Opsieners wat die leiding neem—Gemeentelike Boekstudiehouers
1 Dit is ’n groot voorreg vir ’n bekwame ouer man of bedieningskneg om as ’n Gemeentelike Boekstudiehouer te dien. Om na die geestelike behoeftes van diegene in sy groep om te sien, is ’n ernstige verantwoordelikheid. Sy pligte val onder drie kategorieë.
2 Bekwame onderrigting: Die Gemeentelike Boekstudiehouer moet deeglik voorberei om elke week die groep te help om die materiaal te verstaan. Hy streef daarna om waardering vir die materiaal wat bestudeer word te vergroot. Hy lewer nie self baie kommentaar gedurende die studie nie, maar vra indien nodig bykomende, saaklike vrae om die hoofpunte van die les uit te lig. Sy uitdaging is om die studie interessant en leersaam te maak en almal by die bespreking te betrek. Sy doelwit is om die groep geestelik op te bou, om die praktiese waarde van die studie te beklemtoon en om die verstand sowel as die hart met die materiaal te bereik.—1 Tess. 2:13.
3 Herderswerk: Die Gemeentelike Boekstudiehouer is “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” (Jes. 32:2). Hy gee werklik om vir almal in sy groep en sien toe dat geestelike hulp voorsien word wanneer iemand in sy sorg ontmoedig voel.—Eseg. 34:15, 16; 1 Tess. 2:7, 8.
4 Ywerige evangelisasiewerk: Die Gemeentelike Boekstudiehouer tref pligsgetrou praktiese reëlings vir almal in sy groep om ’n volle deelname aan die veldbediening te hê. Hy neem die leiding in die evangelisasiewerk, in die wete dat sy voorbeeld van gereeldheid, ywer en geesdrif in die diens deur die res van die groep nagevolg sal word (Kol. 4:17; 2 Tess. 3:9). Hy probeer om met verloop van tyd saam met elke lid van sy groep velddiens te doen. As ons ons predikings- en onderrigtingsvaardighede in die bediening wil verbeter, kan die Gemeentelike Boekstudiehouer ons help om daardie doelwit te bereik.—1 Tim. 4:16; 2 Tim. 4:5.
5 Ons is waarlik geseënd met hierdie gawes in die vorm van mense wat altyd gereed is om ons geestelik te help en liefdevol te ondersteun (1 Tess. 5:14). Mag ons ons waardering vir hierdie wonderlike voorsiening van Jehovah toon deur ons gereelde deelname aan die boekstudie en ons getroue ondersteuning van die evangelisasiewerk.—Heb. 10:25.