Vind ten volle baat by velddiensvergaderinge
1. Hoe kan velddiensvergaderinge ons help?
1 Doeltreffende velddiensvergaderinge moedig ons werklik aan en gee ons praktiese leiding voordat ons in die bediening uitgaan. Dit stel ons in staat om aan groepsgetuieniswerk deel te neem, sodat ons wedersydse ondersteuning en opleiding kan ontvang (Spr. 27:17; Pred. 4:9, 10). Wat kan ons doen om ten volle by hierdie vergaderinge baat te vind?
2. Wat kan die broer wat die groep lei, bespreek?
2 Die broer wat die groep lei: Spesifieke inligting vir bespreking by hierdie vergaderinge word gewoonlik nie vooraf voorsien nie. Daarom is goeie voorbereiding nodig as jy die groep gaan lei. Moenie outomaties beplan om die dagteks te bespreek nie, hoewel jy dit in die bespreking kan insluit as dit direk met die bediening verband hou. Maak hierdie vergadering leersaam, maar hou dit eenvoudig. Dit is nie nodig om baie gesprekspunte uit verskillende publikasies te hersien nie. Moedig die broers aan om die Bybel te gebruik. Dink aan wat van praktiese waarde sal wees vir dié wat op daardie dag aan die getuieniswerk gaan deelneem. Byvoorbeeld, jy kan ’n aanbieding bespreek of demonstreer. Jy besluit dalk om iets te hersien uit die Redenering-boek, die Bedieningskool-boek of ’n onlangse deel op die Diensvergadering. By ander geleenthede kan jy bespreek hoe ’n mens ’n moeilike situasie kan hanteer wat in julle gebied kan ontstaan, of jy kan bespreek hoe om belangstelling verder te ontwikkel en Bybelstudies te begin, veral as daar baie is wat herbesoeke gaan doen. Wees entoesiasties en positief, ongeag wat jy gaan bespreek.
3. Hoe lank moet die vergadering wees, en wat moet gedurende daardie tyd bereik word?
3 Begin die vergadering op tyd, al weet jy dat party laat gaan wees. Lê goeie oordeel aan die dag wanneer jy die groepe organiseer, en voorsien gebied aan dié wat dit nodig het. Die vergadering moenie langer as 10 tot 15 minute wees nie, en dit moet korter wees as dit op ’n gemeentelike vergadering volg. Voordat jy die vergadering afsluit, moet almal weet met wie en waar hulle gaan werk. Die vergadering moet met gebed afgesluit word.
4. Wat sal almal help om ten volle baat te vind by velddiensvergaderinge?
4 Jy kan help: Soos in die geval van gemeentelike vergaderinge, toon ons respek vir Jehovah en bedagsaamheid teenoor ander deur betyds daar te wees. Neem deel aan die bespreking. Die broer wat die groep lei, kan iemand toewys om saam met jou te werk, of jy kan voor die vergadering jou eie reëlings tref. As jy verkies om jou eie reëlings te tref, moet jy probeer om ‘verruim te word’ deur met verskillende verkondigers te werk en nie net met goeie vriende nie (2 Kor. 6:11-13). Moenie ná die vergadering die reëlings verander nie, en vertrek onmiddellik na die gebied.
5. Wat is die doel van velddiensvergaderinge?
5 Die doel van velddiensvergaderinge is dieselfde as dié van ander gemeentelike vergaderinge. Dit word gereël sodat ons “op mekaar [kan] ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Heb. 10:24, 25). As ons probeer om by hierdie vergaderinge baat te vind, sal ons gehelp word om ons bediening uit te voer—inderdaad ’n ‘goeie werk’!