verberg Sy Getuies op aarde nie hul hart vir Jehovah se heerlikheid nie. Hulle bewonder die heerlikheid wat in die aangesig van Jehovah se Seun en Koning, Jesus Christus, weerspieël word. Hulle moet dus die lig aangaande God se heerlikheid aan ander uitstraal.

6. Hoe beskryf Paulus ons glorieryke bediening in 2 Korinthiërs 3:18, en in watter opsigte word ons so “verander”?

6 Die apostel Paulus beskryf dit vir alle medegetuies van Jehovah se heerlikheid met hierdie woorde: “En ons almal word, terwyl ons met ongesluierde aangesigte die heerlikheid van Jehovah soos spieëls weerkaats, van heerlikheid tot heerlikheid in dieselfde beeld verander, presies soos deur Jehovah die Gees gedoen word” (2 Korinthiërs 3:18, NW). Hoe meer heerlikheid ons van hierdie lig ontvang, hoe meer daarvan moet ons uitstraal, en des te meer word ons dus verander. Verstande word vernuwe, ofskoon geen liggaamlike of gelaatsveranderinge waarneembaar is nie. Dit is die lig van die glorieryke boodskap wat ons uitstraal wat die verandering in ons teweegbring. Ons lewe word verander om soos Christus te wees, terwyl ons ons inspan om die bevoorregte diens te verrig om die glorieryke lig aan ander te versprei.—Hebreërs 13:15.

7. Uit watter bron is ware heerlikheid, en hoe kan ons sulke heerlikheid openbaar?

7 Al hierdie veranderinge is te danke aan God se gees, of werkende krag. Die Christendom se geestelikes weerspieël nie die heerlikheid van Jehovah God nie, maar moet gebruik maak van ’n huigelagtige vertoon om ’n indruk te maak. Die heerlikheid is nie ons heerlikheid nie, en ons hoef ons nie te tooi met pragtige ampsgewade van sy, goud en blink juwele nie. Ware heerlikheid word van God se gees verkry en word geopenbaar deur die glorieryke getuienis oor Jehovah die Gees te gee.

Almal bevoorregte ligdraers

8, 9. Watter aansporing gee Paulus ons in 2 Korinthiërs 4:1, 2, en watter vasbeslotenheid verg dit van ons?

8 In 2 Korinthiërs 4:1, 2 lees ons: “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie. Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is [“agterbakse dinge waaroor mense hulle behoort te skaam”, NW], afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.” God was barmhartig teenoor ons deur hierdie bediening aan ons op te dra. Dit is ’n vermaning om ons aan te spoor om moedig voort te gaan, en ons sal dit doen! Aangesien ons begunstig is met lig van God se Woord, is ons verplig om dit aan ander uit te straal.—Vergelyk Mattheüs 5:14-16.

9 Mense steek dinge waaroor hulle hulle skaam, soos bedrog, deur misleiding en kullery weg. Maar ons hoef ons nie te skaam nie, want ons boodskap en werk is nie bedrieglik nie, maar regverdig en waar. Ons kan derhalwe die volle heerlikheid van die lig uitstraal. Ons hanteer God se Woord nie bedrieglik nie. Dit sou behels dat ’n mens dit selfsugtig gebruik vir eie gewin, eer, voordeel en wêreldlike mag en om teenstand en verdrukking van die wêreld vry te spring. Diegene wat nie bang is om met ongesluierde gesigte na Jehovah te kom en in die glorieryke lig van waarheid te kyk nie, sal eweneens nie bang wees om hulle verantwoordelikheid te aanvaar nie. Hulle sal die lig weerspieël.

10. Waarom is dit nie Jehovah se Getuies se skuld as die goeie nuus van die Koninkryk van die aangesig van sommige mense verberg is nie?

10 As die goeie nuus van die Koninkryk vir enigiemand se aangesig verberg is, is dit nie die skuld van Jehovah se Getuies nie, maar hulle eie skuld. Die goeie nuus van die Koninkryk word nie weggesteek nie. Die wêreldwye predikingswerk van Jehovah se Getuies is welbekend. Hulle kan derhalwe dieselfde sê as die apostel Paulus: “Dit het nie in ’n hoek gebeur nie.” Trouens, soos hy geskryf het, is die goeie nuus ‘verkondig in die ganse mensdom onder die hemel’.—Handelinge 26:26; Kolossense 1:23.

