Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/15 bl. 9-12
  • Geduld—Waarom so skaars?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geduld—Waarom so skaars?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorbeelde van ongeduld
  • Oorsake van ongeduld
  • Geduld—Waarom dit so nuttig is
  • Bemoedigende voorbeelde
  • Die belonings van geduld
  • Hou aan om geduldig te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Kan jy geduld beoefen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Volg Jehovah se geduld na
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Leer uit die geduld van Jehovah en Jesus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/15 bl. 9-12

Geduld—Waarom so skaars?

EMILIO was in die sestig.a Hy het op ’n hartseer sending na Oahu gekom—om sy volwasse seun te begrawe. Terwyl Emilio in ’n stil heuwelstraatjie saam met ’n paar vriende geloop en gesels het, het hy vir ’n motor geskrik wat teen ’n hoë spoed in trurat by ’n oprit uitgery gekom het. Die motor het hom amper raakgery, en uit woede en ongeduld het Emilio op die bestuurder geskreeu en met sy hand op die motor geslaan. ’n Argument het daarop gevolg. Die bestuurder het Emilio blykbaar gestoot, en hy het geval en sy kop op die harde sypaadjie gestamp. ’n Paar dae later was Emilio dood weens sy kopbesering. Wat ’n hartseer uiteinde!

Ons lewe in ’n wêreld waar geduld ’n skaars eienskap is. Al hoe meer motorbestuurders jaag. Ander ry te naby aan motors wat by die spoedbeperking bly. Ander weer vleg van die een baan na die ander omdat hulle dit nie kan verdra om agter ’n ander voertuig te wees nie. Tuis gee gesinslede dalk uiting aan woedebuie en word hulle gewelddadig. Selfs sommige Christene kan uitermate ontsteld raak oor hulle geestelike broers se tekortkominge of foute.

Waarom is geduld so skaars? Was dit altyd so gewees? Waarom is dit in ons dag so moeilik om geduldig te wees?

Voorbeelde van ongeduld

Die Bybel vertel van ’n vrou wat nie gewag het om haar man te raadpleeg voor sy ’n gewigtige besluit geneem het nie. Haar naam was Eva. Omdat sy nie op Adam gewag het nie, moontlik deels vanweë haar ongeduld, het sy die verbode vrug geëet (Genesis 3:1-6). Wat van haar man? Hy het dalk ook ongeduld aan die dag gelê deur Eva in sonde te volg sonder om eers sy hemelse Vader, Jehovah, om hulp of leiding te nader. Hulle hebsug, wat waarskynlik met ongeduld gepaard gegaan het en tot sonde gelei het, het vir ons almal noodlottige gevolge gehad. Ons het ook as erfenis die neiging van hulle ontvang om te sondig, waaronder die neiging om verwaand en ongeduldig te wees.—Romeine 5:12.

Ongeveer 2 500 jaar ná die sonde van ons eerste ouers het God se uitverkore volk, die Israeliete, ’n diep, volgehoue gebrek aan geloof, asook ’n gebrek aan geduld, geopenbaar. Hoewel Jehovah hulle kort tevore wonderbaarlik uit slawerny in Egipte verlos het, het hulle gou “sy werke vergeet” en “op sy raadsbesluit nie gewag nie” (Psalm 106:7-14). Hulle het keer op keer ernstige oortredings begaan omdat hulle nie geduldig wou wees nie. Hulle het ’n goue kalf gemaak en dit aanbid; hulle het oor Jehovah se materiële voorsiening van manna gemurmureer en baie van hulle het selfs teen Jehovah se Goddelik aangestelde verteenwoordiger, Moses, in opstand gekom. Hulle gebrek aan geduld het waarlik vir hulle droefheid en rampspoed tot gevolg gehad.

Die eerste mensekoning van Israel, Saul, het vir sy seuns die geleentheid verloor om sy koninklike opvolgers te wees. Waarom? Omdat hy nagelaat het om te wag vir die profeet Samuel wat ’n offerande aan Jehovah moes bring. Mensevrees het veroorsaak dat Saul sake vooruitgeloop het deur nie op Samuel te wag nie, maar self die offerande te bring. Stel jou voor hoe Saul moes gevoel het toe Samuel sy verskyning maak net nadat hy die seremonie uitgevoer het! As hy maar net nog ’n paar minute gewag het!—1 Samuel 13:6-14.

As Eva tog maar net vir Adam gewag het en nie voortvarend na die vrug gereik het nie! As die Israeliete tog maar net onthou het om te wag vir Jehovah se raad! Ja, geduld kon hulle en ons dalk baie droefheid en pyn gespaar het.

