Voer jou bediening op bekwame wyse uit
1 Dit word donker, en ’n onheilspellende geluid word al hoe harder totdat dit ’n oorverdowende gedreun is. ’n Rookagtige wolk daal neer. Wat is dit? ’n Swerm van miljoene sprinkane wat gereed is om algehele verwoesting oor die land te bring! Hierdie toneel wat deur die profeet Joël beskryf is, word vandag vervul in die predikingswerk van God se gesalfde knegte en hulle metgeselle, die groot skare.
2 Die Wagtoring van 1 Mei 1998, bladsy 11, paragraaf 19, het gesê: “God se hedendaagse sprinkaanleërmag het ’n deeglike getuienis in “die stad” van die Christendom gegee (Joël 2:9). . . . Hulle hou aan om alle struikelblokke te bowe te kom, miljoene huise binne te gaan, mense op straat te nader, met hulle oor die telefoon te praat en op enige moontlike manier met hulle in aanraking te kom terwyl hulle Jehovah se boodskap verkondig.” Is dit nie ’n groot voorreg om aan hierdie godgegewe werk deel te neem nie?
3 Anders as letterlike sprinkane, wat net een doelwit het, naamlik om te eet, is ons as Jehovah se knegte baie besorg oor die lewe van diegene vir wie ons getuig. Ons wil ander help om die wonderlike waarhede te leer wat in God se Woord vervat word en om beweeg te word om die stappe te doen wat tot hulle ewige redding sal lei (Joh. 17:3; 1 Tim. 4:16). Ons wil dus ons bediening op bekwame wyse uitvoer. Aan watter faset van die predikingswerk ons ook al deelneem, ons moet ons afvra of ons dit op ’n manier en op ’n tyd doen wat die beste resultate sal oplewer. Aangesien ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’, sal dit goed wees as ons ons metodes en ons benadering ondersoek om seker te maak dat ons die uitdaging om so produktief as moontlik te wees die hoof bied.—1 Kor. 7:31.
4 Hoewel ons probeer om op talle maniere met mense in aanraking te kom, is die huis-tot-huis-werk nog steeds die vernaamste faset van ons bediening. Vind jy dat mense dikwels nie tuis is nie of slaap wanneer jy hulle besoek? Hoe frustrerend is dit tog, aangesien jy nie die boodskap van die goeie nuus aan hulle kan oordra nie! Hoe kan jy hierdie uitdaging die hoof bied?
5 Wees aanpasbaar en redelik: In die eerste-eeuse Israel het vissers snags vis gevang. Waarom snags? Hoewel dit nie vir hulle die gerieflikste tyd was nie, was dit die beste tyd om die meeste vis te vang. Dit was die produktiefste tyd. Die Wagtoring van 15 Junie 1992 het van hierdie gebruik gesê: “Ons moet ook ’n studie maak van ons gebied sodat ons as ’t ware gaan visvang wanneer die meeste mense by die huis is en ontvanklik is.” Al is mense in baie voorstedelike gemeenskappe en woongebiede tuis wanneer ons hulle vroeg op Saterdag- en Sondagoggende besoek, het ’n noukeurige ondersoek van hulle gewoontes getoon dat dit hulle oor die algemeen nie pas as ons hulle dan besoek nie. Kan jy, as dit die geval in julle gebied is, jou besoeke tot later in die oggend of selfs na die middag toe skuif? Dit is ’n goeie manier om die doeltreffendheid van ons bediening te vergroot, asook bedagsaamheid teenoor ons naaste te toon, wat ’n blyk van ware Christelike liefde is.—Matt. 7:12.
6 In Filippense 4:5 herinner die apostel Paulus ons daaraan dat ‘ons redelikheid aan alle mense bekend moet word’. In ooreenstemming met hierdie geïnspireerde riglyne wil ons gebalanseerd en redelik in ons metodes wees terwyl ons ons predikingstoewysing ywerig en geesdriftig uitvoer. Ons wil ons nie ‘daarvan weerhou om in die openbaar en van huis tot huis te leer nie’, maar ons wil seker maak dat ons ons huis-tot-huis-bediening uitvoer op tye wat redelik en produktief is (Hand. 20:20). Soos daardie vissers in die eerste-eeuse Israel, vang ons vis op tye wanneer ons die produktiefste kan wees, en nie op tye wat vir óns die gerieflikste is nie.
7 Watter aanpassings kan gemaak word? Velddiensvergaderinge word gewoonlik om 9:00 of 9:30 vm. op ’n Saterdag en Sondag gehou, waarna die groep dadelik na die gebied toe gaan om van huis tot huis te werk. Maar sommige liggame van ouer manne het gereël dat die groep eers aan ander fasette van die bediening deelneem, soos straatwerk, sakegebied of herbesoeke, voordat hulle van deur tot deur in woongebiede gaan werk. Ander gemeentes het die vergaderingtye vir velddiens later in die oggend gemaak—om 10:00 vm., 11:00 vm. of 12:00 in die middag. Daarna begin die groep dadelik met deur-tot-deur-werk en bly in die diens tot vroeg in die middag. In sommige gebiede sal die vroeë middag, pleks van die oggend, die beste tyd wees om vir velddiens bymekaar te kom. Sulke aanpassings kan heel waarskynlik bydra tot groter produktiwiteit in die deur-tot-deur-werk.
