Die Gemeentelike Boekstudie bevorder opvoedkundige bedrywighede
1 Die Gemeentelike Boekstudie speel ’n uiters belangrike rol in die opvoedkundige program van Jehovah se organisasie. Die boekstudiegroepe is oor die hele gebied versprei, wat dit vir almal gerieflik maak om dit by te woon. Belangstellendes sal moontlik ’n uitnodiging om die studie by te woon geredeliker aanvaar aangesien daar ’n studie in hulle eie omgewing gehou word.
2 Daar word probeer om elke groep klein te hou. Dit bied die studiehouer die geleentheid om persoonlike hulp aan elkeen te verleen. Nie almal leer ewe vinnig nie. As enigiemand dit moeilik vind om ’n punt te verstaan, selfs nadat hy die les vooraf bestudeer het, kan die studiehouer dit ná die studie verder bespreek. Omdat die groep klein is, is daar bowendien meer geleenthede om kommentaar te lewer en van die tekste te lees. Dra jy tot die bespreking by deur gereeld kommentaar te lewer? Probeer jy in jou eie woorde antwoord? Jou bereidwilligheid om ’n deelname te hê, kan vir jou sowel as vir ander voordelig wees. Terwyl jy voorberei, kan jy jou waarnemingsvermoëns gebruik om te onderskei hoe jy sekere punte in die les persoonlik kan toepas.—Hebr. 5:14,NW.
3 Deur op die boekstudiehouer se onderrigmetodes te let, kan jy leer hoe om tuisbybelstudies op ’n interessanter en leersamer manier te hou. Nadat die paragrawe deur ’n bekwame broer gelees is, word die vrae bespreek. Die studiehouer moedig almal aan om hard genoeg te praat. Na gelang van die tyd probeer hy kommentare oor die teksverwysings uitlok om ons te help verstaan hoe dit van toepassing is. (Vergelyk Nehemia 8:8, NAV.) Hy kan soms ’n kort, verklarende kommentaar byvoeg of bykomende vrae gebruik om ’n sleutelgedagte te beklemtoon. ’n Voorbeeld of ’n illustrasie kan ons help om te sien hoe die inligting met ons lewe verband hou.
4 Die vergaderingbywoning by sommige Gemeentelike Boekstudies is taamlik laag. Woon jy dit gereeld by? Indien nie, is dit ’n belangrike voorsiening waarby jy nie baat vind nie. Die boekstudiereëling is een van die maniere waarop Jehovah toon dat hy vir ons sorg (1 Pet. 5:7). Hy wil hê ons moet in kennis en wysheid toeneem sodat ons geestelik sterk sal wees. Daarenteen wil Satan graag ons geestelike groei vertraag en ons swakker maak sodat ons minder bruikbaar vir Jehovah en Sy organisasie sal wees. Moenie toelaat dat dit gebeur nie! Laat die hartlike, liefdevolle atmosfeer in hierdie intieme groep jou hart roer en jou beweeg om Jehovah aan te hou loof.—Vergelyk Psalm 111:1,NW.
5 Velddiensvergaderinge wat vir die verkondigers geleë is, word gereël sodat hulle van die meeste plekke waar boekstudies gehou word, kan uitgaan. Hierdie vergaderinge kan vir getuieniswerk gedurende die week, oor die naweek of in die aand wees. Die boekstudiehouer maak seker dat daar genoeg gebied beskikbaar is en dat iemand teenwoordig sal wees om die leiding in die velddiens te neem. Velddiensvergaderinge moenie langer as 10-15 minute wees nie. Die studiehouer kan kortliks die dagteks bespreek as dit met ons predikingsbedrywigheid verband hou en een of twee spesifieke wenke vir die velddiens gee of ’n kort demonstrasie van die huidige aanbod hou.
6 Die studiehouer probeer met verloop van tyd om saam met elkeen in sy groep te werk en gepaste aanmoediging en opleiding te gee.—Vergelyk Markus 3:14; Lukas 8:1.