Oorsake van ongeduld

Die Bybel help ons om ’n vername oorsaak van vandag se ongeduld te verstaan. Tweede Timoteus hoofstuk 3 beskryf ons geslag as een wat lewe in “kritieke tye wat moeilik is om deur te kom”. Dit sê dat mense “liefhebbers van hulleself [sal] wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid” (Verse 2, 3). So ’n hebsugtige en egosentriese gesindheid kom in die harte en verstande van baie mense voor wat dit vir almal, selfs ware Christene, moeilik maak om geduld te beoefen. Wanneer ons sien hoe wêreldse mense te vinnig ry of in rye indruk of beledigings na ons slinger, kan dit ons geduld swaar beproef. Ons kan in die versoeking kom om soos hulle op te tree of hulle met gelyke munt te betaal en sodoende tot hulle vlak van selfsugtige trots te daal.

Soms is dit ons eie verkeerde gevolgtrekkings wat ons ons geduld laat verloor. Let op hoe wyse koning Salomo die verband tussen oorhaastige, gebrekkige redenasies en ongeduldige, toornige optrede uitgebeeld het: “’n Lankmoedige is beter as ’n hoogmoedige. Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase” (Prediker 7:8, 9). As ons die tyd neem om ’n juiste geheelbeeld van ’n situasie te kry voordat ons daarop reageer, sal ons waarskynlik meer begrip hê, meer simpatie hê en geduldiger teenoor ander wees. Aan die ander kant kan ’n trotse, egosentriese gees dalk veroorsaak dat ons kleingeestig, ongeduldig en verbitterd raak soos die murmurerende, hardnekkige Israeliete wat Moses getart het.—Numeri 20:2-5, 10.

Nog ’n oorsaak van hierdie wêreld se toenemende gebrek aan geduld is sy wanhopige toestand, wat ’n gevolg van hulle vervreemding van Jehovah is. Dawid het die mens se behoefte om sy hoop in Jehovah te stel, uitgespreek: “Waarlik, wag stil op God, o my siel, want van Hom kom my hoop” (Psalm 62:5, NW). Baie mense wat Jehovah nie ken nie, het ’n beperkte, droewe vooruitsig, en hulle probeer gevolglik elke bietjie plesier en wins vasgryp voordat hulle sterf. Soos hulle geestelike vader, Satan die Duiwel, gee hulle dikwels nie om hoe hulle optrede ander kan seermaak nie.—Johannes 8:44; 1 Johannes 5:19.

Dit is geen wonder dat geduld vandag so skaars is nie. Hierdie bose, selfsugtige stelsel van dinge, sy god Satan en die sondige neigings van ons gevalle vlees maak dit vir almal, selfs opregtes, moeilik om geduldig te wees. Die Bybel moedig ons nogtans aan om ‘geduld te beoefen’, veral ten opsigte van die vervulling van God se voornemens (Jakobus 5:8). Waarom is geduld so nuttig? Watter voordele kan dit vir ons inhou?

Geduld—Waarom dit so nuttig is

“Dié wat net staan en wag, dien ook.” Hierdie woorde is meer as driehonderd jaar gelede geuiter deur die Engelse digter John Milton in sy sonnet “On His Blindness”. Vroeër in die gedig het hy sy frustrasie en besorgdheid uitgespreek omdat hy nie in staat gevoel het om God ten volle te dien nie as gevolg van die feit dat hy in sy veertigerjare blind geword het. Maar soos weerspieël in die gedig se laaste reël wat hierbo aangehaal word, het hy tot die besef gekom dat ’n mens God kan aanbid deur geduldig verdrukking te verduur en kalm na geleenthede te soek om hom te dien. Milton het gesien hoe belangrik dit is om geduldig op God te vertrou.

Die meeste van ons kan goed sien, maar ons het almal beperkings wat kan veroorsaak dat ons kwaad of besorg word. Hoe kan ons geduld aankweek en beoefen?

Bemoedigende voorbeelde

Die Bybel voorsien ons van verskeie puik voorbeelde van geduld. Jehovah se geduld maak die ewige lewe vir miljoene der miljoene mense moontlik (2 Petrus 3:9, 15). In sy goedhartige uitnodiging om sy juk op ons te neem en ‘verkwikking vir ons siele te vind’, weerspieël Jesus volmaak die wonderlike geduld van sy Vader (Matteus 11:28-30). As ons oor Jehovah en Jesus se voorbeelde peins, kan dit ons help om geduldiger te wees.

Iemand wat blykbaar genoeg rede gehad het om kwaad, verbitterd of wraaksugtig te wees, was Jakob se seun Josef. Sy broers het hom uiters onregverdig behandel, planne beraam om hom dood te maak en hom uiteindelik in slawerny verkoop. In Egipte is Josef, ondanks sy pligsgetroue, lojale diens aan Potifar, vals beskuldig en in die tronk gestop. Hy het geduldig sy verdrukking verduur omdat hy waarskynlik besef het dat sulke toetse in ooreenstemming met Jehovah se voornemens was (Genesis 45:5). Omdat Josef geloof en hoop in Jehovah gekweek het, asook nederigheid en insig, kon hy selfs onder uiters moeilike omstandighede geduld beoefen.

