Bied die Goeie Nuus Aan—Met brosjures
1 Wat ’n vreugde is dit tog om oor die waarheid met mense te praat en die goeie nuus van die Koninkryk aan hulle te verkondig! (Hand. 15:3). Maar ons tyd om dit te doen, is beperk. Jehovah het wyslik deur sy organisasie uitstekende Bybelstudiehulpe voorsien wat ons by belangstellendes kan laat om hulle te help om verder vooruitgang te maak. Ons wil hierdie hulpe bekwaam aanbied.
2 Miljoene eksemplare van die brosjures Jy kan vir ewig op die aarde lewe!, Die regering wat die Paradys gaan bring en “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam? is in baie tale gedruk. ’n Bespreking uit een van hierdie brosjures kan jou help om vas te stel of die huisbewoner werklik in die waarheid belangstel. Kom ons beskou hoe hierdie Bybelhulpe doeltreffend gebruik kan word.
’N PAAR WENKE
3 Jy kan vir ewig op die aarde lewe!: Hierdie brosjure het uitstekende trefkrag by jongmense, sowel as diegene wat nie goed kan lees nie. Die prente en tekste is genommer om dit maklik te vind. Hoe kan jy dit aanbied? Jy kan sê: “Sal jy graag eendag ware geluk op die aarde wil geniet? [Wag op antwoord.] Let op hierdie pragtige illustrasie van gelukkige mense hier in hierdie Bybelstudiehulp. [Blaai na prent 49, en lees kommentare oor prent.] Hierdie brosjure sal jou help om te leer hoe die Bybel jou kan help om onder sulke gelukkige mense te woon en die lewe vir ewig op aarde te geniet. Dit is joune teen ’n bydrae van 60c.”
4 Na ’n kort inleiding kan ’n jong of nuwe verkondiger die brosjure aanbied deur te sê: “Ons bied vir mense hierdie brosjure aan wat toon hoe God geluk aan mense oor die hele aarde sal bring. Kyk na die voorblad wat toon hoe gelukkige mense werklik die lewe geniet. Ek is seker daarvan dat u meer hieroor sal wil lees en die prente en teksverwysings in hierdie brosjure sal wil ondersoek. U kan dit kry teen ’n bydrae van 60c.”
5 Die regering wat die Paradys gaan bring: Hierdie brosjure vestig die aandag op God se Koninkryk—die tema van Jesus se boodskap en ons s’n. Hier is twee maniere waarop jy hierdie brosjure kan aanbied:
6 “Diegene wat werklik God se Woord waardeer en onderhou, kan uitsien na ’n gelukkige lewe onder God se regering. Dit is die regering wat paradystoestande oor die hele aarde sal teweegbring. Dit word goed beskryf in hierdie brosjure wat u teen slegs 60c kan kry. Let op wat dit op bladsy 3 oor hierdie regering sê.” Lees dan die paragraaf.
7 Of: “Diegene wat God se Woord onderhou, is nie net nou gelukkig nie, maar sien ook uit na groter geluk. Hierdie Bybelstudiehulp toon op bladsy 29 waarom diegene wat God se Woord onderhou, gelukkig sal wees. [Wys huisbewoner pertinente gedagtes op bladsy 29.] Ek is seker daarvan dat u dit sal geniet om meer hiervan te lees. U kan hierdie leersame brosjure teen 60c kry.”
8 “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam?: Geluksoekers moet beslis die God van geluk, Jehovah, leer ken. Jy kan dus die brosjure soos volg aanbied: “Om God se Woord te ken en te onderhou, moet ’n mens God self werklik beter leer ken. Dit is een rede waarom ons hierdie leersame Bybelstudiehulp by mense aanbied. [Wys brosjure.] Dit verduidelik nie net wat God se naam is nie, maar toon ook hier op bladsy 30 die waarde daarvan om God se naam te ken. [Lees paragraaf 2.] U kan hierdie eksemplaar teen ’n bydrae van 60c kry.”
9 Jy vind dalk ander doeltreffende maniere om die brosjure in die velddiens aan te bied. Berei goed voor, en mag Jehovah jou blydskap laat smaak wanneer jy die goeie nuus met die brosjures aanbied.