8 Lê onderskeidingsvermoë aan die dag en wees taktvol: Wanneer ons mense van deur tot deur ontmoet, kry ons ’n verskeidenheid reaksies op ons boodskap. Party huisbewoners is ontvanklik, ander is onverskillig en ’n paar is dalk stryerig of aggressief. As laasgenoemde die geval is, word ons op bladsy 7 van Redenering uit die Skrif daaraan herinner dat ons doel nie is om “‘argumente te wen’ met mense wat geen eerbied vir die waarheid toon nie”. As die huisbewoner vyandiggesind is, is dit beter om liewer te gaan. Ons moet nooit mense kwaad maak deur daarop aan te dring dat hulle met ons moet praat of ons beskouing moet aanneem nie. Ons dwing nie ons boodskap op mense af nie. Dit sal nie verstandig wees nie en kan probleme veroorsaak vir ander Getuies en vir die werk oor die algemeen.
9 Voordat ons in ’n gebied begin werk, sal dit verstandig wees om die gebiedskaart na te gaan vir enige adresse waar die huisbewoners ons gevra het om hulle nie te besoek nie. As daar sulke adresse is, moet daar vir elke verkondiger wat in daardie straat werk, gesê word watter huise om oor te slaan. Niemand moet op sy eie besluit om hierdie huise te besoek sonder dat die diensopsiener hulle vra om dit te doen nie.—Sien die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir September 1994.
10 Ons kan groter welslae behaal deur onderskeidingsvermoë aan die dag te lê in ons werk van huis tot huis. Wees oplettend as jy ’n huis nader. Is al die gordyne of blindings toegetrek? Is daar geen teken van lewe nie? Dit kan daarop dui dat die mense van die huis slaap. Ons sal waarskynlik ’n produktiewer gesprek met die huisbewoner hê as ons later terugkeer. Dalk sal dit beter wees om vir eers hierdie huis oor te slaan en ’n aantekening van die huis se nommer te maak. Voordat jy die gebied verlaat, kan jy weer verby die huis gaan of ’n aantekening maak om later in die dag terug te gaan.
11 Situasies kan nogtans ontstaan waar ons iemand onopsetlik wakker maak of hom op ’n ander manier steur. Hy lyk dalk selfs geïrriteerd of kwaad. Hoe moet ons reageer? Spreuke 17:27 (NW) raai ons aan: “’n Man van onderskeidingsvermoë is kalm van gees.” Hoewel ons nie verskoning maak vir ons bediening nie, kan ons beslis noem hoe jammer ons is dat ons hom op ’n ongeleë tyd besoek het. Ons kan beleef vra of ’n ander tyd meer geleë sal wees en aanbied om terug te kom. Opregte besorgdheid en ’n vriendelike stemtoon kan dikwels so ’n persoon laat ontspan (Spr. 15:1). As ’n huisbewoner vir ons sê dat hy gereeld nagskof werk, kan ’n nota by die gebiedskaart aangebring word sodat toekomstige besoeke op ’n gepaste tyd gedoen kan word.
12 Onderskeidingsvermoë is ook nodig wanneer ons ons gebied deeglik probeer dek. Aangesien baie mense nie tuis is wanneer ons hulle vir die eerste keer besoek nie, moet ons ekstra pogings aanwend om met hulle in aanraking te kom om die boodskap van redding aan hulle te verkondig (Rom. 10:13). Verslae toon dat sommige verkondigers verskeie kere op een dag na dieselfde huis toe gaan om die mense tuis te probeer kry. En die bure let dit op. Ons kan ’n ongunstige indruk skep dat Jehovah se Getuies ‘gedurig’ hulle straat besoek. Hoe kan dit vermy word?
13 Lê onderskeidingsvermoë aan die dag. Is daar, wanneer jy teruggaan na waar daar niemand tuis was nie, aanduidings dat daar nou iemand tuis is? As daar pos of advertensieblaaie by die posbus uitsteek, is die mense waarskynlik nog nie tuis nie en sal dit op hierdie stadium nie produktief wees om weer aan die deur te gaan klop nie. As die persoon na ’n paar pogings op verskillende tye van die dag, soos in die aand, nie tuis gevind kan word nie, kan ons dalk per telefoon met die huisbewoner in aanraking kom. Indien dit nie moontlik is nie, kan ’n traktaat of ’n strooibiljet onopsigtelik onder deur die deur gestoot word, veral as die gebied redelik dikwels gedek word. Die persoon sal heel moontlik tuis gevind word wanneer daar weer in die gebied gewerk word.
14 Ons moet lang gesprekke by die deur vermy wat die huisbewoner aan gure weer blootstel. Wees versigtig wanneer jy ingenooi word om nie die matte vuil te trap nie. Gebruik onderskeidingsvermoë wanneer jy ’n blaffende hond teëkom. Wanneer ons in woonstelblokke werk, moet ons sag praat en nie ’n geraas maak wat die bewoners steur of ons teenwoordigheid aankondig nie.
15 Wees ordelik en tree met waardigheid op: Met goeie organisasie kan ons voorkom dat ons in groot groepe in die gebied saamdrom wat die aandag trek. Party huisbewoners voel dalk skrikkerig wanneer ’n klomp motors met ’n groot groep verkondigers voor hulle huis stilhou. Ons wil nie die indruk skep dat ons woongebiede “binneval” nie. Dit is beter om by die velddiensvergadering te reël hoe die gebied gedek gaan word. Klein groepe verkondigers, soos ’n gesin, sal die huisbewoners nie so onrustig laat voel nie en het nie soveel reorganisering nodig terwyl daar in die gebied gewerk word nie.
16 Ordelikheid vereis dat ouers gedurig ’n ogie oor hulle kinders hou terwyl hulle in ’n gebied werk. Kinders moet hulle goed gedra wanneer hulle volwassenes na ’n deur toe vergesel. Kinders moet nie toegelaat word om te speel of rond te drentel en onnodig die huisbewoners of verbygangers se aandag te trek nie.
17 Balans is ook nodig wanneer dit kom by koffiepouses. Ons Koninkryksbediening vir Junie 1995, bladsy 3, het gesê: “Wanneer ons velddiens doen, kan ons gedurende koffiepouses kosbare tyd verloor. Maar wanneer die weersomstandighede onguur is, sal ’n blaaskans ons verkwik en ons help om voort te gaan. Baie verkies egter om besig te bly om vir mense te getuig en nie koffiepouses saam met die broers te hê gedurende die tyd wat vir die bediening opsy gesit is nie.” Hoewel dit ’n persoonlike besluit is om ons diens te onderbreek om eers verversings te geniet, is daar al opgelet dat groot groepe broers en susters by ’n koffiehuis of ’n restaurant bymekaarkom. Buiten die tyd wat dit neem om bedien te word, kan die teenwoordigheid van ’n groot groep ander in die restaurant ongemaklik laat voel. Soms word die oggend se velddiensondervindinge luid bespreek, en dit kan afbreuk doen aan die waardigheid van ons bediening en dit minder doeltreffend maak. Met onderskeidingsvermoë kan verkondigers dit vermy om eetplekke oor te neem en onnodig tyd te mors wat in die bediening bestee kan word.
18 Baie broers het uitstekende resultate gehad deur mense te nader waar hulle ook al gevind kan word—op straat, in parkeerterreine en op ander openbare plekke. Hier wil ons ook ’n goeie getuienis gee, nie net deur ons woorde nie maar ook deur ons redelikheid. Verkondigers in elke gemeente moet hulle gebiedsgrense respekteer sodat hulle nie toesak op voetgangers in sakegebiede en ingange tot spoorwegstasies of op werknemers by ondernemings, soos vulstasies wat 24 uur oop is nie. Om seker te maak dat ons ons bediening op ’n ordelike en waardige manier uitvoer, sal ons slegs in ons eie gebiedstoewysing werk, tensy die een of ander spesifieke reëling deur die Gemeentelike Dienskomitee van ’n ander gemeente getref is om hulle van hulp te voorsien.—Vergelyk 2 Korintiërs 10:13-15.
19 Party gemeentes wat baie gebied het waar openbare getuieniswerk gedoen kan word, het hierdie gebiede onderverdeel. ’n Gebiedskaart word dan aan ’n individuele verkondiger of ’n groep gegee. Dit maak dit makliker om ’n gebied meer doeltreffend te dek en verhoed dat te veel verkondigers in dieselfde gebied op dieselfde tyd werk, in ooreenstemming met die beginsel in 1 Korintiërs 14:40: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied.”
20 Ons voorkoms moet altyd waardig wees soos dit bedienaars betaam wat Jehovah se naam dra. Dieselfde geld vir dít wat ons in ons bediening gebruik. Gehawende velddienssakke en vuil Bybels met bladsye wat omgekrul is, doen afbreuk aan die Koninkryksboodskap. Daar is al gesê dat kleredrag en persoonsversorging “’n sosiale snelskrif is wat die gemeenskap om ons inlig oor wie en wat jy is en waar jy in die samelewing inpas”. Ons voorkoms moet dus nie slordig en onversorg of opsigtelik en uitspattig wees nie, maar altyd daarvan getuig dat ons “die goeie nuus . . . waardig is”.—Fil. 1:27; vergelyk 1 Timoteus 2:9, 10.
21 In 1 Korintiërs 9:26 sê die apostel Paulus: “Die manier waarop ek hardloop[, is] nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie.” Ter navolging van Paulus is ons vasbeslote om ’n doeltreffende, produktiewe bediening te hê. Terwyl ons as deel van Jehovah se “sprinkaanleërmag” vandag ’n ywerige deelname aan die getuieniswerk het, laat ons Christelike redelikheid en onderskeidingsvermoë aan die dag lê wanneer ons die boodskap van redding na almal in ons gebied neem.