Hoe ons die lektuur by ons inleiding kan inskakel
1 Wanneer jy jou aanbieding vir hierdie maand voorberei, kan jy gerus nadink oor die groot probleme waarmee mense in jou gebied te kampe het en dan dele uit die jongste tydskrifte of uit ’n brosjure kies wat op die praktiese, skriftuurlike oplossing vir daardie probleme wys.
2 In sommige buurte is mense bekommerd oor toenemende werkloosheid en die hoë lewenskoste. As jy daardie situasie teëkom, kan jy die probleem spesifiek in jou inleiding noem.
Jy kan sê:
◼“Ons het met ons bure gesels oor wat gedoen kan word om te verseker dat almal werk en ’n dak oor hulle kop het. Glo jy dit is redelik om te verwag dat menseregerings dit sal regkry? [Laat huisbewoner antwoord.] Daar is iemand wat weet hoe om hierdie probleme op te los; let op sy gerusstellende belofte in Jesaja 65:21-23. [Lees.] Ons Skepper het hierdie belofte laat neerskryf om ons te bemoedig, en ons het almal in hierdie moeilike tye bemoediging nodig, nie waar nie?”—rsAF, bl. 14.
3 In hierdie stadium van jou bespreking kan jy ook ’n gedagte uit die jongste tydskrifte of uit ’n brosjure inbring. As jy aan die tydskrifwerk deelneem, kan jy ’n geskikte punt uit die artikel “Hoop oorwin wanhoop!” in Die Wagtoring van 1 Julie kies. As jy die “Kyk”-brosjure aanbied, kan jy gerus vir die huisbewoner op die buiteblad wys hoe die gedagte van behuising en werk vir almal in die prent uitgebeeld word. Jy kan die brosjure oopmaak sodat die huisbewoner die hele prent kan sien.
4 In gebiede waar huisbewoners uiteenlopende probleme het, sal ’n meer aanpasbare inleiding nuttig wees. Jy wil dalk die tweede inleiding in die Redenering-boek onder “Koninkryk” gebruik.
Jy kan sê:
◼“Jesus het ons geleer bid dat God se Koninkryk moet kom en dat Sy wil op die aarde moet geskied net soos in die hemel. Dink jy dat die aarde werklik ’n paradys sal word as God se wil ooit hier sou geskied?” Nadat die huisbewoner geantwoord het, kan jy Openbaring 21:3-5 inlei en lees.
As jy die Regering-brosjure aanbied, kan jy sekere dele uit die inleidingsparagraaf op bladsy 3 kies en dit lees. Let op die verklaring: “Deur middel van die Koninkryk gaan God binnekort ’n einde maak aan oorloë, honger, siekte en misdadigheid.” Vra die huisbewoner watter van hierdie probleme na sy mening die ernstigste is.
As jy “Die Wagtoring” van 15 Julie aanbied, kan jy sê:
◼“Baie mense wil graag glo dat hierdie belofte vervul sal word, maar hulle is nie seker of die Bybel ’n betroubare gids is nie. Ek is seker dat jy hierdie artikel: ‘Weerspreek die Bybel homself?’ geloofversterkend sal vind.”
5 Jongmense kan ook die Koninkryksboodskap op ’n doeltreffende wyse aanbied, selfs aan ouer persone.
Jong verkondigers kan die volgende sê wanneer hulle Jesaja 65:21-23 inlei:
◼ “Ek weet dat u as ’n ouer persoon baie meer lewensondervinding as ek het, maar hierdie teks is vir ons almal bemoedigend.”
6 Maak seker dat jy sorgvuldige aantekeninge maak van enige lektuur wat jy by mense gelaat het, en dui aan watter brosjure of tydskrif die huisbewoner geneem het. Jy sal hierdie inligting nodig hê wanneer jy teruggaan om die belangstelling aan te wakker.