Velddiensvergaderinge wat hulle doel dien
1. Watter doel dien velddiensvergaderinge?
1 By een geleentheid het Jesus met 70 van sy dissipels vergader voordat hulle op ’n predikingsveldtog gegaan het (Luk. 10:1-11). Hy het hulle aangemoedig deur hulle daaraan te herinner dat hulle nie alleen sou wees nie en dat hulle deur “die Heer van die oes”, Jehovah, gerig word. Hy het hulle ook instruksies gegee wat hulle toegerus het om die werk te doen en het hulle in groepies van twee georganiseer. Vandag dien die vergaderinge wat ons hou voordat ons in die bediening uitgaan, ’n soortgelyke doel—om ons aan te moedig, toe te rus en te organiseer.
2. Hoe lank moet ’n velddiensvergadering duur?
2 Tans duur ’n velddiensvergadering 10 tot 15 minute, wat die organisering van die groepe, die toewysing van gebied en ’n gebed insluit. Dit word nou verander. Vanaf April sal ’n velddiensvergadering vyf tot sewe minute duur. Maar wanneer dit op ’n ander gemeentelike vergadering volg, moet dit selfs korter wees, aangesien diegene wat dit bywoon, reeds ’n goeie skriftuurlike bespreking geniet het. Kort velddiensvergaderinge sal almal in staat stel om meer tyd in die bediening deur te bring. Wat meer is, as pioniers of verkondigers al voor die velddiensvergadering begin preek het, word hulle werk net kortliks onderbreek.
3. Hoe kan velddiensvergaderinge gereël word sodat die verkondigers die grootste voordeel daaruit sal trek?
3 Velddiensvergaderinge moet gereël word sodat die verkondigers die grootste voordeel daaruit sal trek. In baie gemeentes is dit voordelig dat velddiensgroepe afsonderlik eerder as op een plek vergader. Dit maak dit dalk makliker vir verkondigers om by die velddiensvergadering en miskien selfs by die gebied te kom. Verkondigers kan gou georganiseer word, en dit is moontlik makliker vir groepopsieners om deeglik aandag te skenk aan dié onder hulle sorg. Die liggaam van ouer manne kan op grond van plaaslike omstandighede besluit wat die beste is. Voordat die vergadering met ’n kort gebed afgesluit word, moet almal weet waar en saam met wie hulle gaan werk.
4. Waarom moet velddiensvergaderinge nie as minder belangrik as ander vergaderinge beskou word nie?
4 Nie minder belangrik as ander gemeentelike vergaderinge nie: Omdat velddiensvergaderinge gehou word tot voordeel van diegene wat in die bediening uitgaan, word dit moontlik nie deur die hele gemeente bygewoon nie. Maar dit beteken nie dat dit ligtelik opgeneem of as minder belangrik as ander gemeentelike vergaderinge beskou moet word nie. Soos al ons vergaderinge, is velddiensvergaderinge ’n voorsiening van Jehovah wat ons in staat stel om mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor (Heb. 10:24, 25). Daarom moet die broer wat dit hou, goed voorbereid wees sodat die bespreking Jehovah sal vereer en diegene wat dit bywoon, tot voordeel sal strek. Indien prakties, moet verkondigers wat in die bediening uitgaan, ’n poging aanwend om die velddiensvergadering by te woon.
Velddiensvergaderinge moenie ligtelik opgeneem of as minder belangrik as ander gemeentelike vergaderinge beskou word nie
5. (a) Watter rol speel die diensopsiener daarin om velddiensvergaderinge te reël? (b) Hoe moet ’n suster ’n velddiensvergadering hou?
5 Voorbereiding deur die broer wat die leiding neem: Iemand kan slegs goed voorbereid wees om ’n vergaderingdeel te behartig as hy die toewysing vooraf ontvang. Dit is ook die geval met betrekking tot velddiensvergaderinge. Wanneer velddiensgroepe afsonderlik bymekaarkom, hou groepopsieners of hulle assistente natuurlik die vergadering vir hulle groep. Maar wanneer die gemeente ’n gekombineerde velddiensvergadering sal hê, sal die diensopsiener iemand toewys om dit te hou. Party diensopsieners gee ’n rooster aan al die toegewese broers en sit ook ’n afskrif daarvan op die kennisgewingbord. Die diensopsiener moet goeie oordeel aan die dag lê wanneer hy broers hiervoor toewys; hy moet in gedagte hou dat die gehalte van hierdie vergaderinge ook sal afhang van die onderrig- en organiseervermoë van diegene wat dit hou. As geen ouer man, bedieningskneg of ander bekwame gedoopte broer beskikbaar is om dit op sekere dae te hou nie, moet die diensopsiener ’n bekwame gedoopte suster toewys om dit te doen.—Sien die artikel “Wanneer ’n suster die velddiensvergadering moet hou”.
6. Waarom is dit belangrik dat die broer wat toegewys is om die velddiensvergadering te hou, goed voorberei?
6 Wanneer ons ’n toewysing vir die Teokratiese Bedieningskool of Diensvergadering ontvang, neem ons dit ernstig op en berei ons goed voor. Min van ons sal eers op pad na die vergadering begin dink aan wat ons gaan sê. ’n Toewysing om ’n velddiensvergadering te hou, moet net so ernstig opgeneem word. Noudat die velddiensvergadering korter sal wees, is goeie voorbereiding baie belangrik sodat die vergadering betekenisvol sal wees en betyds sal eindig. Goeie voorbereiding sluit ook in dat gebied vooraf verkry word.
7. Wat kan die broer wat die velddiensvergadering hou, bespreek?
7 Wat om te bespreek: Aangesien omstandighede van gebied tot gebied verskil, voorsien die getroue slaaf nie ’n skets vir elke velddiensvergadering nie. Die venster “Wat jy gedurende ’n velddiensvergadering kan bespreek” noem ’n paar moontlikhede. Die vergadering sal gewoonlik in die vorm van ’n bespreking gehou word. Soms kan dit ’n goed voorbereide demonstrasie of ’n gepaste video op jw.org insluit. In sy voorbereiding moet die broer wat die velddiensvergadering hou, dink aan wat diegene wat daardie dag in die bediening uitgaan, sal aanmoedig en toerus.
In sy voorbereiding moet die broer wat die velddiensvergadering hou, dink aan wat diegene wat daardie dag in die bediening uitgaan, sal aanmoedig en toerus
8. Wat kan die voordeligste wees om Saterdae en Sondae gedurende velddiensvergaderinge te bespreek?
8 Op Saterdae bied die meeste verkondigers byvoorbeeld Die Wagtoring en Ontwaak! aan. Baie wat op Saterdae in velddiens uitgaan, gaan nie in die week uit nie, en daarom is dit dalk vir hulle moeilik om die aanbieding wat hulle gedurende hulle aand vir Gesinsaanbidding geoefen het, te onthou. Dit kan dus voordelig wees as die broer wat die leiding neem, een van die voorgestelde aanbiedings op die agterkant van Ons Koninkryksbediening hersien. Ander opsies is ook om te bespreek hoe ’n plaaslike nuusberig, gebeurtenis of vakansiedag by ’n tydskrifaanbieding ingesluit kan word of hoe die grondslag vir die volgende besoek gelê kan word as iemand die tydskrifte aanvaar. As party by die velddiensvergadering reeds die spesifieke tydskrifte aangebied het, kan die broer wat die velddiensvergadering hou, hulle vra vir ’n paar kort wenke of aanmoedigende ondervindinge. Op Sondae kan iets soortgelyks met betrekking tot die aanbod vir die maand gedoen word. Studiepublikasies, soos die Goeie nuus- en Luister en lewe-brosjure en die Leer Bybel-boek kan enige dag aangebied word, en daarom kan die broer wat die leiding neem, kortliks bespreek hoe een van hierdie publikasies aangebied kan word.
