Doen die werk van ’n evangelis
1 Paulus het Timotheüs aangespoor om in alles nugter te wees, die werk van ’n evangelis te doen en sy bediening te vervul (2 Tim. 4:5). Ons wil ook, hetsy ons jonk of oud, nuut in die waarheid of ervare in die predikingswerk is, ’n volle deelname aan die evangelisasiewerk hê.
2 Terwyl ons die goeie nuus gedurende Augustus verkondig, sal ons die Genootskap se jongste brosjures aanbied: “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam?, Die regering wat die Paradys gaan bring, Jy kan vir ewig op die aarde lewe! en “Kyk, Ek maak alles nuut”. As ons tyd inruim om met hierdie vier brosjures vertroud te raak, sal ons hulle bekwaam vir die mense in ons gebied kan aanbied.
HOE OM DIE BROSJURES TE GEBRUIK
3 Die Naam-brosjure: As jy die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik, kan jy maklik na Johannes 17:3 oorgaan deur middel van die vraag: Wat is die naam van die enigste ware God? Nadat jy daardie vraag gestel het, kan jy sê: “Johannes 17:3 praat van twee persone. Die een word Jesus genoem, maar die ander word net by die titel ‘God’ genoem. Let nou op wat hierdie brosjure op bladsy 3, paragraaf 4, sê.” Daarna kan jy na bladsy 8 in die brosjure blaai en toon op watter verskillende maniere die goddelike naam in ander tale vertaal word, asook hoe dit in Hebreeus lyk. Dan kan jy hierdie leersame brosjure teen 50c vir die huisbewoner aanbied.
4 Die Regering-brosjure: Nadat jy Johannes 17:3 gelees het en daarop gewys het dat kennis van God en van Jesus ewige lewe beteken, kan jy die huisbewoner vra of hy al ooit aan ewige lewe op die aarde gedink het. Laat hom antwoord. Blaai dan na bladsy 3 van die brosjure, lees ’n gedeelte van die modelgebed en beklemtoon dat God se wil op die aarde moet geskied. Lees vervolgens die res van paragraaf 1 wat toon dat die Koninkryk die instrument is wat God gaan gebruik om die probleme op te los wat die lewe vandag so moeilik maak. Dan kan jy die brosjure aanbied. Of jy kan na bladsye 28 en 29 blaai, sommige van die seëninge meld wat God se Koninkryksregering vir die mensdom sal bring, en die brosjure dan teen 50c aanbied.
5 Die Lewe op aarde-brosjure: Wanneer hierdie brosjure aangebied word, kan jy die gereelde ‘Onderwerp vir gesprekke’ of dalk ’n vereenvoudigde aanbieding gebruik. Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy die huisbewoner vra of hy dink dat die dag ooit sal kom wanneer daar genoeg kos vir almal sal wees. Sal daar ’n tyd wees wanneer alle gesinne op die aarde hulle eie huise sal hê en in vrede en geluk sal kan woon? Blaai dan, na die huisbewoner se antwoord, na illustrasie 47 in die brosjure. Verduidelik die wonderlike toestande wat daar uitgebeeld word en hoe dit spoedig hier op die aarde sal heers. As jy die geleentheid het, kan jy die huisbewoner nooi om die tekste by illustrasie 47 te lees. Jy kan vir hom sê dat hierdie brosjure toon wat ons moet doen om vir ewig op die aarde te kan lewe. Bied ’n eksemplaar teen 50c aan.
6 Die “Kyk”-brosjure: Dwarsdeur die wêreld is daar miljoene mense wat die Bybel nie as die geïnspireerde Woord van God erken nie. Hierdie brosjure is daarop gemik om sulke mense te help. Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy die huisbewoner vra of hy weet dat die Bybel die enigste godsdiensboek is wat die Paradys werklik verduidelik. Laat hom antwoord. Nooi hom dan om Openbaring 21:4 saam met jou te lees en te sien hoe die Paradys sal wees. Bespreek paragraaf 1 op bladsy 3 met behulp van die buitebladprent. Moedig die huisbewoner aan om hierdie brosjure teen 50c te neem en meer oor die Paradys te leer.
7 Gedurende Augustus kan almal brosjures aanbied terwyl ons aan die evangelisasiewerk deelneem. Ouers kan hulle kinders help om ’n eenvoudige aanbieding voor te berei. Nuwelinge kan begin deur ’n kort aanbieding te kies waarmee hulle op hulle gemak sal voel. Mag ons die werk van evangeliste ywerig doen en soveel mense moontlik met die bevredigende inligting in die brosjures bereik.—1 Tim. 2:3, 4.