Saterdag 9 Augustus
As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe en dag ná dag sy folterpaal optel en aanhou om my te volg. – Luk. 9:23.
Dalk het jy teenstand van familielede ondervind of dalk het jy sekere materiële dinge opgeoffer om Koninkryksbelange eerste te stel (Matt. 6:33). As dit die geval is, kan jy seker wees dat Jehovah jou getroue werke raakgesien het (Heb. 6:10). Jy het heel moontlik gesien dat hierdie woorde van Jesus waar is: “Elkeen wat huis of broers of susters of ma of pa of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat het, [sal] nou in hierdie tyd 100 keer soveel . . . kry – huise, broers, susters, ma’s, kinders en landerye, met vervolginge – en in die wêreld wat kom, die ewige lewe” (Mark. 10:29, 30). Die seëninge wat jy ontvang het, is werklik baie groter as enige opofferings wat jy gemaak het. – Ps. 37:4. w24.03 9 ¶5
Sondag 10 Augustus
’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye. – Spr. 17:17.
Toe die Christene in Judea ’n groot hongersnood ondervind het, het die broers in die gemeente in Antiogië “besluit om iets te stuur om die broers in Judea te help. Elkeen het bygedra volgens wat hy kon bekostig” (Hand. 11:27-30). Al het die broers en susters wat deur die hongersnood geaffekteer was, ver gebly, was die Christene in Antiogië vasbeslote om hulle te help (1 Joh. 3:17, 18). Ons kan ook vandag wys dat ons meegevoel het wanneer ons uitvind dat ons broers en susters deur ’n ramp geraak is. Ons reageer vinnig – dalk deur die ouermanne te vra of ons kan help met ’n projek, deur ’n donasie te maak aan die wêreldwye werk of deur te bid vir dié wat deur die ramp geraak is. Ons broers en susters sal dalk ook hulp nodig hê om die basiese dinge te kry wat hulle nodig het. Wanneer ons Koning, Christus Jesus, kom om mense te oordeel, wil ons hê dat hy moet sien dat ons wys dat ons meegevoel het en dat hy ons moet nooi om ‘die Koninkryk te erf’. – Matt. 25:34-40. w23.07 4 ¶9-10; 6 ¶12
Maandag 11 Augustus
Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word. – Fil. 4:5.
Jesus het Jehovah se redelikheid nagevolg. Hy is na die aarde gestuur om vir “die verlore skape van die huis van Israel” te preek. Maar hy het gewys dat hy redelik is terwyl hy daardie toewysing uitgevoer het. Eenkeer het ’n nie-Israelitiese vrou hom gesmeek om haar dogter gesond te maak wat ’n ‘demoon in haar gehad het en verskriklik gely het as gevolg daarvan’. Jesus het meegevoel gewys en gedoen wat die vrou gevra het en haar dogter gesond gemaak (Matt. 15:21-28). Kyk na nog ’n voorbeeld. Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: “As iemand . . . sê dat hy my nie ken nie, sal ek . . . sê dat ek hom ook nie ken nie” (Matt. 10:33). Maar het Jesus gesê dat hy Petrus nie ken nie, al het Petrus drie keer gesê dat hy hom nie ken nie? Nee. Jesus het geweet dat Petrus berouvol is en sterk geloof het. Ná Jesus se opstanding het hy aan Petrus verskyn en hom heel moontlik daarvan verseker dat hy hom vergewe het en hom nog steeds liefhet (Luk. 24:33, 34). Jehovah God en Jesus Christus is albei redelik. Wat van ons? Jehovah verwag dat ons redelik moet wees. w23.07 21-22 ¶6-7