9. Wat kan gedurende die naweek bespreek word wanneer die gemeente aan ’n spesiale kampanje deelneem?
9 As die gemeente oor die naweek aan ’n spesiale kampanje deelneem, kan daar by die velddiensvergadering bespreek word hoe om die jongste tydskrifte saam met die uitnodiging of traktaat aan te bied of wat om te doen wanneer iemand belangstelling toon. Nog ’n opsie is om ondervindinge te bespreek wat die belangrikheid van sulke kampanjes beklemtoon.
10, 11. Waarom is voorbereiding deur die verkondigers belangrik sodat ’n velddiensvergadering suksesvol kan wees?
10 Voorbereiding deur die verkondigers: Verkondigers dra ook by tot die sukses van ’n velddiensvergadering. As hulle vir velddiens voorberei, moontlik gedurende hulle gesinsaanbidding, sal hulle iets hê om aan ander verkondigers mee te deel. Goeie voorbereiding sluit ook in dat almal tydskrifte en lektuur verkry voordat hulle by die velddiensvergadering aankom sodat almal sonder versuim na die gebied kan gaan.
11 Dit is ook belangrik om te beplan om ’n paar minute voor die begin van die velddiensvergadering daar aan te kom. Ons probeer natuurlik betyds wees vir al die gemeentelike vergaderinge. Maar dit kan veral ontwrigtend wees wanneer ons laat by ’n velddiensvergadering aankom. Hoe so? Die broer wat die leiding neem, neem ’n paar faktore in ag voordat hy die groep organiseer. As daar net ’n paar verkondigers is, sal hy dalk besluit om almal na ’n gebied te stuur wat al gedeeltelik gedek is. As party na die velddiensvergadering geloop het en die gebied ver is, sal hy moontlik hierdie verkondigers saam met dié met voertuie laat werk. As dit ’n gebied met baie misdaad is, sal hy broers miskien vra om saam met of naby groepe susters te werk. Hy sal dalk verkondigers wat moeilik loop, in ’n straat laat werk wat gelyk is of waar die huise minder trappe het. Nuwer verkondigers sal moontlik aangewys word om saam met ervare verkondigers te werk. Maar as verkondigers laat is, sal die reëlings dikwels ter wille van die laatkommers gedeeltelik of heeltemal gewysig moet word. Daar is natuurlik soms ’n geldige rede waarom ons laat is. Maar as ons gewoonlik laat is, kan ons ons afvra of dit is omdat ons ’n gebrek aan waardering vir velddiensvergaderinge het of omdat ons versuim om ons sake vooraf te organiseer.
12. Wat moet jy oorweeg as jy gewoonlik jou eie velddiensreëlings tref?
12 Verkondigers wat vir velddiens bymekaarkom, kan hulle eie reëlings voor die vergadering tref, of hulle kan dat die broer wat die leiding neem, ’n velddiensmaat aan hulle toewys. Kan jy, as jy gewoonlik jou eie reëlings tref, “verruim word” deur saam met verskillende verkondigers te werk eerder as altyd saam met dieselfde goeie vriende? (2 Kor. 6:11-13). Kan jy van tyd tot tyd reël om saam met ’n nuwer verkondiger te werk om hom te help om sy onderrigvermoë te verbeter? (1 Kor. 10:24; 1 Tim. 4:13, 15). Luister aandagtig na enige instruksies wat jy gegee word, insluitende instruksies oor waar jy moet begin preek. Moenie die reëlings ná afloop van die vergadering verander nie, en vertrek onmiddellik na die gebied.
13. Hoe sal velddiensvergaderinge ons tot voordeel strek as al die betrokkenes pligsgetrou is en hulle deel doen?
13 Die 70 wat Jesus vir die bediening georganiseer het, het “met vreugde teruggekeer” (Luk. 10:17). Jesus se vergadering met hulle voordat hulle begin preek het, het hulle ongetwyfeld gehelp om sukses te behaal. Velddiensvergaderinge kan vandag net so voordelig wees. As al die betrokkenes pligsgetrou is en hulle deel doen, sal velddiensvergaderinge ons aanmoedig, toerus en organiseer om ons opdrag uit te voer om “’n getuienis vir al die nasies” te gee.—Matt. 24:14.