Nog ’n belangrike hulpmiddel is Jehovah se heilige gees. As ons byvoorbeeld ’n vinnige humeur of ’n skerp tong het, kan ons om hulp van die heilige gees bid sodat ons die vrugte daarvan kan aankweek. As ons oor elk van hierdie vrugte peins, soos lankmoedigheid en selfbeheersing, sal dit ons help om te sien hoe hulle ten nouste met geduld verband hou.—Galasiërs 5:22, 23.

Die belonings van geduld

Geduld kan vir ons baie voordele inhou. Dit versterk ons karakter en beskerm ons teen onbesonne en dwase optrede. Wie van ons het nie al pynlike foute gemaak omdat ons te vinnig op moeilike of gespanne situasies gereageer het nie? Dalk het ons iets onvriendeliks gesê of ons onbeskof gedra. Dalk het ons toegelaat dat ’n onbenullige voorval in ’n hewige wilstryd met ’n dierbare geliefde ontaard. Ná baie woede, frustrasie en pyn het ons dalk hartseer gedink: ‘As ek maar net ’n bietjie gewag het.’ As ons geduld beoefen, kan dit ons teen allerhande vorme van hartseer beskerm. Daardie blote feit gee ons lewe soveel meer vrede, standvastigheid en tevredenheid.—Filippense 4:5-7.

As ons geduldig is, kan dit ons ook help om ’n kalm hart vol vertroue te hê. Dit kan daartoe lei dat ons beter fisiese, emosionele en geestelike gesondheid geniet (Spreuke 14:30). Onbeteuelde, onkeerbare woede kan ernstige emosionele en fisiese siekte en die dood veroorsaak. Deur aan die ander kant geduldig te wees, kan ons ’n positiewer gesindheid teenoor ander verkry, veral teenoor ons geestelike broers en gesinslede. Ons sal dan meer geneig wees om eerder bedagsaam en hulpvaardig te wees as wat ons geïrriteerd en krities is. Daarteenoor sal ander dit makliker en aangenamer vind om in ons geselskap te wees.

Ouer manne in die Christengemeente moet veral geduld beoefen. Soms nader mede-Christene hulle met ernstige probleme. Hierdie opregte broers is dalk verward, ontsteld of depressief terwyl die ouer manne self dalk moeg of bekommerd is oor hulle eie persoonlike of gesinsprobleme. Hoe belangrik is dit nogtans dat die ouer manne geduld beoefen in sulke moeilike omstandighede! Op hierdie manier kan hulle “met sagmoedigheid” onderrig en ‘die kudde met teerheid behandel’ (2 Timoteus 2:24, 25; Handelinge 20:28, 29). Kosbare lewens staan op die spel. Wat ’n seën is goedhartige, liefdevolle en geduldige ouer manne tog vir die gemeente!

Gesinshoofde moet hulle huisgesin met geduld, begrip en goedhartigheid behandel. Hulle moet ook dieselfde eienskappe van alle gesinslede verwag en dit by hulle aanmoedig (Matteus 7:12). Dit sal grootliks tot liefde en vrede in die huis bydra.

As Christenbedienaars geduld beoefen terwyl hulle aan die veldbediening deelneem, sal dit hulle help om hulle diens meer te geniet. Hulle sal enige onverskilligheid en teëstand wat hulle teëkom beter kan verduur. Geduldige bedienaars sal nie met toornige huisbewoners stry nie, maar sal eerder ’n sagmoedige antwoord kan gee of kalm omdraai en dus hulle vrede en vreugde behou (Matteus 10:12, 13). As Christene daarbenewens almal met geduld en vriendelikheid behandel, sal skaapgeaardes na die Koninkryksboodskap getrek word. Jehovah het geduldige pogings op ’n wêreldwye skaal geseën namate honderdduisende sagmoedige waarheidsoekers elke jaar na Jehovah se liefdevolle gemeente stroom.

Om geduld te beoefen, sal vir ons waarlik goeie belonings inhou. Ons sal baie ongelukke en probleme voorkom wat veroorsaak word wanneer ons rondjaag of te vinnig met ons tong is. Ons sal gelukkiger, kalmer en waarskynlik gesonder wees. Ons sal groter vreugde en vrede in ons bediening, in die gemeente en tuis ondervind. Maar bowenal sal ons ’n intiemer verhouding met God geniet. Wag dus op Jehovah. Beoefen geduld!

[Voetnoot]

a Die naam is verander.

[Prente op bladsy 10]

Hoe geduldig is jy in jou daaglikse lewe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel