Doeltreffende velddiensvergaderinge
1 Ywer vir die velddiens het gedurende die afgelope paar jaar merkbaar toegeneem. Dit kan deels wees omdat God se volk beter opgelei word om die goeie nuus aan ander te verkondig. Leersame velddiensvergaderinge speel ’n belangrike rol in hierdie onderrigtingsproses.
2 Hierdie vergaderinge moet die verstande en harte van die broers en susters voorberei vir die werk wat hulle gaan doen. Diegene wat velddiens doen, waardeer vergaderinge wat goeie, praktiese punte en wenke beklemtoon wat hulle sal help om bekwaam in hulle predikingswerk te wees.
3 Die persoon wat aangestel word om die vergadering waar te neem, moet vooraf dink hoe hy dit interessant sowel as leersaam kan maak, sodat die aanwesiges daarby baat sal vind. Die dagteks kan bespreek word, veral as dit op velddiens van toepassing is. Punte uit ‘Velddiensvergaderinge’ moet gebruik word. Soms sal dit gepas wees om gedeeltes uit Redenering uit die Skrif te bespreek. Gevolglik behoort die aanwesiges beter toegerus te voel om met hulle bediening voort te gaan. Die velddiensvergadering moet kort wees, nie langer as 15 minute nie.
4 Hoe kan jy help om velddiensvergaderinge nuttig te maak? Deur die materiaal voor die tyd te hersien en aan gedagtes te dink wat ander sal help. As jy sukses behaal met die toepassing van wenke wat bespreek word, kan jy nuttige kommentare lewer.
5 Voordat daar met gebed afgesluit word, moet die persoon wat die vergadering lei gewoonlik seker maak dat diegene in die groep weet saam met wie en waar hulle gaan werk. Daar moet genoeg gebied toegewys word sodat almal velddiens kan doen so lank as hulle wil. Na die gebed moet almal na die gebied gaan en so hulle tyd ten beste benut.
6 Weldeurdagte velddiensvergaderinge kan ons baie help om georganiseerd te wees en die boodskap doeltreffender aan te bied. Talle berig dat hulle yweriger in die bediening is en langer werk danksy behoorlike onderrig by velddiensvergaderinge.