11. Waarom is die glorieryke goeie nuus vir so baie van die mensdom verberg?

11 Diegene vir wie die goeie nuus van God se Koninkryk verberg is, is teenstanders, dié wat deur die Duiwel verblind is. (Vergelyk Mattheüs 12:30.) Tensy hulle van valse godsdiens en die Duiwel se strikke wegbreek, sal hulle vernietig word. Sulke mense trek, onder demoniese invloed, ’n sluier oor hulle eie oë want die apostel Paulus sê in 2 Korinthiërs 4:3-5: “As ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.”

12. Hoe reageer Jehovah se volk op die woorde in 2 Korinthiërs 4:6, in teenstelling met dié wie se sinne verblind is?

12 Dié wat verstandelik verblind is, wil nie glo nie. Hulle ongeloof maak hulle verstande oop vir inname deur demone (1 Timotheüs 4:1). Hulle kan nie Jehovah se heerlikheid of die weerspieëling daarvan in die aangesig van Jesus, die Grotere Moses, sien nie. Jehovah se volk vang die glorieryke lig van die Bybel op en straal dit na ander uit. Al God se knegte is dus ligdraers, en God se opdrag is dat die lig moet skyn. Die lig moet van God se volk af weerkaats en op ander skyn wat in duisternis is en gevaar loop om vernietig te word. Dit is net soos 2 Korinthiërs 4:6 dit stel: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” In die lig hiervan gehoorsaam Jehovah se Getuies die goddelike opdrag en laat hulle hul ligte vir ander skyn, tot heerlikheid van God.

Glorieryke skat in brose kruike

13. Wat is die gevolg van die feit dat die geseënde diens om ligdraers te wees deur vleeslike skepsele verrig word?

13 In hierdie onbeskryflik groot diensvoorreg is dit van die uiterste belang dat die ligdraers moet bewys dat hulle die lig waardig is deur hulle onkreukbaarheid aan God te handhaaf. Om hierdie wonderlike diensvoorreg uit te voer, het God nie die heilige engele, wat graag in hierdie dinge wil insien, gebruik nie, maar hy het hierdie geseënde diens aan vleeslike skepsele toevertrou (1 Petrus 1:12). Hy het dit gedoen om sy eie krag te midde van menslike swakheid groot te maak. Soos 2 Korinthiërs 4:7 sê: “Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag [“krag bo die normale”, NW] van God mag wees en nie uit ons nie.”

14. (a) Wat is “hierdie skat in erdekruike”? (b) Waarom is Moses en Jesus Christus goeie voorbeelde vir ons wat hierdie skat betref?

14 In die ou tyd is kruike as houers vir kosbaarhede gebruik. Wat is hierdie glorieryke skat wat Jehovah se Getuies in erdekruike—hulself, as swak skepsele uit die stof van die aarde—besit? Hierdie skat is nie bloot die lig wat God op hul hart laat skyn het nie. Dit is die bediening van daardie lig, die bediening, of diens, wat in hulle aardse liggame verrig moet word. Die bediening is om die lig wat God op hul hart laat skyn het, uit te straal. Hierdie bediening is ’n goeie skat in die sin dat dit ’n kosbare diensvoorreg is waaraan nie net die gesalfde oorblyfsel van die “klein kuddetjie” deelneem nie, maar ook die “groot menigte” “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus (Lukas 12:32; Johannes 10:14:16; Openbaring 7:9). Moses en sy teenbeeld, Jesus Christus, het ’n goeie voorbeeld vir ons gestel om ons hart op hierdie skat van goddelike diens gevestig te hou, “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”.—Mattheüs 6:19-21; Hebreërs 11:26.

15, 16. (a) Wat toon dat die krag bo die normale van God is en nie uit onsself nie? (b) Waarom sal al die teenstand van die wêreld God se erdekruike nie kan breek nie?

15 Wat toon dat die krag bo die normale van God is en nie uit onsself nie? Sulke brose erdekruike soos ons wat hierdie kosbare diensvoorreg en opdrag hou, is onwaardig en kan nooit self so ’n eer verdien nie. Boonop is ons as Getuies van Jehovah onderworpe aan allerhande vorme van druk deur vyande wat wil maak dat ons krake of barste kry sodat ons nie geskik sal wees om hierdie opdrag van God uit te voer nie. Dit moet derhalwe die Groot Opdraggewer wees wat ons help om die mishandeling deur hierdie wêreld die hoof te bied en vas te hou aan die opdrag en te toon dat ons waardig is om aan te bly in sy diens. Al die teenstand van die wêreld sal dus nie daarin slaag om God se erdekruike te breek en hulle van hulle kosbare skat te beroof nie, want in 2 Korinthiërs 4:8-12 is daar geskryf:

16 “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe [deur die verkondiging van die goeie nuus] in julle.”

Groot menigte stel “hierdie skat” hoog op prys

17. Hoe beskou die groot menigte “hierdie skat” van die glorieryke bediening?

17 ‘Die dood werk in ons, maar die lewe in julle.’ Hierdie verklaring is van toepassing op geesgesalfde Christene. Maar dit kan ons tereg laat dink aan die verhouding van God se gesalfde oorblyfsel met die groot menigte ander skape. Die gesalfdes weet dat hulle uiteindelik, net soos Jesus, hulle aardse loopbaan in die dood sal beëindig, maar hulle het metgeselle om die kosbare skat van diens met hulle te deel, om hulle te help deur die grootste deel van die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te doen. Soos die gesalfde oorblyfsel, besef die groot menigte ander skape vandag dat hierdie skat van die geseënde bediening, die diens aan God en sy glorieryke Koning, Jesus Christus, die enigste skat is wat deur die vurige slag van Armageddon heen behoue sal bly en in die nuwe wêreld sal voortbestaan sonder dat dit verskroei of verbrand het. Die groot menigte sal daaraan vashou en God ‘dag en nag in sy tempel dien’.—Openbaring 7:15.

18. (a) Wat sal binnekort met die valse heerlikheid van die wêreld gebeur? (b) Watter “heerlikheid” het Jesus van die hand gewys, en deur wat te doen het hy ’n groter heerlikheid verkry?

18 God sal binnekort ’n einde maak aan die valse heerlikheid van hierdie goddelose stelsel van dinge—’n “heerlikheid” wat voortbestaan het sedert Satan die Duiwel Jesus op ’n hoë berg geneem het en hom al die koninkryke van die wêreld “en hulle heerlikheid” gewys het (Lukas 4:5, 6). Jesus het die aanbod van heerlikheid uit so ’n bron van die hand gewys en aangehou om ’n lewensweg op aarde te volg wat deur God goedgekeur word. Hy sou daarvoor met ’n heerlikheid bekroon word wat selfs groter is as die heerlikheid wat hy, die eniggebore Seun van God, in die hemel geniet het voordat hy sy aardse opdrag opgeneem het wat Jehovah hom gegee het.—Johannes 5:36; 17:5; Filippense 2:9-11.

19. Watter eervolle diensvoorreg nader vervulling, en wat is ons vasbeslote om ten opsigte daarvan te doen?

19 Die voorspelde einde van hierdie sataniese stelsel van dinge sal nie kom voor die Koninkryksgetuienis as ’n grootse slot van die bedrywigheid van die volgelinge van Jesus Christus, die Getuies van Jehovah, in die hele aarde gegee is nie (Mattheüs 24:14). Die Koninkryksgetuienis word nou al ’n driekwart eeu gegee, en soos wêreldontwikkelinge in ons tyd toon, moet daardie voorspelde einde naby wees. Die eervolle voorreg om aan die bediening van die koninklike, heilige regering deel te neem, moet dus voleinding nader (Mattheüs, hoofstukke 24, 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21). Ons voorreg om deel te neem aan die aardwye verkondiging van die opgerigte Koninkryk is inderdaad ’n glorieryke voorreg wat die Getuies van Jehovah, as navolgers van sy gekroonde Seun, Jesus Christus, hoog op prys stel. Hulle opregte begeerte is om daaraan vas te hou tot die Koninkryksgetuienis afgehandel is en die almagtige God, Jehovah, die universele situasie voltooi met sy eie persoonlike getuienis tot sy universele soewereiniteit.—Sefanja 3:8.

Wat is jou antwoorde?

◻ Waarom is die bediening van Jehovah se Getuies glorieryk?

◻ Waarom is die goeie nuus vandag vir so baie mense verberg?

◻ Wat is “hierdie skat in erdekruike”?

◻ Waarom het God brose erde-kruike vir sy kosbare diens gebruik?

◻ Hoe beskou Jehovah se volk “hierdie skat”, en waarom?

[Prent op bladsy 17]

God se heerlikheid word van die aangesig van Jesus Christus, die Grotere Moses, weerspieël. Jehovah se Getuies is bevoorreg om God se glorieryke lig van die Bybel op te vang en dit na ander uit te straal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel